
'n F-16-vegvliegtuig (Foto: Military Material | Pixabay)
Pensioenfondskantoor beset
Sowat 20 mense van die aktivistegroep Extinction Rebellion het Maandag die ingangsportaal van ’n kantoor van die pensioenfonds ABP in Amsterdam beset. Hulle eis dat die fonds onmiddellik beleggings in fossielbrandstof staak.
Die besetting is beëindig nadat die polisie ingegryp het. Onder die betogers tel onderwysers en staatsamptenare wat by die ABP-fonds geregistreer is. Volgens die betogers is die wêreld in ’n greep van ’n klimaatnoodtoestand en is dit noodsaaklik om alles in te span om die wêreld leefbaar te hou. Die dagblad Trouw berig dat ABP tans sowat €15 miljard (sowat R250 miljard) in fossielbrandstof belê. Extinction Rebellion het twee weke gelede ook ’n ander gebou in Heerlen beset. Die optrede kan beskou word in die lig van die onlangse oorwinning in die hof van die drukgroep Milieudefensie teen die oliereus Shell om sy koolstofuitlaatgasse onmiddellik te laat daal.
Met @NLRebellion bezetten we vandaag het kantoor van @abppensioen op de #Zuidas. We gaan niet weg voordat het #ABP de 15 miljard aan investeringen in de fossiele industrie heeft teruggetrokken. @ABPFossielvrij #klimaatnoodtoestand #duurttelang pic.twitter.com/uBd3MFrXs1
— lucas winnips (@LWinnips) July 5, 2021
Vlieënier spring uit nog voordat vliegtuig opstyg
’n Belgiese F-16-vegvliegtuig het die afgelope week by die lugmagbasis in Leeuwarden in Nederland teen ’n gebou gebots. Die voorval het plaasgevind toe die vliegtuig kennelik vanself begin beweeg het en die vlieënier die uitskietstoel gebruik het. Die vlieënier het net buite die terrein van die basis geland en is in die hospitaal opgeneem. Niemand in die gebou is beseer nie.
Volgens die lugmag blyk dit dat die vliegtuig vanself begin versnel het. Dit is nog nie duidelik hoe dit gebeur het nie.
Vliegtuigspotter ziet F16-ongeluk in Leeuwarden: 'Ik dacht eerst aan een stunt' https://t.co/HHnkpvql5G pic.twitter.com/GlFaUm8oEd
— RTV Noord (@rtvnoord) July 1, 2021
Covid-infeksies styg weer
Die dalende tendens van besmettings met die koronavirus is weer iets van die verlede. Verskeie Europese lande, waaronder Nederland, het die afgelope paar dae weer ’n styging in infeksies aangeteken, ná weke van dalende syfers. Waar daar verlede week nog 552 nuwe besmettings per dag aangeteken is, loop die syfer die afgelope paar dae in die duisende in Nederland. In België is die stygings in besmettings nog laag. Die vernaamste rede vir die styging is die invloed van die Delta-variant van COVID-19, wat ook verantwoordelik is vir die meeste infeksies in Suid-Afrika. Een van die brandpunte in Nederland word verbind met ’n kuierplek in Enschede waar verlede week sowat 600 jongmense feesgevier het. Alle feesgangers moes ’n negatiewe toets toon, maar 165 is intussen positief vir die virus getoets. Geen noemenswaardige styging is nog in hospitaalopnames in Nederland en België aangeteken nie.
Ons is jammer oor slawerny
Die burgemeester van Amsterdam, Femke Halsema, het om verskoning gevra oor slawerny (Foto: Harold Pereira, CC BY 3.0, via Wikimedia Commons)
Die burgemeester van Amsterdam, Femke Halsema, het die afgelope week tydens Keti Koti – die viering van die afskaffing van slawerny in Suriname – namens die stad om verskoning gevra vir die stad se bande met Nederland se slawernyverlede.
Ik ben zo trots op mijn stad, Amsterdam, vandaag.
Werd emotioneel van de woorden die burgemeester #Halsema sprak. Verantwoordelijkheid nemen en erkennen van een gruwelijk verleden is hoe je gezamenlijk een toekomst kan maken #ketikoti #slavernij #excuses pic.twitter.com/3nFc5NPxnK
— Niels Ras (@nielsras) July 1, 2021
Vir baie nasate van tot slaafgemaaktes in Nederland was dit ’n belangrike moment – dat ’n stad uiteindelik verantwoordelikheid neem vir sy slawernyverlede. Die bestuursvoorsitter van die Nasionale Instituut vir die Nederlandse Slawernyverlede, Linda Nooitmeer, het aan NOS gesê die verskoning is ’n erkenning dat slawehandel ’n misdaad teen die mensdom was. Die direkteur van die organisasie The Black Archives, Mitchell Esajas, sê egter die stad moet meer doen om seker te maak dat kinders met ’n migrasieagtergrond nie agterstande op skool ontwikkel nie.
Die Nederlandse staat het egter nog nie enige verskoning aangebied nie en demissionêre minister-president Mark Rutte het in Februarie laat blyk dat die huidige kabinet nie van plan is om enige verskoning aan te bied nie. ’n Verslag van ’n advieskomitee van die Ministerie van Binnelandse Sake wat onlangs uitgereik is, beveel egter aan dat die staat wel ’n verskoning moet aanbied.
Komponis Louis Andriessen oorlede
Een van die bekendste Nederlandse komponiste van die 20ste eeu, Louis Andriessen, is verlede Donderdag in die ouderdom van 82 oorlede. Andriessen het aan Alzheimer se siekte gely en was ten tye van sy afsterwe in ’n versorgingstehuis in Weesp naby Amsterdam. Andriessen het ’n belangrike rol gespeel in die Nederlandse ensemblekultuur en word as een van die grondleggers van die sogenaamde Haagse Skool beskou. Hy het vir verskillende genres geskryf, maar het veral ’n voorliefde vir musiek vir teater, literatuur, dans en rolprente gehad.
Andriessen was bekend vir sy teenkanting teen konserwatisme van die musiekwêreld en het in die jare sestig na meer waardering vir moderne klassieke musiek gestreef. Met sy minimalistiese komposisie De staat het Andriessen in die jare sewentig internasionale roem verwerf toe hy in 1977 die Matthijs Vermeulenprys asook die eerste prys van die International Rostrum of Composers verower het.
Koningspaar op staatsbesoek in Duitsland
Koning Willem-Alexander en koningin Máxima van Nederland het Maandag vir hul eerste staatsbesoek in Duitsland aangekom. Die koning, self ’n bekwame vlieënier, was in die stoel van die eerste offisier van die vliegtuig toe dit in Berlyn neerstryk, waar hulle met ’n saluut van 21 skote begroet is. Die koningspaar gaan by president Steinmeier in Slot Bellevue – die ampswoning van die Duitse president – tuis. Die koningspaar sal ook nog vir oulaas bondskanselier Angela Merkel ontmoet voordat sy uittree. Op die reisplan staan ’n staatsbanket, projekte met betrekking tot Nederland, kulturele besoeke en ’n fotosessie. Ministers Kaag van Binnelandse Sake, Bijleveld van Verdediging en De Jonge van Volksgesondheid vergesel die koningspaar na Berlyn. Op sosiale media word egter kritiek teen die besoek uitgespreek en talle mense op Twitter wou weet waarom die afvaardiging nie met die trein kon reis wat aansienlik minder skadelik vir die omgewing is nie.
Misschien kan de koning de diploma’s halen om zelf de koninklijke trein 🚂 te besturen? Handig voor (staats)bezoeken in Europa. De reis naar Berlijn had natuurlijk ook met de trein 🚆 gemoeten voor het milieu en zeker als Koninklijk voorbeeld.
— Regina Visscher (@ReginaVisscher) July 5, 2021
Koning Willem-Alexander tydens die staatsbanket by Slot Bellevue:
Koning Willem-Alexander houdt tijdens het staatsbanket in Schloss Bellevue een toespraak:⁰https://t.co/8ZOcaJPwqc#staatsbezoek #NLGermany pic.twitter.com/sxGxaxZA2w
— Koninklijk Huis (@koninklijkhuis) July 5, 2021
Die koningspaar voor die bekende Brandenburger Tor in Berlyn saam met burgemeester Müller:
Na een fotomoment bij de Brandenburger Tor met burgemeester Müller is er een gesprek in het raadhuis van de stad Berlijn: het Rotes Rathaus. Het Koninklijk Paar tekent het Gouden Boek van Berlijn. #staatsbezoek #NLGermany pic.twitter.com/zl6fkYCzpE
— Koninklijk Huis (@koninklijkhuis) July 5, 2021