Die verskyning van ’n nuwe politieke boek het opnuut die kollig laat val op staatskaping in Suid-Afrika en die verskillende wyses waarop dit manifesteer – dié keer met die sekretaris-generaal van die regerende ANC, Ace Magashule, as die hoofkarakter in die verhaal.
Ná die opspraak wat Jacques Pauw se boek The President’s keepers – those keeping Zuma in power and out of prison (Tafelberg) in 2017 gewek het én die nagenoeg 200 000-rekordverkope daarvan, is die vraag of Pieter-Louis Myburgh se Gangster state – unravelling Ace Magashule’s web of capture (Penguin Random House) dieselfde soort impak sal hê.
Terwyl potensiële verkope moeilik is om te voorspel, het die boek reeds sedert die vrystelling daarvan Sondag die koerantvoorblaaie oorheers, sowel as TV- en radiobesprekings. In die taal van sosiale media, het dit ook op Twitter ge-“trend”.
Magashule is immers, naas Cyril Ramaphosa as ANC-leier, die magtigste politikus in die land; Magashule is óók, opdat ons nie vergeet nie, ’n ondersteuner van Ramaphosa se voorganger, Jacob Zuma, wat beskou word as die leier wat staatskaping “aanvaarbaar” gemaak het.
Pauw se boek het die gunste en gawes blootgelê wat Zuma van verskeie sakemense wat deur staatskontrakte verryk is, ontvang het. Dit is hier waar die berugte Gupta-familie ter sprake kom; en noudat die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping goed op dreef is, is die “omkooprol” van ’n maatskappy soos Bosasa ook alombekend.
Myburgh fokus op die handelinge van Magashule, wat as voormalige premier van die Vrystaat glo ’n gewoonte gehad het om ’n 10%-“kommissie” te vereis van alle staatskontrakte wat in die provinsie toegeken is; ’n “bedankingsfooi” sou dit seker genoem kon word, behalwe dat dit onwettig is en iets heeltemal anders is as (ook maar omstrede) ’n “fasiliteringsfooi”, wat as algemene praktyk in die sakewêreld beskou word.
Maar hoe die ANC dit reggekry het om die boek van 300 bladsye só vinnig gelees te kry om op die dag wat dit in die winkels beland het, reeds ’n snydende persverklaring daaroor uit te reik, is een van die tergende vrae – nee, grappe – van die week. Nogtans het die party die boek as “drognuus” (fake news) verwerp en die skrywer opsluit uitgekryt as deel van ’n sogenaamde “stratcom”-projek, gemik op die diskreditering van die ANC.
.............................
Maar hier is iets om aan te kou, oor te tob: Wat is uiteindelik die waarde van hierdie boeke vir reg en geregtigheid en die stryd teen korrupsie of staatskaping? Word diegene wat in die boeke by skelmstreke betrek word, ooit deur die wetstoepassingsagentskappe vervolg?
.............................
“Stratcom”: dié was ’n koverte projek van die apartheidstaat waardeur op politieke vyande gespioeneer is, vals inligting oor hulle aan die media gelek is en die regering se (wan)dade as geloofwaardig bemark is.
Om ’n skrywer soos Myburgh te assosieer met “drognuus” en “koverte bedrywighede” is pateties, of spreek eintlik van desperaatheid aan die kant van Magashule en die ANC. Myburgh het reeds deur sy ondersoekende joernalistieke werk en sy eerste boek gewys van watter etiese stoffasie hy as skrywer gemaak is: The Republic of Gupta (Penguin Random House), wat in 2017 die lig gesien het, handel oor die Guptas se sake-aktiwiteite en hoe hulle ’n posisie van mag en invloed oor Zuma bekom het.
Soos vermeende oortreders in die geval van Republic of Gupta en The President’s keepers die skrywers met regstappe gedreig het, is dit nou ook wat Myburgh oor Gangster state in die gesig staar. Dis altyd die eerste, maklikste, simpelste verweer – en gewoonlik loop dit op niks uit nie.
En tog: Toe Magashule met die aanvang van die nuwe week gevra is of hy bekommerd is oor die berigte van die naweek, antwoord Die Onaantasbare: “Die enigste ding waaroor ek bekommerd is, is die regsaksie waarmee ek gaan begin.”
Nie die skrywer of die uitgewery het egter van bangheid gebewe nie.
Maar hier is iets om aan te kou, oor te tob: Wat is uiteindelik die waarde van hierdie boeke vir reg en geregtigheid en die stryd teen korrupsie of staatskaping? Word diegene wat in die boeke by skelmstreke betrek word, ooit deur die wetstoepassingsagentskappe vervolg? Of is die oponthoud in sulke gevalle dalk die verskoning dat die polisie of prioriteitmisdaadsowerhede, soos die Valke, eers hul eie ondersoeke (deeglik) moet doen, en dan is daar skielik nie genoeg ondersoekers om die werk af te handel nie; of die dossiere sal sommer in die niet verdwyn?
Hoop het onlangs egter ’n nuwe gesig gekry met Ramaphosa se aanstelling van ’n nuwe hoof vir die NVG (Nasionale Vervolgingsgesag). Haar naam is Shamila Batohi, wat voorheen by die Internasionale Strafhof (ICC) in Den Haag werksaam was, en nóg vroeër die vervolgingshoof in KwaZulu-Natal, Zuma se tuisprovinsie, was. (Dit is sy wat gesorg het vir ’n suksesvolle vervolging van Hansie Cronjé, die gestorwe voormalige kaptein van Suid-Afrika se nasionale krieketspan, die Proteas.)
Batohi se spreekwoordelike vurk is reeds oorlaai met hooi omdat haar voorganger, Shaun Abrahams, skaapagtig deur die politici aan die neus rondge(mis)lei is. Indien sy en haar span ondersoekers egter toegewyd aan Myburgh se nuutste boek begin lees, sal hulle reeds genoeg skietgoed hê om hom ten minste vir ondervraging in te roep.
O, wag, daar is nou net die probleem dat ’n algemene verkiesing op 8 Mei op hande is – en jy wil tog nie hê iemand moet weer, soos met Zuma se bedrogklagte, vervolging vryspring weens die agterdog dat die tydsberekening van die beplande vervolging ’n politieke motief gehad het nie.
Maar ná 8 Mei is daar tog altyd 9 Mei.
Buro: MvH