.....
‟Hoe moeilik kan dit dan nou vir ’n voormalige bevrydingsbeweging wees, een wat reeds sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika in 1994 regeer, om die bevindinge van ’n 1998-verslag in werking te stel? Reeds 22 jaar het verloop sedert dié verslag aan oudpres Nelson Mandela oorhandig is – hy is in Desember 2013 na sy graf sonder dat die beloofde reparasie aan slagoffers behoorlik toegepas is.”
.....
Ses dae gelede, in ’n byna terloopse verwysing in ’n mediaverklaring, is Suid-Afrikaners deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die regerende ANC aan die “onafgehandelde besigheid” van die Kommissie vir Waarheid en Versoening (WVK) herinner.
Dit sou nie vreemd opval as bitter min mense – én media-organisasies – hieraan aandag gegee het nie; nié in ’n jaar waarin die ontwrigting van die Covid-19-pandemie in ’n ieder en ’n elk se gedagtes voorop is nie.
Die verklaring van sewe bladsye, voorgelees deur pres Cyril Ramaphosa as partyleier, begin met ’n reaksie op die onlangse (munisipale) tussenverkiesings en handel verder oor die tweede vlaag Covid-19-infeksies wat die land nou tref.
Die uitkomste van die NUK-vergadering volg daarna. Waardering word uitgespreek vir die politieke oorsig wat verskaf is, en ook vir die nasionale werkkomitee se verslag. Klem word gelê op die kommer wat heers oor die erge voorkoms van geslagsgebaseerde geweld; pleidooie word gelewer dat landsburgers ag moet slaan op die potensieel “dodelike” impak van ’n tweede golf korona-infeksies; gedagtes word gedeel oor die hantering van die party se geloofwaardigheid en integriteit te midde van ’n vlaag korrupsie waaronder dit tot op die hoogste vlak gebuk gaan. Dan word aandag gegee aan die stand van organisatoriese strukture, soos die leierlose jeugliga en verhoudings met alliansievennote.
Ook kwessies soos die openbare bekgevegte wat van tyd tot tyd tussen leiersfigure ontstaan, die geskil in die geledere van die ANC se militêre veterane, die implementering van die land se ekonomiese herstel- en transformasieplan, en kommentaar oor die afleggingsproses by die openbare uitsaaier, die SAUK, kry aandag.
As jy nie fyn na Ramaphosa geluister het nie, óf nie agterna fyn gelees het nie, kon die vergadering se besluite rakende “uitstaande WVK-sake” jou oor (of oog) maklik ontgaan het. Dit verskyning op bladsy ses, ingedruk tussen verwysings na verhoudings in die alliansie (met die vakbondfederasie Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party) en interne ongedissiplineerdheid wat lei tot oortredings van die ANC se kommunikasieprotokol.
Die verwysing na die WVK lui, kortom, soos volg: Dat die NUK kennis geneem het van die gesprekke van die party-afvaardiging, onder leiding van adjunksekretaris-generaal Jessie Duarte, met die Stigting vir Menseregte en Families van Slagoffers rakende die “uitstaande apartheidsera-misdade” wat uit die WVK-proses voortspruit.
.....
“Die ANC herbevestig vervolgens sy steun daarvoor dat álle onafgehandelde Kommissie vir Waarheid en Versoening (WVK)-aangeleenthede – ondersoeke, vervolgings en reparasie – in die belang van oorgangsgeregtigheid (‛transitional justice’), afsluiting vir families en die proses van ‛nasionale genesing’ dringend aandag moet geniet. Mooi, nè? Of dalk nie.”
.....
Die ANC herbevestig vervolgens sy steun daarvoor dat álle onafgehandelde WVK-aangeleenthede – ondersoeke, vervolgings en reparasie – in die belang van oorgangsgeregtigheid (“transitional justice”), afsluiting vir families en die proses van “nasionale genesing” dringend aandag moet geniet.
Mooi, nè? Of dalk nie.
Hoe moeilik kan dit dan nou vir ’n voormalige bevrydingsbeweging wees, een wat reeds sedert die aanvang van demokrasie in Suid-Afrika in 1994 regeer, om die bevindinge van ’n 1998-verslag in werking te stel? Reeds 22 jaar het verloop sedert dié verslag aan oudpres Nelson Mandela oorhandig is – hy is in Desember 2013 na sy graf sonder dat die beloofde reparasie aan slagoffers behoorlik toegepas is.
Moontlik ’n nog erger aanklag teen die ANC – of wag, teen die hele land en haar mense – is dat Versoeningsdag op 16 Desember geen werklike impak het as ’n dag waarop daar oor die “groot trek” deur kolonialisme en apartheid en die menseregtevergrype wat daarmee gepaard gegaan het, gereflekteer behoort te word nie. Dit is veronderstel om ’n dag te wees waarop landsburgers besin oor “onvoltooide vrede”, haak-en-tak-eenheid en hoe sosiale kohesie bevorder kan word.
Maar dit gebeur nie gewoonlik so nie. Ons “versoen” eerder apart van mekaar (of in ons apartheidsgroepe), asof dit net nóg ’n dag is wat ons gegun word om te ontspan, te kuier, saam met familie te braai. Ons het, toegegee, soveel ander kwessies om ons oor te bekommerd: werkloosheid, trae ekonomiese groei, behuisingstekorte ... Voeg daarby die grootskaalse korrupsie en staatskaping, wat manifesteer deur die gierigheid van diegene wat toegang tot hulpbronne en die staatskas het. Nou is daar boonop die Covid-19-pandemie met meer as 850 000 Suid-Afrikaners wat al geïnfekteer is en meer as 23 000 wat reeds gesterf het.
Wie dink in sulke omstandighede aan versoening, oorgangsgeregtigheid, afsluiting vir families en nasionale genesing? Om daarvan te vergeet, of dit in ’n mediaverklaring deur die regerende party te versteek, is egter nie ’n luukse wat ’n land met ’n verlede so verdeeld én so bloedig soos ons s’n, kan bekostig nie.
Die spreekwoord lui nie verniet dat beloftes skuld maak nie. Dié skuld (aan die slagoffers) moet betaal word, want hoe weet ons in watter gedaante (en gemoedstoestand) die “skuldeisers” op ’n dag by die deure van die begunstigdes van kolonialisme en apartheid sal opdaag?
Buro: MvH