Oorlog in Oekraïne gaan Suid-Afrikaners se sakke ruk

  • 0

Die Oekraïne-oorlog sal voedsel- en brandstofpryse in Suid-Afrika verder opjaag, sê die DA-leier John Steenhuisen wat die pas afgelope naweek op ’n feitesending in Oekraïne aangekom het.

Steenhuisen, wat op ’n ses dae lange toer in die oorloggeteisterde Oekraïne is, sê Suid-Afrika moet harder begin druk vir vrede en ’n einde aan die konflik tussen Rusland en Oekraïne.

Die DA-leier word uit sommige oorde skerp gekritiseer omdat hy Oekraïne besoek terwyl daar ewe groot nood in Suid-Afrika is wat aandag verdien.

Hy sê egter Rusland se inval in Oekraïne is nie ’n Europese probleem nie, dit is ’n globale probleem. “Die uitkringeffek van hierdie oorlog op ons eie brandstof-, mielie-, kookolie- en kunsmispryse gaan diep ruk aan die sakke van arm Suid-Afrikaners wat reeds nie kan uitkom met hulle geld nie.”

Suid-Afrikaners betaal van vandag af Woensdag aansienlik meer vir diesel, maar effens minder vir petrol. Diesel se prys is tussen 92 en 98 sent per liter hoër, en petrol se prys 12 sent laer. Die prys van paraffien het ook skerp gestyg, met 79,6 sent ’n liter. Die Departement van Minerale Hulpbronne en Energie sê die laer petrolprys is weens ’n sterker rand gedurende die hersieningstydperk.

Steenhuisen sê in ’n verklaring Suid-Afrikaners durf nie maak asof dit ’n oorlog is wat niks met ons te doen het nie. “En ons durf nie voorgee dat dit bewonderenswaardig is om in hierdie situasie ’neutraal’ te bly nie. Wanneer ons duidelike en onmiskenbare bewyse van onreg het, is ons dit aan die slagoffers verskuldig om ’n kant te kies en uit te praat.”

Op die tuisfront in Suid-Afrika is daar gemengde gevoelens oor die DA-leier se besoek aan Oekraïne.

“Ek stem nie saam nie, prysverhogings in SA het weinig te doen met die oorlog in Oekraïne. Kyk nader aan die huis, hel ons Suid-Afrikaners bly daagliks in ’n oorlogsone met hoë misdaad, moord, verkragting, werkloosheid en die lys gaan aan!” was een van die reaksies op Twitter na aanleiding van Steenhuisen se besoek.

“Suid-Afrika moet eers hul eie probleme soos werkloosheid en meer uitsorteer voordat hulle by ’n ander land betrokke wil raak. Ek het my hele lewe in SA geleef en veranderinge moet eers hier geskied voordat ander lande besoek word,” sê iemand anders.

Die radio-omroeper Bongani Bingwa het op Twitter gesê die DA se “sogenaamde feitesending” in Oekraïne is ’n poging van die “Desperate Alliansie” om sy eie doelwitte te probeer bereik. “Aan hoeveel konflikte het hy hom hier in Afrika gesteur? Sy eie agterplaas? Of gaan dit oor die velkleur van diegene wat in die Oekraïne vermoor word?”

DA-ondersteuners het egter in die bres getree vir Steenhuisen. “Dit lyk of Bongani Bingwa vandag vergeet het om sy huiswerk te doen. Ek dink jy sal vind die DA is die enigste party wat betrokke is by sleuteloomblikke in internasionale aangeleenthede waar die regerende party se stille diplomasie of ’neutraliteit' kode vir lafhartigheid is. Die Zimbabwe-krisis het voor Mbeki se oë ontvou!”

Steenhuisen sal die res van die week vlugtelingkampe besoek en met verskeie burgemeesters, goewerneurs, sakeleiers, studente en gewone Oekraïense burgers vergader om eerstehands die gevolge van die Russiese inval en die voortgesette besetting van sommige dele te sien. Hy sê in ’n era van fopnuus en propaganda is dit die enigste manier om werklik te weet wat aan die gebeur is.

Hy sê sy voorganger en staatmaker van Suid-Afrikaanse liberalisme, Helen Suzman, het vroeër volgens hierdie leuse geleef en gewerk. Sy het dikwels hierdie raad aan ander gegee: “Gaan kyk self. Moenie net glo wat die pers vir jou sê nie, moenie vat wat ander mense vir jou sê nie; gaan kyk self.” Dit is die doel van sy besoek. “Ons is dit aan die mense van Oekraïne verskuldig om die ongefiltreerde waarheid te vertel oor wat daar plaasvind, sodat die wêreld verenig kan staan ​​om hierdie onreg tot ’n einde te bring.”

Volgens Steenhuisen is dit is belangrik om te onthou dat ons in ’n superverbinde wêreld leef waar ontwrigtings in een deel groot rimpelings oral elders veroorsaak.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top