Suid-Afrikaners sal die gordel al hoe stywer moet intrek namate die oorlog in Oekraïne ook gewone mense se sak al hoe meer begin raak.
Die impak van Rusland se inval in Oekraïne op die Suid-Afrikaanse ekonomie sal elke persoon in die land nadelig tref, waarsku ekonome en van die land se opposisieleiers.
Data wat hierdie week deur Absa gepubliseer is, wys die Russiese inval het wêreldwyd tot hoër olie- en graanpryse gelei. Dit kan die pryse van sleutelgoedere in Suid-Afrika soos brandstof, brood en sonneblomolie die hoogte laat inskiet.
Boonop kan skerp kommoditeitsprysstygings ook lei tot tweede-orde inflasionêre effekte, byvoorbeeld as openbare vervoer of voedselpryse verhoog word om firmas se hoër brandstofkoste te verreken.
Absa sê selfs die pryse van motors, TV’s en rekenaars kan in die komende maande styg as gevolg van die rimpeleffek wat die oorlog op die land se ekonomie het.
“Elke persoon in Suid-Afrika gaan geraak word deur die nadelige ekonomiese gevolge van die oorlog in Oekraïne – veral diegene wat afhanklik is van basiese voedingstowwe soos brood en meel,” het die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, verlede Dinsdag tydens ’n debat in die parlement oor die oorlog in Oekraïne gewaarsku.
Statistiek wys dat 30% van die koring wat in Suid-Afrika verbruik word, van Oekraïne afkomstig is.
Projeksies dui daarop dat die prys van koringprodukte daarom binne ’n jaar met 27% sal toeneem. Die prys van wit meel sal volgens projeksies met 20% styg en dié van geel meel met 21%.
Ook die DA-leier, John Steenhuisen, het tydens dieselfde debat gewaarsku dat Suid-Afrikaners die impak van stygende brandstof-, koring-, mieliepryse aan hul eie sak sal voel. Eskom sal dit ook moeilik vind om diesel vir sy turbines te verseker wanneer die werklikheid insink dat dit ook ons oorlog is, het Steenhuisen gesê..
Statistiek Suid-Afrika het Woensdag ’n somber prentjie geskets oor die moontlike impak wat die oorlog op die land se verbruikersprysindeks kan hê as gevolg van stygende inflasie en hoër kos- en brandstofpryse.
After decreasing steadily for eight months, annual bread and cereals #inflation jumped to 3,7% in February from 1,5% in January.
Read more here: https://t.co/o6lbAh8wgx#StatsSA #CPI pic.twitter.com/Sq5RNPjlyV
— Stats SA (@StatsSA) March 23, 2022
Met inflasie steeds ver bo die Suid-Afrikaanse Reserwebank se middelpuntteiken word verwag dat monetêrebeleidmakers hierdie week sal voortgaan om koerse te verhoog.
Die bank se monetêrebeleidskomitee vergader vandag (Donderdag) en ontleders voorspel nog ’n verhoging van 25 basispunte van die repokoers, wat die koste van lenings beïnvloed. Dit sal die repokoers op 4,25% te staan bring.
Die voorspelde verhoging kom omdat inflasiegetalle na verwagting relatief hoog sal bly, aangesien die wêreldwye voorsieningsketting steeds druk op pryse uitoefen. Statistieke Suid-Afrika het Woensdag sy Februarie-verbruikersinflasiedruksyfers vrygestel.
Annual consumer #inflation held steady at 5,7% in February, unchanged from 5,7% in January. The monthly rate was 0,6%, driven mainly by rising food and #transport prices.
Listen here for more: https://t.co/ZtA1F4SB0n#CPI #StatsSA pic.twitter.com/Qpubl4rZRC
— Stats SA (@StatsSA) March 23, 2022
Jaarlikse inflasie van voedsel- en nie-alkoholiese drank het in Februarie bly styg, met die koers wat tot 6,4% gestyg het van 5,7% in Januarie en 5,5% in Desember.
Nadat dit agt maande lank konstant gedaal het, het die jaarlikse brood- en graaninflasie in Februarie tot 3,7% gestyg van 1,5% in Januarie. Hierdie kategorie sluit graangebaseerde voedsel in wat van koring, rys en mielies gemaak word. Die maandelikse verandering was ook beduidend. Pryse het tussen Januarie en Februarie met 2,4% gestyg, wat die grootste maandelikse verhoging vir hierdie kategorie sedert die begin van 2019 verteenwoordig.
’n Aantal brood- en graanprodukte het groot maandelikse prysstygings geregistreer, veral stapelvoedsel soos mieliemeel (met 3,7%) en witbrood (met 3,2%). In randterme was ’n witbrood in Februarie gemiddeld 69c duurder as in Januarie, tot R16,16 vanaf R15,47.
Ander produkte met groot prysstygings sluit in klaargemaakte meel en koekmeel (beide met 4,7%), pasta (met 4,1%)3, en pap en macaroni (albei met 2,9%). Bruinbroodpryse het met 2,5% gestyg.
Sommige groot bakkerye het reeds gewaarsku dat die prys van hul brood skerp gaan styg. Volgens Groenewald sou dit wensdenkery wees om te dink dat die gevolge van die oorlog nie elke persoon in Suid-Afrika direk gaan raak nie.
Met die ekonomiese scenario’s wat Suid-Afrika waarskynlik in die nasleep van hierdie konflik sal tref, het die adjunkminister van finansies, David Masondo, verlede week in die parlement erken dat dit aansienlike risiko’s vir Suid-Afrika se ekonomiese vooruitsigte inhou.
Hy het gesê die effek daarvan is nog nie ten volle bereken nie. Van die produkte wat die meeste geraak sal word, is koring-, mielie- en olievoorrade. Die styging in pryse van hierdie huishoudelike noodsaaklikhede sal tot inflasie bydra en sal die koopkrag van verbruikers verminder.
Om dit te versag het hy gesê: “Ons is in gesprek met die Departement van Minerale en Energie om te kyk hoe ons die brandstofheffing kan hersien, maar ons moet versigtig wees hieroor. Dit kan nie oorhaastig gedoen word nie, want dit kan ’n ongewenste impak op ander bedrywe hê.”