Met alle openbare skole wat vandag (Woensdag) open is daar steeds skole wat wag vir aflewering van hul leer- en onderrigondersteuningsmateriaal.
Burgerlike organisasies en opposisiepartye het hulle kommer uitgespreek oor gebrekkige beplanning deur onderwysowerhede om voldoende skole en onderrigmateriaal te voorsien vir die land se groeiende bevolking.
Die Wes-Kaap se minister van onderwys, David Maynier, sê sy departement doen alles in hul vermoë om nuwe skole teen ’n vinniger tempo as ooit tevore te bou deur die “Vinnige Skoolbou-program”, ten spyte van ’n massiewe R716,4 miljoen wat die provinsie se onderwysbegroting minder gekry het van die nasionale regering af, in vergelyking met ’n vorige jaar.
Maynier sê in ’n verklaring amptenare en kontrakteurs het deur die vakansietydperk hard gewerk om te verseker dat die aantal plekke wat beskikbaar is vir die leerders wat reeds aansoeke ingedien het, uitgebrei word om voor te berei vir die verwagte laat aansoeke wat sedert 1 Januarie 2024 ontvang is.
Voordat skole op 12 Desember 2023 gesluit het, kon die Wes-Kaap plekke toeken vir 99,43% van die leerders vir wie aansoeke vir graad 1 en 8 vir die 2024-skooljaar ontvang is.
Sedert daardie datum, terwyl skole vir die vakansie gesluit was, het die provinsie egter nuwe aansoeke ontvang vir leerders wie se ouers nie voorheen aansoek gedoen het nie. Nog baie meer aansoeke word in die komende weke verwag. Daar is reeds 609 nuwe laat aansoeke in die eerste 10 dae van Januarie 2024 ontvang.
Die Gautengse onderwysdepartement se gebrekkige beplanning om genoeg skole in die provinsie te bou, het volgens die Vryheidsfront Plus weer eens geboemerang.
Laerskole in Kempton Park word nou gedwing om graad 8-leerders in tydelike klaskamers te huisves.
Die party se woordvoerder oor onderwys in Gauteng, Anton Alberts, sê in ’n verklaring die gebrek aan genoeg skole in Gauteng bly ’n jaarlikse tema en gaan onder die ANC net nog meer van ’n kopseer word.
Alberts sê die VF Plus het verskeie kere tydens die Departement van Onderwys se jaarlikse beplanningsvoorleggings die Gautengse wetgewer se onderwyskomitee gevra waarom daar nie genoeg skole gebou word nie. Hy wil ook weet wat die probleem is omdat die departement blykbaar oor genoeg fondse beskik vir die bou van skole.
Die kern van die probleem is volgens hom ’n onbeholpe ANC-regering in Gauteng wat bloot die skuld op die Departement van Infrastruktuur pak.
Swart ekonomiese bemagtiging (SEB) word volgens die VF Plus vóór meriete gestel en dit maak in baie gevalle die deur oop vir opportuniste wat aangestel word op grond van hul verbintenis met die ANC of amptenare in die departement.
Solidariteit veroordeel ook die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se “slordige beplanning”. Die organisasie sê dit veroorsaak dat 2024 se akademiese jaar weer eens laat afskop met die uitdagings van skoolplasings. Hierdie swak beplanning van die departement toon volgens Solidariteit ook duidelik wat die moontlike gevolge van die voorgestelde Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela-wetgewing) op die skolebestuur sal wees.
MEDIAVERKLARING
“Die departement se onvermoë om hulle mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (SASA) uit te voer, en hulle onvermoë om te beplan, kniehalter gehalte-onderrig. Dit hou gevaar in vir die toekoms van ons land se kinders,” @johnellVV https://t.co/vnFSaWNYLQ— Solidariteit (@solidariteit) January 16, 2024
“Die departement se onvermoë om hulle mandaat ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet (Sasa) uit te voer, en hulle onvermoë om te beplan, kniehalter gehalte-onderrig. Dit hou gevaar in vir die toekoms van ons land se kinders,” sê Johnell Prinsloo, beleidsontleder en navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI).
Volgens Anlia Archer, koördineerder van die Onderwysersnetwerk, getuig groot getalle ongeplaaste leerders van roekelose wanbestuur en ’n ernstige gebrek aan beplanning, wat talle skole in Gauteng dwing om reeds afgehandelde beplanning vir 2024 te heroorweeg.
Die DA se skaduminister van basiese onderwys, Baxolile Nodada, sê in sy verklaring gehalte-onderwys behoort ’n hoeksteen te wees van die regering se pogings om generasies Suid-Afrikaners uit armoede te lig deur aan hulle die nodige vaardighede vir suksesvolle ekonomiese deelname te verskaf. “Hoe is leerders veronderstel om noodsaaklike grondliggende geletterdheid en syfervaardighede aan te leer as hulle nie die nodige materiaal het om dit te fasiliteer nie?” vra hy.