Oos-Kaap bevestig stryd teen geslagsgeweld na 7-jarige se beweerde verkragting

  • 0

Die Oos-Kaapse provinsiale regering het sy onwrikbare verbintenis tot die bekamping van geslagsgeweld en vrouemoord regoor die provinsie bevestig.

Dit volg op onlangse voorvalle, waaronder die beweerde verkragting van ’n sewejarige meisie by Bergview College in Matatiele, en die onlangse uitspraak in die Timothy Omotoso-saak, waarin die beskuldigdes onskuldig bevind is.

Televangelis Omotoso is in die Hooggeregshof in Gqeberha vrygespreek op 32 ernstige aanklagte, insluitende bewerings van verkragting, rampokkery, mensehandel en ander misdade.

Intussen  is ’n berig op sosiale media wat beweer het dat Suid-Afrikaanse skole van 8 tot 16 April 2025 sou sluit as gevolg van protes oor die beweerde verkragting van ’n sewejarige meisie in Matatiele, as vals ontmasker.

Skole landwyd het die afgelope week hul deure, soos beplan, heropen soos voorgeskryf deur die amptelike skoolkalender vir 2025 wat deur die Departement van Basiese Onderwys vroeër gepubliseer is. Die valse berig, wat vinnig op platforms soos X, Facebook en WhatsApp versprei het, het emosies hoog laat loop en verwarring onder ouers en gemeenskappe gesaai.

Die bewering het gesuggereer dat die sluiting ’n nasionale protesaksie sou wees oor die Matatiele-saak, waar ’n sewejarige meisie na bewering in Oktober 2024 by Bergview College verkrag is. Hierdie voorval het reeds sedert verlede jaar nasionale aandag getrek, veral nadat die meisie se ma haar griewe op TikTok en in onderhoude begin deel het. Die #JusticeForMatatiele-veldtog het momentum gekry, en betogings het plaasgevind om geweld teen kinders te veroordeel.

Die Matatiele-voorval bly ’n bron van woede en hartseer. Die ondersoek, nou onder toesig van die SAPD se Familiegeweld- en Kindersbeskermingseenheid, is gekompliseer deur die afwesigheid van vreemde DNS op die slagoffer, soos op 4 April 2025 deur polisieminister Senzo Mchunu bevestig.

Mchunu sê die saak rakende die beweerde verkragting van die sewejarige is ’n komplekse een. Hy doen ’n beroep op die land om die polisie tyd te gee om die saak volledig te ondersoek.

Boonop het spanning tussen die meisie se ma en AfriForum se Gerrie Nel, wat die skoolhoof, Jaco Pieterse, verteenwoordig, die saak verder vertroebel.

Nel verteenwoordig vir Pieterse om te verseker dat hy nie die slagoffer word van magsmisbruik of van sosialemediaspeurders wat roekelose aantygings maak nie.

Hierdie onsekerhede het bygedra tot die vals narratiewe op sosiale media, soos oor die skoolsluitingseis.

In ’n verklaring wat Maandag uitgereik is, het die provinsiale regering gesê premier Lubabalo Oscar Mabuyane het na die familie uitgereik om gerusstelling te bied en die regering se verbintenis daartoe om geregtigheid na te streef, te bevestig.

Die provinsiale regering het gesê gemeenskappe regoor Suid-Afrika, en veral in die Oos-Kaap, worstel al lank teen die verwoestende impak van voortgaande geweld, buite verhouding, teen vroue en kinders .

Die departement sê die onlangse voorvalle dien as ’n skerp herinnering aan die kwesbaarheid van jong meisies en seuns, en die voortdurende bedreiging van geweld wat baie lewens oorskadu.

Mabuyane het gesê die provinsiale regering erken die erns van hierdie misdade en beskou die ingrypings as noodsaaklik vir “ons breër pogings om kwesbare groepe te beskerm en te verseker dat geregtigheid gedien word”.

Mabuyane het slagoffers en hul gesinne aangemoedig om nie in stilte te ly nie, en doen ’n beroep op enigiemand wat geslagsgeweld ervaar of aanskou het om hierdie misdade by wetstoepassers aan te meld.

“Ons verstaan die moed wat dit verg om na vore te kom, en ons is hier om daardie moeilike pad saam met jou te stap. Die regering het stelsels om beide psigososiale ondersteuning en regsbystand aan oorlewendes te verskaf,” het die premier gesê.

Mabuyane het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om nie vertroue in die regstelsel te verloor nie, en het bygevoeg dat “die stryd teen geslagsgeweld nie oornag gewen kan word nie, en ook nie sonder openbare deelname gewen kan word nie”.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top