Oos-Kaap se skokkende COVID-19-chaos

  • 0

Skokkende tonele van vuil hospitale met haglike omstandighede waaronder mediese personeel hulle werk moet doen, het aan die lig gekom tydens ’n ondersoek deur die Sondagkoerant Rapport.

Vloere wat bedek was met menslike afval, sakke vol mediese afval, beddens sonder lakens en naakte pasiënte wat met slegs ’n laken bedek is wanneer hulle teater toe geneem word vir operasies, was van die tonele wat die koerant se joernaliste glo begroet het tydens hulle besoek aan een van die hospitale.

Die Livingstone-hospitaal in Port Elizabeth, wat veronderstel is om een van die sleutelpunte in die stryd teen COVID-19 in die Oos-Kaap te wees, is volgens een van die dokters met wie die koerant gepraat het, ten beste ’n vuil plek, maar is tans so vuil dat mens bedwelmd raak daarvan.

Rapport se susterkoerant City Press het ook die naweek berig oor die haglike toestande by die Oos-Kaap se hospitale. Die tonele by die hospitaal herinner mens volgens die koerante aan “’n distopiese toekomsriller”. Talle van die hospitaal se verpleegpersoneel is glo self siek en moet mekaar in die buitegebou van die hospitaal verpleeg.

Die koerant het die hospitaal besoek nadat die ongevalle-afdeling moes sluit as gevolg van ’n staking deur verpleegsters, skoonmakers en portiere.

Volgens die Financial Mail is die moreel by die Livingstone-hospitaal uiters laag. Die aantal COVID-19-gevalle neem glo teen ’n yslike tempo toe, terwyl die vakbonde besig is om chaos te saai.

Foto’s van die vuil hospitaal is wyd op sosiale media gedeel en talle Suid-Afrikaners het hulle afgryse daaroor op Twitter en ander sosialemediaplatforms uitgespreek.

 “Waar’s ‘ons’ Kubaanse mediese spesialiste? Of wil niemand in die Oos-Kaap-areas gaan bly nie? het Brenda Roodbol op Netwerk24 se kommentaarafdeling gevra. “Geen weggooijasse en toerusting ... reeds vir jare ... poste wat nie gevul word nie ... reeds vir jare. En kyk die gemors van die hospitaal se gange ... Ek skaam my! En met elke verkiesing kry die ANC nog meer stemme ... die mense is dan, volgens wet, tevrede met hulle leiers! ... Dink tog asb voor jy weer stem!! Mense, praat met julle staff en personeel en verduidelik die belangrikheid van ’n ‘stem’, en om nie weg te bly nie. Jy kry wat jy kies.”

Die Sowetan het reeds vroeër die maand berig een van die ander hospitale in die Oos-Kaap het ’n “spookfasiliteit” geword nadat dokters en verpleegsters die hospitaal verlaat en pasiënte aan hul eie lot oorgelaat het. Die besluit van Tafalofefe Hospitaal in Centane se personeel om boedel oor te gee dui volgens die DispatchLIVE op die voortslepende gesondheidskrisis wat aangevuur word deur die geskil tussen die provinsie se gesondheidsdepartement en gesondheidswerkers wat deur hulle vakbond verteenwoordig word. Die Tafalofefe hospitaal is een van die belangrikste plattelandse hospitale in die Oos-Kaap.

Die Oos-Kaapse regering het reeds toegegee hulle is nie gereed vir die koronapandemie nie. Volgens die provinsie se premier, Oscar Mabuyane, is die provinsie se onvermoë om die pandemie te hanteer gegrond op projeksies en data wat ingesamel is.

Die Nasionale Departement van Gesondheid het ook reeds ernstige kommer uitgespreek oor die situasie in die Oos-Kaap. Die departement sê op hul webwerf die regering spits tans sy COVID-19-strategie op die Oos-Kaap toe om die verspreiding van die virus in die provinsie te probeer bekamp.

Volgens Rapport maan kenners dat die ware getal infeksies in die Oos-Kaap dalk aansienlik hoër kan wees as wat die amptelike syfers weerspieël. Die Oos-Kaap is tans naas Gauteng die provinsie met die derde meeste positiewe COVID-19-gevalle en is besig om Gauteng vinnig in te haal. Die Wes-Kaap is steeds die provinsie met verreweg die meeste bevestigde COVID-19-gevalle in die land, maar dit is ook die provinsie wat waarskynlik die beste voorbereid is daarvoor.

Die jongste COVID-19-statistiek in die land kan HIER gekry word op die regering se amptelike COVID-19-webwerf.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top