Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

  • 0

Tydlose ingenieurswese uit die 19de eeu

Hierdie reis begin en eindig met boeke – iets wat dikwels met my gebeur. Ek lees oor iets, raak nuuskierig, lees meer, gaan kyk as ek kan, en lees dan nog meer.

Bland se voorblad toon die baksteenbouwerk by Mariannhill.

In dié geval was dit Hugh Bland se boek The Trappist missions wat my aandag getrek het. Bland is ’n historikus en fotograaf wat opgetree het by die Midlands Literary Festival naby Howick, een van talle boekfeeste wat deur Suid-Afrika se onvolprese boekpersoonlikheid Darryl David gestig is.

Bland het ons met sy foto’s op ’n reis geneem deur Franz Pfanner se ongelooflike nalatenskap.

Ek was verstom, want ek het lank in KwaZulu-Natal gewoon en het boonop gereeld by Mariannhill verby gery én gehardloop, en tog het ek, dalk weens my goeie Gereformeerde opvoeding, niks van Pfanner geweet nie.

Hugh Bland

My ma, wat ook in KwaZulu-Natal woon, ken vir Bland. Sy het toe ook ’n praatjie van hom bygewoon, die boek gekoop en van die buiteposte gaan besoek wat deur Pfanner opgerig is.

In 2021 was ek in KwaZulu-Natal en kon ek tyd maak om Reichenau, die eerste van hierdie buiteposte, saam met haar te gaan besoek.

’n Skets van Reichenau, die meule is links onder

Reichenau is naby Underberg in KwaZulu-Natal.

Meer as ’n sendingstasie

Reichenau is in 1886 gestig op versoek van hoofman Sakayedwa, ’n Zoeloeleier wat geheers het oor ’n omgewing wat aan die Polelarivier grens.

Die sinkhuis is vooraf in Mariannhill vervaardig en per ossewa aangery. Dit was die eerste gebou en hier het Pfanner ook oorgebly as hy besoek afgelê het.

Franz Pfanner, oor wie ek binnekort meer sal vertel, het toe 5 500 ha grond verkry van die regering in Natal en so het Reichenau tot stand gekom.

Die skool is steeds in gebruik. Orals kinders wat in die foto’s wou wees. Let op die rooi bakstene heel links. Dié is waarskynlik aangery. Die res van die geboue in die gemeenskap is uit sandsteen gebou wat plaaslik gemyn is.

’n Skool is opgerig en daar is reeds in 1887 onderrig gegee.

Die twee meule

’n Moderne plaas is ontwikkel, ’n brug is oor die Polelarivier gebou en daarna is twee meule gevestig wat koring en mielies kon maal.

Hierdie water was genoeg om die twee meule te laat werk.

Die meule is aangedryf deur ’n turbine wat in ’n watervalletjie in die Polelarivier geplaas is.

Die sandsteenkerk wat deur Nivard Streicher ontwerp is. Sy ander kerke was meestal uit bakstene gebou.

Teen 1898 is die kerk ook voltooi.

Die Trappis-orde

Om Reichenau te verstaan is dit nodig om iets van Franz Pfanner te weet, en om hóm te verstaan, moet ’n mens iets oor die Trappis-orde weet.

Vir diegene wat, soos ek, nie in die Katolieke Kerk grootgeword het nie, net die volgende kort verduideliking:

  • Die Katolieke Kerk is ’n katolieke versameling ordes (van daar die naam), wat uiteindelik onder die Pous val.
  • Elke orde het ’n eie stel reëls en belydenisse.
  • Die Trappis-orde se amptelike naam is Ordo Cisterciensis Strictioris Observantiae, wat redelik direk vertaal sou kon word as die Orde van Cisterciënsers van die Streng Nakoming.
  • Van belang is dat die Trappiste van die Cisterciënsers weggebreek het om ’n strenger orde van nakoming te vorm.
  • Streng nakoming verwys na ’n rigiede stel reëls wat onder andere insluit dat lede van die orde in totale stilte leef. Hulle mag net praat as dit lewensbelangrik is.
  • Die algemene naam is afgelei van die kloostergemeenskap van La Trappe, waar die eerste pogings aangewend is om ’n orde van streng nakoming te skep.
Elon Musk, ontmoet Franz Pfanner

Franz Pfanner was ’n verstommende mens. Hy is in 1825 gebore en word in 1850 ’n priester ná deeglike akademiese opleiding.

Inligting oor hom by Reichenau: Franz se naam is in KwaZulu-Natal na Francis verengels, maar hy het nie so bekendgestaan nie.

Franz Pfanner van nader beskou

In 1864 sluit hy as Trappis aan by die Marianwald-abdy in Oostenryk. Aanvanklik het die streng reëls en die stilte hom gepas, maar helaas, dinge word soms té stil.

Vyf jaar later het hy die orde omgepraat (um, ja) om hom toe te laat om ’n abdy in Bosnië te open.

Pfanner se sukses het nie ongesiens verbygegaan nie en talle was baie ongelukkig daaroor. Tien jaar na sy eerste pogings in Bosnië en latere sukses was daar genoeg negatiewe gevoelens om Pfanner te noop om na Suid-Afrika uit te wyk.

Dit was die begin van Pfanner se beste jare – en van sy grootste probleme.

Sy eerste pos, by Dunbrody in die Oos-Kaap, was ’n mislukking. Die droogte en die wind het die onopgeleide monnike se werk onmoontlik gemaak. Toe hulle uiteindelik gewasse kon begin kweek, het die bobbejane dit opgevreet.

Ten spyte van die mislukking het Pfanner se statuur in Europa gegroei en uiteindelik is hy toegelaat om sy operasie na Natal te verskuif.

Op 26 Desember 1882 het Pfanner en ’n aantal bedremmelde monnike die plaas Zeekoegat net buite Pinetown in Natal oorgeneem.

Die res van hierdie verhaal lees soos iets wat Elon Musk sou waardeer.

Hierdie monnik was ’n dromer, denker en doener. Hy was ’n ingenieur, sonder enige formele opleiding, en een ook een van die eerste en uiters suksesvolle megaboere in Suid-Afrika.

Om dit alles te kroon was hy ’n bemarker par excellence en ’n kommunikasiespesialis soos min. Klink dit te goed om waar te wees?

Hy was ’n fotograaf ook.

Pfanner het sy vaardighede gebruik om enorme hoeveelhede geld uit Europa na Afrika te lok.

Dié geld is in moderne landboumetodes belê.

Dit was die nonne se kwartiere op Reichenau.

Meer nog: Hy het baie geld spandeer op skole en het nonne ingevoer om klas te gee, want vir die nonne was dit nie nodig om die eed van stilte af te gelê het nie. Dié nonne het in Suid-Afrika gewerk onder ’n nuwe orde wat deur Pfanner self uitgedink is – hulle het bekend gestaan as die Orde van die Waardevolle Bloed.

Terwyl die susters in hulle klaskamers met hulle leerlinge kon praat, was die monnike veronderstel om in stilte en deur middel van ’n voorbeeldige lewe hulle kennis van die landbou aan die plaaslike bevolking oor te dra. So ’n reëling het slegs ten dele gewerk, want hoe bestuur ’n mens ’n plaas as jy nie mag praat nie?

Pfanner het al hoe meer toegewings gemaak aan die orde van streng nakoming. Hy was ’n pragmatis en sy doel was om die plaaslike bevolking te help om beter landbouers te wees. Daarmee saam het hy, sonder om ooit die evangelie te spreek, ’n groot aantal bekeerlinge gemaak.

Al was Pfanner aan die einde van sy lewe een van die rykste mense in Suid-Afrika, het hy ’n armoedige bestaan gevoer. Sy geld het alles in sendingwerk en moderne landboupraktyke ingegaan.

Pfanner was ’n uitstekende bemarker, ook van homself. Nuus van die enorme suksesse wat in Natal behaal is, is regdeur Europa bekendgemaak met biljette wat op ’n drukpers geskep en deur volgelinge, en ’n goeie posdiens, versprei is.

In die vroeë 1900’s het sommige mense gefluister dat Pfanner die tweede bekendste Katoliek in die wêreld was. Net die Pous was meer bekend.

Nog eens het hierdie praatjies die ore van Rome bereik.

Genoeg is genoeg, het hulle besluit. Pfanner se hele operasie is summier uit die Trappis-orde verban.

Mooi kerke

Pfanner en sy volgelinge het eenvoudig geleef. Die reusekerke en die pragtige abdy by Mariannhill waaraan besoekers gewoond is, het baie later gekom, ná skole en ander belangrike geboue eers opgerig is.

Die monnike van Mariannhill het baie lank in ’n sinkgebou geslaap. Geld wat ingesamel is, sou eers na die sendingwerk gaan voor dit op die monnike spandeer is.

Tog, kerke en ander geriewe is belangrik, en in die Natalse Middelland is daar nou talle sendingstasie met besonder mooi Pfanner-kerke. Soos met die meeste geboue wat deur Pfanner se volgelinge opgerig is, was Nivard Streicher, ook ’n monnik, die meesterbrein agter elkeen.

Anders as in vele ander Katolieke ordes word kerke in die Trappis-tradisie gewoonlik sonder enige mooi tierlantyntjies gemaak.

Die binnekant van Reichenau se kerk

Onder Pfanner se leiding is kerke egter ornaat beskilder.

Verskeie heiliges en die stasies van die kruisiging word teen die mure uitgebeeld.

Die rede? Die monnike kon nie praat nie, maar die skilderye het gemaak dat die plaaslike bevolking die Katolieke tradisie kon leer ken deur na die prentjies te kyk.

Gebrandskilderde vensters en antivaksers

Pfanner was ’n besonderse mens. Hardkoppig, hardwerkend en besonder wel belese.

Tog, al was hy in feitlik alle opsigte wetenskaplik, kon hy mediese dokters nie verduur nie.

Daar is ’n rede voor.

Een van Pfanner grootste ondersteuners was ’n skatryk mediese dokter, ene Dr Oidmann, wat sy rug op die mediese wetenskap gekeer het. Die kêrel het ryk geword deur voor te gee dat ’n soutlose dieet, wat vleis uitsluit, gekoppel aan vars lug, jou sal gesond maak. Dit is soos moderne kwaksalwers wat duur multivitamines voorskryf in die plek van mediese behandeling.

En, ja, Oidmann was ’n antivakser.

Soos in die tyd van Covid, was dit nog altyd maklik om mense te laat dink die mediese wetenskap is ’n komplotteorie.

Franz Pfanner het, sy ongelooflike kennis ten spyt, hierdie man geglo. Dit was so erg dat Pfanner dikwels geweier het dat mense onder sy beheer na ’n mediese dokter kon gaan vir behandeling.

Oidmann was ook ’n dissipel van Vader Sebastiaan Kneipp se waterkuur. Pfanner het meegedoen. Enige een wat siek geword het, is gewoon in koue en warm water gedompel.

Vir Pfanner en sy mediese vriend was hierdie simbiose goed. Die medikus het oral vertel hoe suksesvol Pfanner was en het gehelp om sodoende ontsettend baie geld in te samel vir die sendings in Afrika. Aan die ander kant het Pfanner die man se leuens geredelik versprei – ook oor entstowwe. Pfanner was in alle opsigte ’n beïnvloeder. Hy was ’n gewilde, charismatiese man wat die media en die poswese laat gons het.

Pfanner is dus befonds en in ruil daarvoor het hy die leuens oor die mediese wetenskap en inentings help versprei.

Hieroor het die Kerk hulself ook teen Pfanner uitgespreek, want selfs in die 19de eeu was die waarde van entstowwe goed bekend en medies erken.

Helaas, dit is egter nie waar die twee se simbiose ophou nie.

Een van verskeie pragtige vensters in Reichenau se kerk

In baie van Pfanner se kerke is gebrandskilderde vensters.

Raai wie het die fabrieke besit wat hierdie vensters vervaardig het?

Jip. Die gewilde dr Oidmann het sy inkomste uit die wolhaarstories wat hy verkwansel het, aangevul deur die verkoop van gebrandskilderde glas uit die drie fabrieke wat hy besit het.

Die goed wat regter Zondo oopgevlek het, se wortels lê diep.

Nog vele sendings en ’n boek

Reichenau is die eerste van 21 sendings wat Pfanner begin het.

Hugh Bland se boek gee ’n aanduiding van hoe ver Pfanner se invloed gestrek het.

As ek eendag groot is, sal ek bitter graag die ander 20 ook wil besoek.

Vir diegene wat sommige van hierdie ongelooflike plekke wil besoek, is daar ’n toergids wat jou teen ’n baie billike prys daarheen sal neem. Nota bene, ek het nie self enige kennis van die groep nie.

’n Mens kan egter self na die meeste van die sendingstasies ry. My ma het al ’n hele aantal met haar eie klein motortjie besoek.

Tog, selfs die navorser Michael Cawood Green het bevestig dat dit nie oral so maklik is om die sendingstasies op te spoor nie. Reichenau is geen probleem nie, maar by van die ander kos dit heelwat vrawerk.

Wat my bring by die volgende boek wat ek kan aanbeveel.

For the sake of silence, geskryf deur Michael Cawood Green

For the sake of silence, geskryf deur Michael Cawood Green, is ’n baksteen dik en gee ’n omvangryke oorsig oor Franz Pfanner se lewe. Die uitgewer is Umuzi, ’n druknaam van Penguin Random House Suid-Afrika. Dit het reeds in 2008 verskyn, maar sal waarskynlik nog as e-boek te koop wees by Penguin. Dit is beslis nog te koop op Kindle en by tweedehandse boekwinkels.

Saam met ’n grondige insae in Pfanner as mens leer die leser ook geweldig baie oor sy werk daar in die toenmalige Natal-kolonie en die binneland wat onder die sendingwerkers bekendgestaan het as “No man’s land”.

Pfanner was ’n ongelooflike mens, met voete van klei. Sy siening oor swart mense laat jou ril, maar dan het hy, ten spyte daarvan, veel meer gedoen vir die Zoeloebevolking as feitlik enige ander kolonis in sy tyd.

Koos du Plessis het gevra: “Wie sou die ware swerwer wees, die een wat reis, die een wat lees?”

Ek lees meestal. Reis na verskillende wêrelddele is nou eenmaal nie vir die meeste mense beskore nie. Tog, die Natalse Middelland is binne my bereik ek sal graag my boekreise wil aanvul deur nog meer van Pfanner se sendingstasies te gaan besoek.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top