Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, se loopbaan hang al hoe meer aan ’n draadjie nadat sy Maandag die soveelste bloutjie in die hof geloop het oor die wyse waarop sy haar pligte uitvoer.
Die konstitusionele hof het Maandag Mkhwebane se appèl, in die saak tussen haar en die Reserwebank, van die hand gewys. Dit hou verband met haar aansoek dat sy nie persoonlik aanspreeklik gehou moet word vir koste wat verband hou met ’n beslissing van die Pretoriase Hooggeregshof nie. Die hof het vroeër ’n bevinding van Mkhwebane in die kwessie rondom die Reserwebank en Absa tersyde gestel. Die Konstitusionele Hofbeslissing beteken Mkhwebane moet sowat R900 000 uit haar eie sak aan regskoste opdok.
Die konstitusionele hof het in ’n meerderheidsbeslissing ’n verdoemende uitspraak gelewer waarin bevind is dat sy in kwade trou opgetree het in die reserwebank-geding.
Mkhwebane sê sy sal die konstitusionele hof se beslissing teen haar bestudeer voordat sy volledig daarop reageer. Sy hou vol dat sy in goeder trou opgetree het tydens haar ondersoek, en ontken ook dat sy onder eed gejok het.
Sy het op twitter gesê sy respekteer die hof se besluit, maar dit maak haar versigtig vir howe en skep ’n presedent wat dit baie moeilik sal maak vir enige openbare beskermer om sy of haar werk te doen.
PP @AdvBMkhwebane is already in the courtroom. The @ConCourtSA will shortly hand down judgment on whether should be held personally liable for a portion of the legal costs that the SA Reserve Bank incurred in a High Court case involving the #CIEX matter. pic.twitter.com/FEz1Jp1qs3
— Public Protector SA (@PublicProtector) July 22, 2019
Die week se uitspraak deur die konstitusionele hof kan haar loopbaan, wat reeds ernstig onder verdenking is, verder onder die soeklig plaas.
Die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, en president Cyril Ramaphosa het albei reeds aangedui dat hulle die bevindings, wat sy teen húlle gemaak het, ook in die hof gaan betwis.
Intussen het die Demokratiese Alliansie (DA) reeds met ’n parlementêre proses begin om van haar ontslae te probeer raak. Die DA wat gevra het vir die ondersoek waarby Ramaphosa betrek word, bevind hulle nou in ’n netelige situasie aangesien hulle self bedenkinge het oor haar bevoegdheid as openbare beskermer. Hulle wil hê dat ’n parlementêre komitee ondersoek instel na haar bevoegdheid as openbare beskermer.
We've long held that #BusisiweMkhwebane is not a fit & proper person to occupy the office of the Public Protector.
In the 3 years that have passed since her appointment - to which we objected - she has done nothing to convince us of her suitability.https://t.co/5FYtBDHQVS
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 22, 2019
Die parlement is die enigste instansie wat haar in die pad kan steek en kan dit slegs doen as tweederdes van die parlement so ’n besluit sou ondersteun.
Ramaphosa het Sondagaand regstreeks op nasionale televisie aangekondig dat hy haar verslag oor hom deur die hof gaan laat hersien. Mkhwebane voer in die verslag aan Ramaphosa het die parlement doelbewus mislei oor ’n beweerde skenking van R500 000. Die geld is na bewering deur Bosasa aan Ramaphosa geskenk om sy veldtog te finansier om ANC-president te word. Ramaphosa meen die OB se verslag is feitelik verkeerd. Die president se volledige verklaring kan hier gelees word.
Die OB is ontevrede omdat die president sê haar verslag oor hom is fundamenteel verkeerd en dat hy daarom dringend die hof gaan nader om die verslag te hersien. Sy het dit in ’n verklaring verwelkom dat die president die hof gaan nader om die geldigheid van haar verslag te toets maar het op SABC Morning Live uitgevaar omdat Ramaphosa tydens sy nuuskonferensie gesê het haar verslag is fundamenteel verkeerd en dat sy haar mandaat oorskry het.
Volgens haar moes die president slegs gesê het hy gaan haar verslag deur die hof laat hersien en nie bygevoeg het dit is vol feitefoute en onakkuraathede nie. Sy sê dit is vir die hof om daaroor te besluit.
Public Protector @AdvBMkhwebane notes and welcomes the President’s announcement that he will approach the court for recourse regarding her findings that he violated the Executive Ethics Code pic.twitter.com/UDiVJdRNXz
— Public Protector SA (@PublicProtector) July 21, 2019
Waarnemers is dit eens dat daar slegs een wenner kan wees in die geveg tussen die openbare beskermer aan die een kant en president Ramaphosa en minister Gordhan aan die ander kant. Indien Ramaphosa en Gordhan nie hulle hofgeding teen haar wen nie, kan dit ernstige implikasies vir die land inhou. Dit sal ook Ramaphosa se posisie as staatshoof in die gedrang bring.
Meeste kommentators is dit egter eens dat Mkhwebane haar mandaat oorskry het toe sy, op die DA se versoek ondersoek, ingestel het na die beweerde R500 000-skenking deur Bosasa aan Ramaphosa se verkiesingsveldtog as ANC-president. Hoewel dit binne haar mandaat was om die skenking te ondersoek, het sy glo bevindings gemaak wat niks met die aanvanklike ondersoek te make gehad het nie. Sy ontken dit en sê dit vorm alles deel van die ondersoek. Haar bevindings teen Gordhan word ook deur talle bevraagteken.
Buro: MvH