Die parlement sal volgende week begin om te besin oor die toekoms van die omstrede openbare beskermer (OB) Busisiwe Mkhwebane.
Dit volg nadat ’n verdoemende verslag deur ’n onafhanklike paneel bevind het dat daar vermoedelik prima facie-bewyse bestaan dat Mkhwebane haar aan beweerde wangedrag en volgehoue onbevoegdheid skuldig gemaak het.
Die parlement sal Dinsdag begin om die paneel se verslag te bespreek en hoe om daarmee te handel.
Die DA sê in ’n verklaring dit bied ’n geleentheid aan die ANC-lede in die parlement wat sê hulle stel Suid-Afrika se belange eerste, om die daad by die woord te voeg en te begin met ’n proses om Mkhwebane uit haar pos te verwyder.
Die DA sê in hulle verklaring dit word reeds algemeen aanvaar dat Mkhwebane die teenoorgestelde is van wat ’n openbare beskermer veronderstel is om te wees. Volgens die DA is sy ’n Zuma-aanstelling wat deel is van die staatskapingsprobleem. Hulle beweer dat sy in haar pos geplaas is om staatsplunderaars te beskerm. Die DA sê die OB se rol behoort te wees om die publiek te beskerm teen ’n korrupte staat en nie andersom nie.
Die proses in nou uiteindelik onderweg om van haar ontslae te raak, maar dit sal ’n twee-derde-meerderheid in die parlement verg om dit reg te kry. Die verslag waaroor die parlement volgende week moet begin besin, bevat uiters verdoemende gevolgtrekkings oor die OB se beweerde onbevoegdheid. Die paneel wat die verslag saamgestel het, bestaan uit ’n oudregter van die Konstitusionele Hof, Bess Nkabinde, Dumisa Ntsebeza SC en Johan de Waal SC.
Die verslag wemel van voorbeelde van vermoedelike wangedrag, opsetlike of growwe nalatigheid en pligsversuim wat na bewering deur die OB gepleeg is tydens haar termyn tot dusver. Sy het ook al verskeie kere in die howe bloedneus gekry en is skerp tereggewys deur verskeie regters in sake wat hulle teen haar moes aanhoor.
Die bespreking en uiteindelike besluit oor Mkhwebane se toekoms sal die tweespalt in die ANC opnuut laat blyk.
Politici meen die ANC bevind hom in dieselfde dilemma as destyds toe daar ’n mosie van wantroue in oudpresident Jacob Zuma ingestel is. Daar was heelwat lede in die ANC se koukus wat ook van hom ontslae wou raak, maar hulle kon dit nie waag om die mosie wat deur die DA ingedien is, te steun nie.
Die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, het reeds gesê dit is ondenkbaar dat die ANC ’n mosie van die DA sal steun om van die openbare beskermer ontslae te raak. Daar bestaan egter ook ’n groot groep lede in die ANC, en hoofsaaklik ondersteuners van president Cyril Ramaphosa, wat baie graag van Mkhwebane ontslae wil raak.
Daar is nog geen aanduiding wanneer daar finaal oor haar toekoms gestem sal word in die parlement nie. Die ANC sal dit waarskynlik so lank as moontlik wil uitstel om die verdeeldheid in die party te probeer wegsteek.
Die DA sê ook in hulle verklaring hulle verwag dat die ANC die saak so lank as moontlik sal wil uitrek, net soos destyds met die debatte oor Nkandla. In die geval van Nkandla kon die ANC daarin slaag om dit vir jare uit te stel. Mkhwebane het reeds vyf jaar van haar sewejaartermyn uitgedien. Volgens die DA is dit moontlik nie uitgesluit dat die ANC die proses sal probeer vertraag totdat sy haar ampstermyn uitgedien het nie.
Indien dit wel die geval gaan wees, sê die DA die enigste manier om die ANC daarvoor te straf, sal wees om tydens vanjaar se munisipale verkiesing ’n protesstem teen die ANC uit te bring.