Openbare beskermer se verslae verwar

  • 0

Die DA het ’n brief aan die openbare beskermer (OB), Busisiwe Mkhwebane, geskryf waarin hulle vra dat sy ’n verslag waarin Cyril Ramaphosa glo daaraan skuldig bevind word dat hy die parlement mislei het, binne 48 uur moet bekend stel.

Busisiwe Mkhwebane (Foto: YouTube)

Die DA-leier, Mmusi Maimane, sê die verslag is reeds ses maande laat en dit is tyd dat Ramaphosa verantwoordbaar gehou word omdat hy die parlement “onopsetlik mislei” het.

Dit volg op berigte die afgelope naweek in die media dat Mkhwebane ook bevind het dat Ramaphosa die Grondwet en die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het. Volgens die uitgelekte verslag was hy dalk glo ook by geldwassery betrokke omdat ’n skenking van R500 000 vir sy verkiesingsveldtog as ANC-president deur verskeie tussengangers gedoen is.

Ramaphosa het glo nagelaat om die skenking van Gavin Watson van Bosasa aan die parlement te verklaar. Die OB wou tot dusver nie kommentaar lewer oor die uitgelekte verslag nie. Sy sê dit kan haar ondersoek verongeluk of benadeel as sy nou daarop reageer. Sommige meen egter sy is besig met ’n politieke spel teen oudpresident Zuma se teenstanders in die ANC

Haar ondersoek oor Ramaphosa volg nadat die DA en die EFF verlede jaar gevra het dat sy die saak oor die R500 000-skenking moet ondersoek. Ramaphosa het reeds erken daar was wel so ’n skenking, maar hou vol dat dit sonder sy medewete gedoen is.

Maimane sê die vrystelling van die verslag sal ’n einde bring aan enige verdere lekkasies en spekulasie en toesien dat die President aanspreeklik gehou word vir sy  optrede.

Intussen is die OB self onder verdenking en die aandrang word al hoe groter dat sy weens onbekwaamheid uit haar pos verwyder moet word.

Sy het egter op Twitter gesê slegs God kan haar uit haar pos verwyder as hy meen dat sy misluk het.

Die DA, wat daarop aandring dat sy haar verslag oor Ramaphosa moet openbaar maak, word, dring egter terselfdertyd daarop aan dat sy uit haar pos verwyder moet word omdat sy nie bevoeg is nie.

Ramaphosa het reeds erken hy het onopsetlik verkeerde inligting aan die parlement gegee toe hy oor die skenking van R500 000 gevra is en het dit probeer regstel.

Die EFF steun Mkhwebane om in haar amp te bly, maar die SAKP meen ook dit is noodsaaklik dat haar geskiktheid vir die amp ondersoek word in die lig van verdoemende hofuitsprake waarin sy meer as een keer deur die howe oor die vingers getik word vir vorige verslae wat sy uitgereik het.

Sy word daarvan beskuldig dat sy doelbewus vir Ramaphosa en die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, teiken. Daar word verder geskimp dat sy in die Zuma-kamp is en diegene wat deel was van staatskaping wil beskerm ten koste van mense soos Gordhan en Ramaphosa wat korrupsie wil uitroei.

Sy ontken enige betrokkenheid by die ANC se faksiegevegte en sê sy doen net haar werk. Gordhan is tans ook besig met ’n hofaksie teen die OB oor ’n verslag van haar waarin sy hom skuldig bevind het aan onreëlmatige optredes. Die gedragsowerheid vir die finansiële sektor (FSCA) het ook reeds ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria  gebring oor ’n verslag wat sy geskryf het rakende FSCA se voormalige hoof, Dube Tshidi. Hulle wil hê haar verslag moet tersyde gestel word omdat dit volgens hulle in alle opsigte onredelik is.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top