Openbare beskermer wil hof toe

  • 0

Die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, is nie van plan om haar pos te verlaat nie. Dit ondanks ’n beslissing van die Pretoriase Hooggeregshof dat haar verslag oor die melkplaasprojek by Vrede ongrondwetlik is en tersyde gestel word.

Foto: YouTube

Mkhwebane sê daar is geen gronde om haar uit haar pos te verwyder nie. Die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet, Casac, het intussen ook ’n beroep op die nuwe parlement gedoen om dit te oorweeg om Mkhwebane van haar magte te ontneem.

Hulle dring aan dat haar bevoegdheid vir haar pos deur die parlement ondersoek moet word. Dit volg op die uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria dat Mkhwebane nie haar werk behoorlik gedoen het toe sy die finale verslag vrygestel het nie.

Sy het vroeër gesê sy oorweeg haar regsopsies, insluitende die Konstitusionele Hof, na die beslissing van die Pretoriase Hooggeregshof.

Foto: YouTube

Die hof het ook bevind dat Mkhwebane nagelaat het om ’n behoorlike ondersoek te doen na die R200 miljoen-skandaal waarby die ANC se sekretaris-generaal, Ace Magashule, ook betrek is.

Die DA en ander groepe het die openbare beskermer genader om die projek en die betrokkenheid van Magashule, destyds die premier van die Vrystaat, en ander te ondersoek.

Mkhwebane se woordvoerder, Oupa Segalwe, sê sy is nie tevrede met die hof se beslissing nie, veral nie dat die verslag tersyde gestel word nie.

Die EFF in die Vrystaat het ’n oproep gedoen vir ’n nuwe ondersoek na die melkplaasprojek by Vrede. Die provinsiale leier, Mandisa Makheseni, sê die openbare beskermer se verslag was eensydig en dit moet reggestel word. 

Die DA het reeds verlede jaar gevra dat Mkhwebane uit haar pos verwyder moet word. Sy het haar volledige reaksie daarop Dinsdag op Twitter gedeel.

Sy ontken die bewerings teen haar dat sy die oorspronklike verslag afgewater het om sekere politici in die Vrystaat te beskerm. In ’n poging om haar onskuld te bewys het sy die volledige verslag van 78 bladsye via Twitter gedeel en mense aangemoedig om dit self te lees.

Sy oorweeg nou die moontlikheid om teen die beslissing van die Hooggeregshof te appelleer of om aansoek te doen vir regstreekse toegang tot die Konstitusionele Hof.

Die DA, wat die klag saam met die Raad vir die Bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet by die hof ingedien het, het aangevoer dat die openbare beskermer versuim het om ’n derde klag wat deur ’n DA-lid ingedien is, te ondersoek.

Die DA wou onder andere hê sy moet ook die rol van die destydse premier van die Vrystaat, Ace Magashule, ondersoek.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top