Openbare verontwaardiging oor sokkerborgskap

  • 0

Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) sê hulle is glad nie verbaas oor die openbare verontwaardiging onder die publiek oor ’n voorstel om bykans ’n miljard rand se belastinggeld aan ’n borgskap vir ’n buitelandse sokkerspan te bestee nie.

Die nuus dat die toerismeministerie en SA Toerisme (SAT) tans só ’n borgskap met die Engelse sokkerspan Tottenham Hotspur beding, het Suid-Afrikaners behoorlik die harnas in.

SAT sê daar was ’n kwaadwillige uitlek van interne dokumente rakende die transaksie. Volgens SAT sal die borgskap R88 miljard se internasionale besteding in die plaaslike ekonomie oplewer. Mzilikazi Themba Khumalo, waarnemende uitvoerende hoof van SAT, het Donderdag die media oor die borgskap ingelig. Hy het gesê daar is nog geen ondertekende kontrak nie, maar dat die SAT-direksie die transaksie voorwaardelik goedgekeur het.

Outa sê in ’n verklaring hulle verstaan die behoefte om die land as ’n toerismebestemming te bemark, maar bevraagteken hierdie voorstel ernstig.

“Ons glo dit kan ’n ernstige vermorsing van geld en misbruik van belastingbetalers se fondse wees, veral wanneer hierdie besluit sowat 38% van SA Toerisme se bemarkingsbegroting vir die volgende drie tot vier jaar sal verbruik. Boonop is hierdie besteding grootliks gemik op besoekers uit die VK, wat slegs sowat 25% van Suid-Afrika se inkomende toerismemark is.”

Outa sê die hele petalje herinner aan die vlagpaalprojek toe die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, ’n reusevlagpaal van R22 miljoen by Freedom Park wou oprig “om nasietrots te bevorder”.

Outa sê die Tottenham Hotspur-voorstel is nog ’n projek wat wys hoe verwyderd die regering is van die behoefte om sy skaars inkomste verstandig te bestee.

Outa het reeds aan die minister van toerisme, Lindiwe Sisulu, en die waarnemende uitvoerende beampte van SA Toerisme, Mzilikazi Themba Khumalo, geskryf om te vra vir gedetailleerde inligting en deursigtigheid rakende die voorgestelde ooreenkoms.

Volgens SA Toerisme se jaarverslag vir 2021/22 het die entiteit R1,297 miljard as ’n toekenning van die regering ontvang deur die Departement van Toerisme, wat driedubbel die vorige jaar se toekenning van R423 miljoen was.

Die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, het in sy verklaring gesê die feit dat die minister van toerisme dit enigsins oorweeg om bykans ’n miljard rand se belastinggeld aan borgskap vir ’n buitelandse sokkerspan te bestee, opnuut wys in hoe ’n groot mate die ANC-regering tred met die werklikheid verloor het.

Groenewald sê sulke fondse behoort eerder gebruik te word om die skade wat deur die COVID-19-regulasies aan klein tot medium-toerisme-ondernemings aangerig is, te verlig. “Hierdie siniese optrede deur die minister bevestig ook die VF Plus se standpunt dat die ministerie van toerisme oorbodig is en dat sy toegekende begroting reeds as verspilde uitgawes gesien kan word. Onder Sisulu se leiding het die ministerie selfs ’n nuwe laagtepunt bereik.”

Die DA se skaduminister van toerisme, Manny de Freitas, sê in sy verklaring die plan is ’n klap in die gesig van elke Suid-Afrikaner wie se swaarverdiende belasting gebruik gaan word om ’n Eerste Wêreld-sokkerspan te borg.

“Dit sal ongetwyfeld ook ’n klap in die gesig van die sportbroederskap wees, veral die sokkersektor, wat nie broodnodige fondse ontvang om ons eie sportspanne te bevorder nie. Met R1 miljard kan die regering ’n splinternuwe sokkerveld in elke dorp in die land bou!”

Hierdie idee is volgens die DA selfs erger as die geld wat vir die ANC se kamerade in Kuba bewillig is, ’n poging wat deur Solidariteit in die howe gestuit is. “Ons land is in ’n kragkrisis. Verbruikers word deur inflasie verpletter. Daar is geen manier dat die ANC so ’n besluit in die 2024-verkiesing sal kan goedpraat nie, selfs nie onder sy stoutste ondersteuners nie,” het De Freitas gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top