Opposisiepartye hou die regering verantwoordelik vir die skerp toename in COVID-19-gevalle wat gelei het tot die strenger inperkingsmaatreëls wat Sondagaand deur president Cyril Ramaphosa aangekondig is.
Die Vryheidsfront Plus sê in ’n verklaring die ANC-regering moet die volle verantwoordelikheid neem vir die nuwe vlaag infeksies en vir die feit dat die gesondheidstelsel ná langer as ’n jaar steeds nie gereed is vir die pandemie nie.
Die DA het in hulle reaksie gesê Suid-Afrika moet die prys betaal vir die “katastrofiese mislukking” van die regering se inentingsprogram. Die DA-leier, John Steenhuisen, sê in sy verklaring elke Covid-sterfgeval en elke werksgeleentheid wat verlore gaan as gevolg van die “drakoniese inperkings” wat aangekondig is, moet op die President se rekening geplaas word. Hy sê Suid-Afrikaners betaal nou die prys vir die regering se versuim om ’n behoorlike inentingsprogram van stapel te stuur.
Die toerisme- en drankbedrywe is van die sektore wat die hardste getref word deur die jongste maatreëls.
Gesondheidskenners meen egter die strenger maatreëls behoort weldra die verspreiding van COVID-19 te verminder. Die viroloog en entstofkenner by Wits, Shabir Madhi, sê meer as 60% van gevalle kom steeds in Gauteng voor.
Steenhuisen sê Ramaphosa en sy regering het ’n jaar gehad om toe te sien dat daar ’n voldoende voorraad entstof sal wees om Suid-Afrikaanse lewens teen die virus te beskerm en te beplan hoe om dit te versprei, maar kon nie daarin slaag nie.
Every covid death & every job lost to the draconian restrictions he announced tonight are on President Ramaphosa now - @jsteenhuisen #Level4 https://t.co/rwCrABY0Fg
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 27, 2021
“Al waarmee hulle vorendag kon kom is flou verskonings en skadelike inperkings,” sê Steenhuisen. Hy sê daar is geen verskoning waarom mense nie ook oor naweke ingeënt kan word nie.
Ook die Vryheidsfront Plus kritiseer die trae tempo waarteen mense ingeënt word. Die party sê die regering moet veral verantwoordelikheid neem vir die feit dat baie min Suid-Afrikaners tot nou toe ingeënt is en vir die skrale hoop dat kudde-immuniteit gou bereik sal word.
Die mikpunt was ’n inentingskoers van 70% teen die einde van die huidige jaar wat nou totaal buite bereik is met minder as 4% van die bevolking wat ingeënt is.https://t.co/GBsGtgQIyp
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) June 28, 2021
Die mikpunt was ’n inentingskoers van 70% teen die einde van die huidige jaar, wat volgens Pieter Groenewald van die Vryheidsfront Plus nou totaal buite bereik is, met minder as 4% van die bevolking wat ingeënt is. Hy sê Suid-Afrika, en veral sakeondernemings soos restaurante en hul werknemers, ly nou onder die regering se onbevoegdheid.
’n Meer streeksgebonde benadering moet volgens hom gevolg word om die verspreiding van die virus te verminder met so min as moontlik skade aan die ekonomie wat verdere streng inperkings nie meer kan bekostig nie. “’n Reisverbod uit en na Gauteng is ’n voorbeeld van wat gedoen kan word. Dit is egter veels te min,” sê Groenewald.
“Gesondheidsprotokolle moet beter gepolisieer word. Dit is duidelik dat die publiek toenemend die protokolle verontagsaam en die VF Plus doen ’n dringende beroep op mense om daarop ag te slaan aangesien dit lewens kan red.”
Groenewald sê die stadium is bereik waar met reg gevra kan word hoeveel mense onnodig gaan sterf omdat die regering die land in die steek gelaat het en nie behoorlik en reg voorberei het vir die pandemie nie.
Die Nasionale Raad vir Drankhandel het op sy beurt gewaarsku dat sommige van sy lede dit oorweeg om die jongste verbod op alkoholverkope te ignoreer. Die Raad se sameroeper, Lucky Ntimane, sê dit is onredelik om drankhandelaars voortdurend as die sondaars te teiken. Hy sê die verbod gaan weer ’n hewige uitwerking op mense se verdienste hê. Hy sê dié keer gaan hulle dié besluit nie daar laat nie.
The National Liquor Traders Council has warned that some industry members are considering defying the recent ban on the sale of alcohol, saying employees need to earn an income to support their families. #AlcoholBan #level4https://t.co/xShHtTZGCp
— SABC News (@SABCNews) June 28, 2021
Die jongste Staatskoerant waarin die aangepaste vlak 4-inperkingsmaatreëls uiteengesit word, is Maandagoggend gepubliseer. Ingevolge die jongste regulasies moet alle gimnasiums en fiksheidsentrums, casino's, nagklubs, konferensiefasiliteite, museums, vlooimarkte, veilings, flieks en teaters vir twee weke lank gesluit wees. Kleuterskole mag oopbly, terwyl hotelle teen slegs 50% kapasiteit mag oopbly.
Die Staatskoerant kan afgelaai word.