Opposisiepartye se geduld is op omdat president Cyril Ramaphosa sloer om die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, in die pad te steek, en eis nou dat sy kop moet rol.
Mkhize is verlede maand deur Ramaphosa op spesiale verlof geplaas hangende ’n ondersoek na die Digital Vibes-skandaal wat na bewering ’n kontrak van miljoene rand op onreëlmatige wyse met die Departement van Gesondheid gesluit het waarvan Mkhize die politieke hoof is.
Die omstrede tender het daartoe gelei dat Ramaphosa die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) gevra het om dit te ondersoek voordat hy oor Mkhize se toekoms besluit.
Die SOE het verlede week bevestig dat die ondersoek afgehandel is en het dokumente by die spesiale tribunaal ingedien om die R150 miljoen-kontrak tussen die Departement van Gesondheid en die kommunikasiemaatskappy Digital Vibes tersyde te stel. ’n Woordvoerder van die SOE, Kaizer Kganyago, het gesê hulle wil die geld wat aan Digital Vibes betaal is, terugkry.
Verskeie mediaberigte het die afgelope week verskyn wat Mkhize daarvan beskuldig dat hy en sy familie finansiële voordeel uit die kontrak getrek het.
Die DA en die Vryheidsfront Plus dring nou daarop aan dat Ramaphosa nie langer durf uitstel om Mkhize te vervang en iemand anders in sy plek aan te stel nie.
Die VF Plus se woordvoerder oor gesondheid, Philip van Staden, sê in ’n verklaring Ramaphosa se weerhouding van die SOE se verslag is besig om die verkeerde seine uit te stuur.
President Cyril Ramaphosa se weerhouding van die spesiale ondersoekeenheid (SOE) se verslag oor Digital Vibes waardeur die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, glo bevoordeel is, is besig om die verkeerde seine uit te stuur.https://t.co/ClSR8qxlkj
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) July 29, 2021
Hy sê dit wil voorkom asof die President in hierdie stadium versigtig is om die verslag bekend te maak. Dit is onaanvaarbaar vir die VF Plus.
“Wie ook al betrokke was en in die verslag genoem word as moontlike betrokkenes by bedrog en korrupsie, moet nie net geopenbaar word nie, maar moet ook die straf kry wat hulle toekom.”
Die SOE het glo bevind die verkrygingsprosedures wat gevolg is om die Nasionale Gesondheidsversekering se kommunikasiestrategiekontrak aan Digital Vibes toe te ken was diep gebrekkig, onwettig en waarskynlik ongeldig.
Van Staden sê dit wil voorkom asof meer persone in die gesondheidsdepartement in hierdie stadium by die skandaal betrek word en daarom is dit in openbare belang dat die President hierdie verslag dadelik bekend moet maak.
“Deur dit nie te doen nie, word die indruk geskep dat verskeie persone wat genoem word, sodoende beskerm word. Intussen sit Suid-Afrika in ’n kritieke stadium van ’n pandemie sonder ’n gesondheidsminister wat leiding moet gee in die stryd teen COVID-19.”
Van Staden dring ook aan dat Ramaphosa moet toesien dat Mkhize voor die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid verskyn om te verduidelik wat die toedrag van sake tussen homself en Digital Vibes is.
Indien hy nie voor die komitee wil verskyn nie, moet die President toesien dat die SOE-verslag sonder versuim uitgereik word sodat die reg sy gang kan gaan en Mkhize en ander betrokkenes vervolg kan word.
Volgens die DA-leier, John Steenhuisen, kan Ramaphosa nie meer twyfel oor die toekoms van Mkhize as minister van gesondheid nie.
Steenhuisen sê in ’n verklaring Mkhize moet nie net ontslaan word nie, maar hy moet ook strafregtelik ondersoek word en die volle mag van die wet in die gesig staar. Volgens hom is die SOE se bevindings die laaste spyker in die kis vir Mkhize.
Die SOE se verklaring aan die spesiale tribunaal bevat volgens die DA genoeg bewyse dat Mkhize afgedank moet word.
President Ramaphosa must fire Zweli Mkhize following the SIU affidavit!
"Not only should Mkhize be fired, but he must also be criminally investigated and face the full might of the law should he be found guilty. " - @Siviwe_G, DA Shadow Minister of Health#MkhizeMustGo pic.twitter.com/zIiI2vKZV1
— Democratic Alliance (@Our_DA) July 30, 2021
Mkhize se seun, Dedani, het egter op sosiale media beweer die SOE was partydig in hulle ondersoek. Volgens hom het hy die SOE genader om sy samewerking aan te bied, maar is hy nooit deur die SOE gekontak nie. Die SOE se woordvoerder, Kaizer Kganyago, sê die bewerings is onwaar.