Opposisiepartye is vies vir die speaker van die parlement omdat sy nie ’n geheime stemming wil toelaat wanneer die parlement volgende week oor die Phala Phala-verslag moet stem nie.
Die uitslag sal bepaal of Cyril Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word of nie.
Opposisiepartye glo die kans is baie groot dat die parlement die omstrede verslag met ’n meerderheidstem sal aanvaar indien parlementslede ’n geheime stem mag uitbring, aangesien heelwat ANC-lede ook van Ramaphosa wil ontslae raak.
Slegs 31 ANC-LP’s se stemme is nodig om die bal aan die rol te sit om Ramaphosa in ’n staat van beskuldiging te plaas. Die ANC het egter reeds opdrag aan sy koukus gegee om volgende week almal teen die aanvaarding van die verslag te stem.
Die aandrang op ’n geheime stemming kom nadat die ANC se Nasionale Werkkomitee (NWK) opdrag gegee het aan ANC-parlementslede om geledere rondom Ramaphosa te sluit en te stem om hom te beskerm wanneer die Nasionale Vergadering die Phala Phala-verslag oorweeg. Dié opdrag is Dinsdag deur die ANC-hoofsweep in die parlement, Pemmy Modjodina, bevestig tydens ’n onderhoud met NewzRoom Africa
Die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sê in ’n verklaring volgende Dinsdag se vergadering sal ten volle fisies wees, met geen voorsiening vir virtuele deelname nie. Die NV se sekretariaat is getaak om ’n geskikte lokaal te verseker wat alle lede sal akkommodeer.
Sy sê daar is ook besluit dat die stemmetode oor die verslag deur middel van ’n oop stembrief en hardop by die naam sal wees, wat beteken daar sal geen geheime stem plaasvind nie en almal sal weet hoe elkeen gestem het.
Die DA sê in ’n verklaring ’n geheime stemming is die enigste manier om parlementslede toe te laat om met hul gewete te stem en nie in partystemblokke nie.
’n Naamlose stemprosedure verseker volgens die DA die nodige deursigtigheid in die parlementêre demokrasie sodat parlementslede in situasies soos dié oor deurslaggewende en lewensveranderende sake in die NV kan stem sonder om geviktimiseer te word deur die party waartoe hulle behoort as hulle nie volgens die party se opdrag stem nie.
ActionSA het ook vroeër die week ’n beroep op die speaker gedoen om ’n geheime stemming te oorweeg.
The Speaker of Parliament, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, must consider a 𝘀𝗲𝗰𝗿𝗲𝘁 𝗯𝗮𝗹𝗹𝗼𝘁 for the vote on the Phala Phala Section 89 panel recommendations tomorrow.
"Let members of parliament vote without fear or favour!" - @HermanMashabahttps://t.co/pajhrwqTbE
— ActionSA (@Action4SA) December 5, 2022
Die party sê in hulle verklaring dit is die eerste keer dat die parlement die reëls rondom die Artikel 89-proses op die proef stel, en hulle glo die erns van hierdie situasie regverdig dit dat die speaker haar diskresie moet uitoefen en ’n geheime stemming moes toelaat.
Die speaker het volgens ActionSA ’n plig teenoor die mense van Suid-Afrika om onafhanklikheid uit te oefen en nie toe te laat dat die proses polities vasgevang word deur die ANC se onbehoorlike invloed nie.
As Ramaphosa inderdaad niks verkeerd gedoen het nie, hoekom probeer die ANC om die regte proses te omseil? ’n Mens sou dink dat dit beter sou wees vir die President om sy saak te stel en deur ’n parlementêre proses vrygeskeld te word eerder as deur siniese ANC-besluite, sê ActionSA.
Die party sê Suid-Afrika moes oor die afgelope dekade toekyk hoe politieke leiers wat kriminele klagte in die gesig staar, telkens die Grondwet probeer omseil terwyl die land desperaat op soek is na etiese leierskap.
“Die geskiedenis moet homself nie in hierdie verband herhaal nie en president Ramaphosa moet aan behoorlike prosesse onderwerp word sodat Suid-Afrikaners hulself kan oortuig dat geregtigheid in hierdie saak geskied,” sê ActionSA.
Lees ook:
Seen elsewhere: Phala Phala and the rather dubious provenance of the allegations