Sowat 30 organisasies het Dinsdag tydens ’n werkswinkel ’n resolusie onderteken om die voorgestelde wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming te beveg. Politieke partye, meningsvormers en ander organisasies het die werkswinkel bygewoon.
In die resolusie onderneem die deelnemers om “die regering se stelsel van maatskaplike manipulasie” te verwerp en protes teen die wet aan te teken.
Deelnemers aan die program en samesprekings het DA-leier John Steenhuisen, Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, Piet le Roux van Sakeliga, Gerhard Papenfus van die werkgewersorganisasie Neasa , en bekendes soos die aktivis Sihle Ngobese, Renè Govender, Phumlani Majozi en Theuns Eloff ingesluit.
Solidariteit sê in ’n verklaring hierdie wet en sy regulasies gee aan die minister van indiensneming en arbeid die mag om die Suid-Afrikaanse samelewing op grond van ras te manipuleer.
PRESS RELEASE
“The government’s political games will cause a bloodbath in the labour market. It poses a threat to the country’s economy and to the well-being of South African citizens." @SolidariDirk @BDliveSA @IOL @NewsThecitizen @ewnreporter @TimesLIVE https://t.co/yt8qyvy9TZ— Solidariteit (@solidariteit) June 6, 2023
Die DA sê hulle gaan nog vandeesweek met regstappe begin om verskeie afdelings van die Wysigingswet op Diensbillikheid ongrondwetlik en ongeldig verklaar te kry.
Die DA en burgerlike organisasies beskuldig die Departement van Arbeid daarvan dat hulle probeer om die Wet op Gelyke Indiensneming (EEA) te wysig om Indiër-, bruin en wit werkers uit die weg te ruim.
“Ons het vandag geskiedenis gemaak. Dit was een van die grootste samekomste van politieke partye en burgerlike organisasies nóg. Elkeen wat hier teenwoordig is, deel die oortuiging dat ons besliste optrede teen die vergrype van die regering moet onderneem. Daar is vanuit werkswinkelgeledere besluit dat elke organisasie en party van hier af aan sal voortgaan om hulself teen hierdie raswet te verset en ons het ’n gesamentlike resolusie onderteken waarin ons onsself hiertoe verbind. Hierdie onreg sal doodeenvoudig nie verder geduld word nie,” sê Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.
Die ANC en Cosatu verwerp die bewerings dat die wet minderheidsgroepe wil teiken en sê die opposisie speel politieke speletjies. Volgens die ANC is die party ingestel op ’n nierassige samelewing en dit sou dit teenstrydig wees met die hele etos van die ANC om teen sekere groepe te diskrimineer.
The DA will this week launch court action to declare various sections of the Employment Equity Amendment Act unconstitutional and invalid.
The ANC’s race quota law is designed not to grow the economy, but to sow racial division for political purposes.
Read more:… pic.twitter.com/Oa6m8j7o9x
— Democratic Alliance (@Our_DA) June 6, 2023
Die Wet bemagtig die minister om kwotas te bepaal wat die spesifieke demografiese samestelling spesifiseer wat aangewese werkgewers moet bereik.
Steenhuisen sê dit skend die grondwetlike regte op gelykheid, op vryheid van handel, beroep en professie, en op die oorspronklike Wet op Gelyke Indiensneming se eie verbod op kwotas.
“Die gewysigde wet verteenwoordig ’n radikale, ongrondwetlike en gevaarlike intensivering van die ANC se rasgebaseerde sosiale manipulering. Dit bied geen buigsaamheid aan werkgewers om te bepaal wat haalbaar is in hul eie besigheidsomgewing nie, maar sentraliseer eerder mag in die hande van een minister om die rassesamestelling van werkplekke regoor die land te dikteer.”
In sommige provinsies en sektore stel dit die kwota vir bruin en Indiër-Suid-Afrikaners op 0,0% en 0,1%. In ander gevalle, soos in die Noord-Kaap, sal maatskappye die wet oortree as hulle “te veel” swart vroue in diens neem.
Solidariteit het reeds verlede week aan minstens 2 000 van Suid-Afrika se groot maatskappye geskryf en hulle gevra om protes teen die regering se nuutste “raswette” aan te teken.
Maatskappye word gevra om kollektief te weier om die wet te implementeer, om politieke druk op die regering uit te oefen en om tot die regstryd toe te tree.
Dirk Hermann skryf dat dit nie nou tyd vir klakkelose gehoorsaamheid is nie, maar vir positiewe protes, en sê dit sal goed wees vir almal in Suid-Afrika.
Die skrywe wys ook daarop dat die nuwe wet werkgewers hulle reg om besigheid te doen ontneem, en werknemers hulle reg om volgens die vakbond van hulle keuse te werk.
Steenhuisen het hom en sy party opnuut daartoe verbind om saam met alle vennote, politieke partye en die burgerlike samelewing te werk om ’n oorwinning in volgende jaar se verkiesing te behaal deur middel van sy voorgestelde koalisiepakt.
Herman Mashaba, president van ActionSA, sê hoewel hulle ekonomiese transformasie ondersteun, hulle bekommerd is dat die wysiging die gemarginaliseerdes kan uitsluit.
Mashaba sê Suid-Afrika se ondervinding oor die afgelope paar dekades het getoon dat billikheid nie bereik kan word deur streng numeriese teikens wat deur die voorgestelde indiensnemingsregulasies gestel word nie.