Die bevindings in die Zondo-kommissie se eerste verslag oor bewerings van staatskaping maak steeds opslae. Politieke partye eis dat daar nou dringend opgetree word teen diegene wat in die verslag geïmpliseer word.
Die DA en die Vryheidsfront Plus het albei in sterk bewoorde verklarings druk op president Cyril Ramaphosa uitgeoefen om toe te sien dat die kommissie se aanbevelings uitgevoer word.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het in sy verklaring ’n beroep op Ramaphosa gedoen om die eerste Zondo-verslag in die parlement ter tafel te lê sodat die wetgewende vleuel van die land se grondwetlike demokrasie aan die werk kan kom om die bevindings te bestudeer en die nodige stappe te doen.
As the first of three reports from the Commission of Inquiry into State Capture was handed to President Ramaphosa, our nation must now embark on the arduous journey of ridding our country of impunity and political unaccountability by charging the accused.https://t.co/Pl6hXn1t0U
— John Steenhuisen MP (@jsteenhuisen) January 5, 2022
Die VF Plus se leier, Pieter Groenewald, het op sy beurt gesê die werk en aanbevelings van die Zondo-kommissie sal vir belastingbetalers van waarde wees slegs indien daar opgetree word om die aanbevelings uit te voer.
Sedert die kommissie op 21 Augustus 2018 met sy werksaamhede begin het, het dit die staat reeds sowat R1 miljard gekos.
Groenewald sê in ’n verklaring die aandag sal nou op Ramaphosa gefokus word om te sien of die kommissie se aanbevelings wel uitgevoer gaan word.
Sedert die kommissie op 21 Augustus 2018 met sy werksaamhede begin het, het dit die staat reeds sowat R1 miljard gekos.
Die aandag sal nou gefokus word op president Cyril Ramaphosa om te sien of die kommissie se aanbevelings wel uitgevoer gaan word.https://t.co/sWOPWhkxPz
— VRYHEIDSFRONT PLUS / FREEDOM FRONT PLUS (@VFPlus) January 5, 2022
“Indien dit nie gedoen word nie, sou dit beteken dat die ondersoek van langer as drie jaar ’n vermorsing van tyd en belastingbetalers se geld was,” het Groenewald gesê.
Deel een van die verslag beveel onder meer aan dat ’n onafhanklike teenkorrupsie-agentskap vir Suid-Afrika in die lewe geroep word. So ’n agentskap moet in staat gestel word om sonder politieke of regeringsinmenging op te tree.
Groenewald sê die VF Plus steun hierdie voorstel. Hy sê korrupsie is omvangryk in Suid-Afrika en dit sou nie help om dit binne politieke verband te probeer hanteer of te bestry nie. Om hierdie rede is dit belangrik om die aanbevelings behoorlik te implementeer.
Hy sê die kommissie se aanbevelings oor vervolging is in werklikheid ’n belediging vir die land se strafregstelsel. “Indien dié stelsel behoorlik gefunksioneer het, sou daar reeds optrede teen die betrokke persone moes wees aangesien die gebeure rondom staatskaping bekend en goed gedokumenteer is.”
Volgens Steenhuisen het die ANC se “deurdringende en verraderlike styl van korrupsie en tendermanipulasie” veels te lank gehelp om die staatsdiens uit te hol, tenders aan vriende en familie toe te ken, en belastingbetalers te beroof van die dienste waarvoor hulle betaal.
Hy sê die verwoestende brand by die Nasionale Vergadering die afgelope week het dalk die bakstene en beton van die gebou beskadig, maar die parlement en sy plig teenoor die mense van Suid-Afrika moet sterk en effektief bly terwyl die land ’n deurslaggewende tydperk in die postdemokratiese geskiedenis binnegaan, vir beide politieke aanspreeklikheid en grondwetlike demokrasie.
“Maar, nog belangriker, die ANC se kultuur van politieke ontoerekeningsvatbaarheid en straffeloosheid moet verval as ons ’n presedent wil skep om die grootskaalse inname van die staat deur politici ooit weer te weerhou.”
Steenhuisen sê die DA sal nie buig voor dreigemente van “politieke terrorisme” deur diegene wat poog om ondersoek en vervolging te ontduik nie. “Of dit nou beweerde dade van sabotasie op ons geboue en instellings is, aanhitsing tot geweld deur politici en hul soort, of enige ander pogings om politieke aanspreeklikheid te laat ontspoor, ons sal tot die einde toe veg om te verseker dat Suid-Afrika ’n regering van deursigtigheid en integriteit het, gebaseer op die grondbeginsels van ons grondwetlike demokrasie.”
Hy sê Suid-Afrikaners het oor die jare talle kommissies van ondersoek, ondersoeke en verslae gesien wat tot geen vervolging en geen gevolge gelei het vir diegene wat geïmpliseer is nie. Daarom sal die DA verseker dat Zondo se bevindings geïmplementeer word.