Opposisiepartye eis spoedige optrede na Zondo-verslag

  • 0

Opposisiepartye eis dat daar onmiddellik met daadwerklike optrede begin word teen diegene wat na bewering verantwoordelik was vir staatskaping en wie se name in die Zondo-verslag genoem word.

ActionSA en die DA het die afgelope week albei laat blyk dat hulle nie daarvoor te vinde is dat daar langer gesloer word om die moontlike skuldiges aan die pen te laat ry nie.

Die DA het strafregtelike klagte teen die ANC aanhangig gemaak, terwyl Herman Mashaba, leier van ActionSA, die nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, versoek het om die land dringend in haar vertroue te neem oor die vordering wat gemaak word om die skuldiges aan te keer.

Mashaba het in ’n verklaring gesê ActionSA eis dat daar binne sewe dae kriminele klagtes ingestel word teen diegene wat in die Zondo-verslag geïmpliseer word. Hy sê indien dit nie gebeur nie, sal hy self as president van ActionSA en as Suid-Afrikaanse burger geen ander opsie hê as om persoonlik kriminele klagte te lê teen diegene wat in die verslag genoem word.

Intussen het die DA reeds Woensdag strafregtelike klagte gelê en versoek dat die ANC, wat volgens die party “soos ’n kriminele sindikaat” opgetree het, ondersoek word vir sistemiese en berekende rampokkery-aktiwiteite oor baie jare.

Die DA het al in Maart 2019 aan Batohi geskryf en versoek dat die ANC ondersoek word vir beweerde sistemiese en berekende bedrog, rampokkery, korrupsie, plundering van openbare geld en verwante oortredings oor die afgelope twee dekades.

Volgens die DA het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) meer as drie jaar later nog geen sigbare stappe gedoen om die ANC vir hierdie beweerde misdade te ondersoek nie.

Die party sê in ’n verklaring hulle het nou die bewyse, wat deur die Zondo-kommissie verkry is, om so ’n ondersoek en so ’n aanklag te regverdig.

“Vir die Zondo-kommissie om enige geloofwaardigheid in die oë van gewone Suid-Afrikaners te hê, moet kriminele klagtes, arrestasies en vervolgings nou volg.”

Mashaba sê in sy verklaring Suid-Afrikaners moes eindelose gevalle van ongebreidelde korrupsie en algehele ineenstorting in die morele vesel van die regering verduur, wat deur die Geregtelike Kommissie van Ondersoek na Staatskaping blootgelê is.

“Byna 4 jaar later, met meer as 5 000 bladsye en meer as R1 miljard wat deur belastingbetalers in hierdie pynlike maar noodsaaklike oefening uitbetaal is, het ons nog geen konkrete uitkomste gesien nie.”

Hy sê sy party het hierdie versoek aan die NDOV gerig in ooreenstemming met die mandaat van die NVG soos uiteengesit in artikel 179(2) van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, wat dien as die basis vir die NVG om strafregtelike verrigtinge in te stel.

Indien die NVG versuim om die individue wat in die Zondo-verslag genoem word, te vervolg, sal ActionSA vir elkeen van die gevalle aansoek doen vir ’n nolle prosequi-sertifikaat van die staat wat private vervolging moontlik maak. “Sodra ons dit ontvang het, sal ons self met enige nodige private vervolging begin,” het Mashaba gesê.

Hy sê die oorlog teen sistemiese korrupsie vereis dringende en vinnige optrede. “Inhegtenisnemings moet bewerkstellig word met gevolglike vervolging en tronkstraf, wat betekenis sal gee aan die Zondo-kommissie se bevindings oor na staatskaping.”

Enige vertraging in hierdie proses sal met reg deur alle Suid-Afrikaners verwerp word. As daar nie opgetree word nie, sal die doel van die kommissie nutteloos en sinneloos gemaak word, het Mashaba gesê.

Eyewitness News het vroeër berig die ekonoom Iraj Abedian sê nie net regeringsamptenare nie, maar ook maatskappye wat betrokke is by die moontlikheid van staatskaping, moet verantwoordelik gehou word.

Abedian is die hoof- uitvoerende beampte van Pan-Afrikaanse Beleggings- en Navorsingsdienste. Hy sê hierdie firmas moet “terugbetalings” maak vir die ekonomiese skade wat hulle die land help aanrig het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top