Oproepe om fluitjieblasers te beskerm te midde van gewelddadige moorde

  • 0

Oproepe om fluitjieblasers te beskerm, asook die aandrang deur Suid-Afrikaners vir die onmiddellike indiening van die lank beloofde Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers, is besig om landwyd toe te neem.

Hierdie druk kom veral in die lig van onlangse sluipmoorde op en intimidasie van fluitjieblasers, getuies en regsrolspelers, wat ’n skrikwekkende patroon van geweld blootlê. Politieke partye, soos die DA, en organisasies, soos Corruption Watch (CW) en Freedom Under Law (FUL), is besig om hul stemme te verhef, terwyl burgerlikesamelewingsgroepe en aktiviste waarsku dat vertragings in die wetgewing lewens kos.

Amnestie Internasionaal in Suid-Afrika sê die onlangse moord op die prokureur Bouwer van Niekerk skets ’n dodelike prentjie vir diegene wat op alle vlakke in Suid-Afrika vir verantwoordbaarheid veg. “Sy moord beklemtoon die voortdurende patroon van die stilmaak van prokureurs, ouditeure, joernaliste en fluitjieblasers wat korrupsie bekamp.”

Die organisasie sê dit gaan nie net oor aanvalle op individue nie, maar ook oor die bedreiging van geregtigheid en verantwoordbaarheid in Suid-Afrika.

Volgens hulle moet die regering en die polisie verseker dat hierdie moorde en enige dreigemente beantwoord moet word met tydige en deeglike ondersoeke wat ook tot vervolging lei. Dit sal ’n boodskap stuur dat hierdie aanvalle nie geduld sal word nie.

Hulle wil weet waar is die dringendheid in die President se verbintenis om fluitjieblasers, en almal wat vir verantwoordbaarheid veg, te beskerm.

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Fluitjieblasers, wat volg op aanbevelings uit die Zondo-kommissie se verslag van 2022, is bedoel om bestaande wette, soos die Wet op Beskermde Bekendmakings (PDA) en die Wet op Getuiebeskerming, te versterk.

Voormalige hoofregter Raymond Zondo het beklemtoon dat Suid-Afrika kennis moet neem van die VN-konvensie teen korrupsie om fluitjieblasers beter te ondersteun. Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het in Junie 2023 reeds ’n besprekingsdokument gepubliseer en openbare voorleggings gevra, maar ondanks beloftes is die wetsontwerp nog nie in die parlement ter tafel gelê nie. Ramaphosa het in sy Staatsrede in Februarie 2025 belowe dat die wetsontwerp binne die boekjaar ingedien sou word, maar maande later is daar nog geen aksie nie.

Die DA se woordvoerder oor justisie, Glynnis Breytenbach, het die afgelope week ’n verklaring uitgereik waarin die DA die minister van justisie, Mmamoloko Kubayi, dringend versoek om die wetsontwerp in te dien.

Die DA beskryf Suid-Afrika as ’n “mafiastaat” waar fluitjieblasers, aanklaers en polisiebeamptes straffeloos vermoor word om geregtigheid te ondermyn. Die party het selfs ’n privaat wetsontwerp opgestel om beskerming uit te brei, maar kla oor die regering se stilte.

Corruption Watch het die wetsontwerp verwelkom, maar beklemtoon dat dit fluitjieblasers die fokuspunt moet maak. Hul voorleggings sluit in die stig van ’n agentskap vir advies en ondersteuning, ’n openbare opvoedingsveldtog om stigmas te verminder, en die toewysing van geld uit die herwinningsrekening vir kriminele bates vir regs-, sekuriteits- en geestelike bystand. Boonop stel hulle sanksies voor teen intimideerders en die uitbreiding van beskerming na kontrakteurs, fluitjieblasers en familielede.

Openbare sentiment op sosiale media weerspieël hierdie frustrasie. Op X het gebruikers soos Amnestie Internasionaal se plaaslike tak die moord op Van Niekerk gekoppel aan ’n breër aanval op verantwoorbaarheid en gevra vir dringende ondersoeke deur die regering en polisie. Ander gebruikers het opgemerk dat fluitjieblasers nie beskerm word nie en dat hulle selfs intimidasie van owerhede in die gesig staar, wat mense ontmoedig om misdade aan te meld.

Van die plasings stel selfs voor dat die doodstraf heringestel word vir moordenaars van fluitjieblasers om korrupsie te bekamp.

Human Rights Watch het reeds in Maart 2025 gewaarsku dat die regering se verbintenis in aksie omgesit moet word, aangesien fluitjieblasers se regte op lewe, veiligheid en vryheid van uitdrukking gereeld geskend word. Sonder dringende optrede, sê aktiviste, sal Suid-Afrika se demokrasie en regsorde verder ondermyn word.

Die vraag bly: Sal die parlement optree voor nog ’n lewe verlore gaan?

Lees ook:

Persverklaring: PEN Afrikaans veroordeel die sluipmoord op Bouwer van Niekerk ten sterkste

Wat sê Bettina? Is korrupsie-ontbloting doodsake?

Kriminele kartelle maak van Suid-Afrika ’n tweede Meksiko

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top