Oproepe om weg te doen met ramptoestand, maskers en ander Covid-regulasies

  • 0

Daar bestaan geen regverdiging meer vir die nasionale ramptoestand om die koronavirus te help bekamp nie. Dit behoort opgehef te word wanneer dit Saterdag (15 Januarie) verval.

Dit is die mening van wetenskaplikes en politici wat ’n beroep op Cyril Ramaphosa gedoen het om dit nie weer te hernu nie, omdat dit volgens hulle meer skade as goed aanrig.

Met die einde van die vierde golf van Covid wat op die horison wink, behoort dit volgens talle kenners ook die einde te wees van die nasionale ramptoestand. Suid-Afrikaners gaan bykans reeds twee jaar daaronder gebuk.

Baie wetenskaplikes meen die ramptoestand is nie meer nodig vir die bestuur van die virus nie terwyl politici en sakelui sê dit ondermyn ook die demokrasie en die ekonomie.

Hulle sê die pandemie het endemies in Suid-Afrika geword. Die land moet terugkeer na normale lewens en aanvaar die virus sal voortgaan om net soos ander virusse te sirkuleer.

Sedert die ramptoestand die einde van Maart 2020 verklaar is, is dit reeds 22 keer verleng. Die regulasies wat daarmee gepaard gaan, is reeds 19 keer verleng na hul eerste einddatum van Junie 2020.

Die nasionale ramptoestand word ingevolge die Wet op Rampbestuur verklaar en laat Nkosazana Dlamini-Zuma, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, toe om regulasies sonder parlementêre toesig te maak. Dit was oënskynlik om die tempo van infeksie te vertraag en die las op die gesondheidstelsel te verminder.

Die wet bepaal dat hoewel die ramptoestand aanvanklik op 15 Junie 2020 sou verval het, die betrokke minister dit by kennisgewing in die staatskoerant vir een maand op ’n keer kan verleng.

Die dekaan van die Universiteit van die Witwatersrand se Fakulteit Gesondheidswetenskappe en professor in entstofkunde, Shabir Madhi, het volgens  BusinessTech gesê daar is geen rede om die ramptoestand te hernu nie.

Hy sê die land het reeds effektief alle beperkings opgehef en daar moet nou aan die herbou van die ekonomie gewerk word. Die Nasionale Koronavirusbevelsraad het ook groter toesig nodig, het hy gesê.

Dit volg nadat Nicholas Crisp, waarnemende adjunkdirekteur-generaal van die Departement van Gesondheid, gesê het die ramptoestand is steeds nodig om uitvoering te gee aan die afdwing van regulasies soos die dra van maskers in die openbaar.

Die DA sê in ’n verklaring die ramptoestand het niks meer as ’n dekmantel geword vir die verhoging van gesentraliseerde beheer en ontduiking van aanspreeklikheid nie.

Die DA-leier, John Steenhuisen, sê Suid-Afrika het sekerheid nodig. “Beleggers het dit nodig, toeriste het dit nodig, onderwysers het dit nodig en skoolkinders het dit nodig. Skoolkinders moet voltyds skool toe gaan. Nie ’n paar dae ’n week nie.”

Steenhuisen sê mense moet weet hulle kan in besighede, groot of klein, belê sonder dat die spelreëls skielik verander. “Sonder investering sal daar geen werkskepping en geen volhoubare armoedeverligting wees nie.”

Die Nasionale Koronavirus-bevelsraad is volgens hom diep ondemokraties. “Daar is groot risiko vir ons demokrasie in ’n klein groepie individue wat namens ons almal besluite neem sonder parlementêre toesig en ander demokratiese kontrole oor mag,” sê Steenhuisen.

Hy sê verder reëls soos die dra van maskers in die buitelug, ontsmetting van die hande, temperatuursifting en kontakopsporing, toetsing en isolasie van asimptomatiese kontakte het ook irrasioneel geword, hou min voordeel in en kom teen ’n enorme sosiale prys.

“Dit ondermyn die oppergesag van die reg en lei wetstoepassing af daarvan om werklike misdade te voorkom wat ’n werklike impak op openbare veiligheid het. Hierdie reëls moet geskrap word, en slegs rasionele protokolle moet behou word wat volgens ’n kostevoordeel-analise geregverdig kan word, soos maskers in hoërisiko-instellings,” het Steenhuisen gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top