Suid-Afrikaners het Woensdag landwyd op verskillende plekke teen geweld op vroue en kinders betoog.
In Kaapstad het duisende betogers by die parlement byeengekom en na die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) beweeg waar die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) besig was om te vergader.
Die betogers het hulle woede uitgespreek teenoor die voortslepende geweld wat teen vroue en kinders gepleeg word.
Vroeër die week het president Ramaphosa gesê die gewelddadige aanvalle op vroue is ’n klad op die nasie se gewete. Die president het gesê die moord op die student van die Universiteit van Kaapstad, Uyinene Mrwetyana en die kampioenbokser, Leighandre Jegels, is bewys dat vroue nie veilig is in hulle huise en in die strate nie. “Dit is ’n baie donker tyd in die land se geskiedenis,” het die president gesê.
Die 19-jarige Uyinene Mrwetyana se liggaam is Maandag in Khayelitsha op die Kaapse Vlakte gevind, ná sy vir langer as ’n week vermis was. Duisende Suid-Afrikaners het hulle tot sosiale media gewend waar hulle vir die hervorming van die strafregstelsel vra, ná die onlangse voorvalle van geslagsgeweld.
In ’n ander voorval is die gemeenskap van Wyebank wes van Durban getraumatiseer oor die dood van vier kinders wat na bewering deur hulle pa vermoor is. Drie van die kinders – onderskeidelik vier, ses en tien jaar oud – is in hulle huis opgehang. Die liggaam van die oudste suster is later in ’n beboste gebied by New Germany gekry, waar sy opgehang is. Die polisie is op soek na die pa wat die laaste persoon was wat saam met hulle gesien is. Die jongste drie kinders is die man se biologiese kinders en die 17-jarige sy stiefdogter.
Ramaphosa het gesê die regering onderneem om taakgroepe saam te stel wat op ’n doelgerigte manier kan aandag skenk aan alle vorms van geweld, veral geweld wat op vroue, kinders en gemarginaliseerde groepe gerig is.
We commit to investing in emergency teams at a provincial level (police, social development, health, justice, education) that will drive rapid and comprehensive responses to all forms of violence, particularly those directed at womxn and other marginalized groups.
— Cyril Ramaphosa 🇿🇦 (@CyrilRamaphosa) September 3, 2019
President Ramaphosa sê die regering werk daaraan om te verseker dat Suid-Afrika ’n veilige hawe is vir almal wat hier woon. Hy het in Kaapstad by ’n interaktiewe sessie van sakelui by die WEF oor Afrika gepraat, om vrese te besweer oor die onlangse aanvalle op buitelanders en die moorde op vroue. Die president sê die polisie werk hard om veiligheid binne die landsgrense te verseker.
By die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) het die spanning Woensdag hoog geloop ná gerugte dat ’n student by die universiteit verkrag is. Dit het gevolg nadat Twittergebruikers Woensdagoggend twiets die wêreld ingestuur het van ’n beweerde verkragting van een van die universiteit se studente op die kampus.
Bewerings van die verkragting het gemoedere op die Belville-Suid-kampus van die UWK laat opvlam en skote is afgevuur toe die polisie en betogers slaags geraak het.
Volgens ’n stemboodskap wat op sosiale media versprei is, is ’n meisie Dinsdagaand op die universiteit se kampus verkrag. Die polisie is na die Kovacks-studentekompleks ontbied nadat studente daarheen opgeruk het om die vermeende verkragter aan te keer.
Die polisie het later gesê geen student is verkrag nie maar het bevestig dat hulle wel na die kampus ontbied is. ’n Polisiebron het ook volgens Netwerk24 bevestig dat daar skote afgevuur is.
This students are unarmed and not vandalizing anything, why is the SAPS shooting them? And are the injured Students getting any aid? @UWConline #UWCShutdown pic.twitter.com/6qFEHq4RMv
— Fortune Fano (@Fortunemcedisi) September 4, 2019
Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het in ’n verklaring ook gevra vir die einde van geweld teen vroue. Die SAMRK sê die geweld teen vroue en kinders wat die land die afgelope weke weer geruk het, moet tot ’n einde kom. Die SAMRK het onder andere verwys na die ontvoering van die sesjarige Amy-Lee de Jager in Vanderbijlpark op 2 September voor haal skool, en die wrede moord op die 19-jarige student, Uyinene Mrwetyana.
Die kommissie sê hierdie voortslepende aanslag op vroue en kinders bly ’n bedreiging vir die land. Die kommissie het ’n beroep op alle lede van die samelewing gedoen om die gety van geweld teen vroue en kinders te help stop.
Buro: MvH