Verskeie organisasies en individue beplan om eerskomende Saterdag hulle stem dik te maak teen die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, se planne om die Afrikaanse Taalmonument se naam te verander.
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier Saterdag Internasionale Museumdag in die Paarl. Die gehoor sal die geleentheid hê om kommentaar te lewer oor die moontlike naamsverandering wat Afrikaanssprekendes die afgelope week warm onder die kraag het.
Die DA het reeds aangekondig dat hulle Saterdag by die Taalmonument wil betoog teen die moontlike naamsverandering, terwyl organisasies soos DAK Netwerk en AfriForum ook uitgevaar het teen Mthethwa se planne.
Die uitvoerende hoof van die ATM, Michael Jonas, het in ’n verklaring bevestig dat Mthethwa op 10 Maart 2022 in Pretoria gesê het dat die ATM se naam moet verander. Dit was tydens die jaarlikse ondertekeningseremonie van die aandeelhouerooreenkoms tussen die departement en alle hoofde en voorsitters van die openbare entiteite wat onder sy portefeulje val.
Jonas sê in reaksie daarop het die ATM besluit om ’n konsultasieproses van stapel te stuur om die haalbaarheid van ’n moontlike naamsverandering te ondersoek.
’n Strategiese beplanningsessie met die ATM-raadslede word Donderdag en Vrydag (26 en 27 Mei 2022) gehou, gevolg deur ’n openbare vergadering op 28 Mei in die Paarl by die Strooidakkerk se saal waartydens die publiek se insette gevra sal word.
Jonas sê daar is nie tans enige voorstelle nie, en wat die pad vorentoe betref, sal die ATM hulle deur die resultate van die vergaderings laat lei. “Tot dan verkies die ATM se raad en bestuur om nie verdere openbare kommentaar te lewer nie om sodoende nie die proses vooruit te loop nie,” het Jonas gesê.
Die DA sê in ’n verklaring hulle sal hierdie naamsverandering met hand en tand beveg. Die party sê hulle sal aanhou veg vir die behoorlike versorging van alle erfenisterreine in Suid-Afrika.
“Die hernoeming van die Afrikaanse Taalmonument is nog ’n voorbeeld van geld wat op die minister se persoonlike agenda vermors word,” sê Veronica van Dyk, die DA se adjunkskaduminister oor sport, kuns en kultuur.
Volgens die DA het die minister weer eens in ’n situasie beland sonder om behoorlike navorsing te doen oor die positiewe impak wat die Taalmonument op baie minderheidstaalgroepe het.
Die voorsitter van DAK Netwerk, Danie van Wyk, sê “die ikoniese Afrikaanse Taalmonument is onder beleg geplaas” deur minister Mthethwa.
Sy “ononderhandelbare” voorstel dat die ATM ’n naamsverandering moet ondergaan, is absurd, sê Van Wyk. “Die monument was ontwerp en opgerig om die status van Afrikaans as ’n inheemse taal te vier en te omarm.”
Van Wyk sê dit is ’n gegewe dat daar ’n tyd van uitsluiting van benadeelde Afrikaanssprekendes in die geskiedenis van die ATM was. “Daai hekkie is egter lankal oorgesteek en die monument is vandag ’n baken van inklusiwiteit. Om nóú voor te stel dat die naam verander moet word wys daarop dat die minister nie die geskiedenis van Afrikaans ken nie en hom skuldig maak aan ’n veldtog om alles wat ruik en lyk na Afrikaans, te verwyder en uit die weg te ruim.”
Volgens Van wyk is dit ’n totale aanslag teen Afrikaans in samewerking met sy ministerskollega, Blade Nzimande.
AfriForum het ook uitgevaar teen die minister se skynbare planne om die naam van die Afrikaanse Taalmonument en -museum te verander deur “Afrikaanse” uit die naam te verwyder en om aan die instelling ’n sogenaamde meer inklusiewe aard te gee.
Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, sal die verandering van die naam en fokus van die instelling gemeenskappe in die land net verder polariseer. “Afrikaners en Afrikaanssprekendes het die reg, soos enige ander gemeenskap in die wêreld, op die gebruik van hulle taal en op erfenisbakens wat hulle bydrae tot die geskiedenis van die land herdenk. Dit is ’n reg wat ook in die aanhef van die Suid-Afrikaanse Grondwet erken word,” sê Bailey.
Die ATM is volgens Bailey een van die mees inklusiewe instellings in die land wat al dekades lank brûe na alle gemeenskappe bou.
Sy sê Mthethwa en ander regeringslui se herhaaldelike aanslae teen Afrikaanse erfenisbakens en die taal self skep ongelukkig die indruk dat inklusiwiteit of nasiebou nie deel van die agenda is nie, maar slegs weerwraak teen een spesifieke gemeenskap.
Belanghebbendes wat nie die geleentheid op 28 Mei kan bywoon nie en kommentaar wil lewer, kan ’n e-pos na admin@taalmuseum.co.za stuur.