Die tragedie waarin 21 jongmense die afgelope naweek in ’n taverne in Oos-Londen dood is, was moontlik die gevolg van koolstofmonoksiedvergiftiging wat deur ’n petrolkragopwekker veroorsaak is.
Voorlopige lykskouingsuitslae sal na verwagting later vandeesweek bekendgemaak word.
Die Nasionale Jeugontwikkelingsagentskap (NYDA) het Woensdag in ’n verklaring aangedring op antwoorde waarom klubs en tavernes nie doeltreffend polisieer word nie.
NYDA het ’n beroep op die wetstoepassingsowerhede gedoen om ’n deursigtige en spoedige ondersoek te doen, en om diegene wat vir hierdie tragedie verantwoordelik is, tot verantwoording te roep.
“Ons kan nie toelaat dat die dood van jongmense tevergeefs is nie,” het NYDA gesê.
Die taverne in Scenery Park, Oos-Londen waar die tragedie plaasgevind het, is nie ’n uitsondering waar minderjariges toegelaat word om te drink nie. NYDA sê in hulle verklaring die wet moet baie strenger toegepas word om die aktiwiteite by tavernes en klubs te monitor.
“Ons sal ons eweknieë by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) betrek om uit te vind hoekom klubs en tavernes nie doeltreffend polisieer word nie. Dit is nie ’n geïsoleerde voorval waar tavernes minderjarige drinkery toelaat nie,” het NYDA Dinsdag gesê.
The National Youth Development Agency @NYDARSA has called for the effective policing of clubs and taverns after the tragic death of 21 teenagers at a local tavern in Scenery Park, East London https://t.co/FwmmxXZGQT #Enyobeni
— @SAgovnews (@SAgovnews) June 29, 2022
Die Oos-Kaapse Departement van Gesondheid sê hulle het 16 oorlewendes behandel en ontslaan.
Die bestuur van die SAPD het reeds ’n hoëvlak-ondersoek na die tragiese dood van die tieners by die taverne in Scenery Park gelas.
Die polisie van die Scenery Park-polisiestasie het Sondagoggend omstreeks vieruur berig ontvang van die lewelose liggame van die tieners by die taverne.
Athlenda Mathe, SAPD-woordvoerder, het gesê: “Met hulle aankoms het die polisie sewentien lyke binne die gebou gevind. Daar is later vasgestel dat nog twee by ’n plaaslike kliniek gesterf het, een het op pad hospitaal toe gesterf en nog een het in die hospitaal gesterf.”
Nege van die oorledenes is meisies en twaalf is seuns.
Die regering het ’n interministeriële komitee aangestel om regeringsondersteuning aan die families van die 21 slagoffers te koördineer.
Government has appointed an inter ministerial committee (IMC) to coordinate government support to the families of the 21 victims of the Scenery Park Tragedy. #EnyobeniTavern pic.twitter.com/DJPykzopGF
— South African Government (@GovernmentZA) June 29, 2022
Sondag het Bheki Cele, minister van polisie, en Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris-generaal, ’n hoëvlak-afvaardiging van misdaadtoneelkundiges na die toneel gelei.
Die ACDP het vroeër op Twitter bespiegel dat die oorsaak van die tieners se dood ook dwelmverwante vergiftiging of vergiftigde drankies of “pepersproei/traangas” kon wees.
Die ACDP sê dit lyk asof iemand by die taverne besig was met ’n rituele offer gegewe die “All black”-tema en “kuzofiwa”-hutsmerk. Die party sê die eienaar moet verantwoordelik gehou word.
This could either be
a) Drug related poisoning
Or
b) Poisoned drinks
Or
c) That "pepper spray/tear gas"Either way this looks like someone at #EnyobeniTavern was busy with a sacrificial exercise given the "All black" theme and "kuzofiwa" tagline! The owner MUST account! https://t.co/z4ZMHb8duI
— Tlotliso wa ACDP 🇿🇦🇮🇱🇱🇸 (@TlotlisoM_) June 29, 2022
Die TV-nuuskanaal eNCA het ook berig dat chemiese vergiftiging geïdentifiseer is as die oorsaak van die kinders se dood. Volgens eNCA moet die owerhede nog vasstel wat die spesifieke chemikalieë is wat ingeasem is.
News24 het berig dat die kinders glo deur koolstofmonoksied vergiftig is, wat moontlik is weens ’n leë petrolkragopwekker wat op die perseel gevind is.
Koolstofmonoksied is ’n kleurlose, reuklose giftige gas wat ook geen smaak het nie. As jy dit inasem, kan dit jou doodmaak, veral as jy aan hoë vlakke blootgestel word.
Nadat koolstofmonoksied ingeasem is, gaan dit jou bloedstroom binne en meng met hemoglobien om karboksiehemoglobien te vorm. Wanneer dit gebeur, is jou bloed nie meer in staat om suurstof te dra nie, en hierdie gebrek aan suurstof veroorsaak dat die liggaam se selle en weefsel onklaar raak en sterf.
NYDA sê hulle sal met al die relevante departemente vergader om op datum gebring te word oor die voorgestelde wetgewing oor die verbod op alkoholreklame.
“Ons verwelkom die besluit van die Oos-Kaapse Drankraad om die lisensie van die taverne op te skort en ons vra vir ’n volledige ondersoek na die lisensietoestand van die taverne. Ons doen ook ’n beroep op ouers en gemeenskappe om saam met wetstoepassers te werk om hierdie tipe aktiwiteite aan te meld.
“Uiteindelik moet ons aanvaar dat hoe langer ons jongmense en huishoudings uitsluit van betekenisvolle ekonomiese aktiwiteit, hoe meer sal hulle aan geestesgesondheidsgevolge ly, en hulle hul tot alkohol- en dwelmmisbruik wend,” het NYDA gesê.