Die burgerregteorganisasie AfriForum en die vakbond Solidariteit het strafregtelike klagte van laster, sameswering vir die aanhitsing tot geweld en aanranding deur middel van dreigemente by die Lyttelton-polisiekantoor in Pretoria ingedien teen die leier van die EFF, Julius Malema.
Die twee organisasies sê in ’n verklaring meer as 1 000 polisiebeamptes het Solidariteit genader met kommer oor dreigende uitlatings wat Malema teenoor lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gemaak het. Malema het onder meer gesê die EFF is nie bang is vir die polisie nie en met polisielede en hulle families in hulle eie huise in geveg sal tree. Malema sê die EFF sal polisielede “een vir een” in hulle gemaksones aanvat en hulle leer dat geeneen die mag van die massas sal kan oorwin nie.
Malema het Sondag tydens ’n EFF-byeenkoms in die Mohokare-munisipaliteit in die Vrystaat emosioneel uitgevaar teen wat hy polisiebrutaliteit genoem het. Hy het gesê die EFF is nie bang vir die polisie nie. Hy sê die EFF was sedert die party se stigting gekant teen brutaliteit in die polisie. Dit kan volgens hom teruggevoer word na die skietery by Marikana toe die polisie met lewende ammunisie op stakende mynwerkers geskiet het.
The EFF has long held a stance against police brutality in South Africa, since it was founded.
This can be traced back to our inception when we stood against the massacre of mineworkers in Marikana, who were shot and killed execution style by a South African Police Service. pic.twitter.com/re2vbaF4Rz
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) November 24, 2020
Die minister van polisie, Bheki Cele, het Malema se uitsprake oor die polisie as roekeloos en onverantwoordelik bestempel. Cele het ’n beroep op die polisie gedoen om hulself te beskerm en sê hulle is ten volle in staat om op te tree as hulle aangeval sou word. Die Minister het gesê dit is met walging dat hy kennis neem van Malema se onverantwoordelike en gevaarlike uitsprake wat vra vir aanvalle op die polisie.
“Ek dink die EFF het die perk oorskry,” het Cele in ’n verklaring gesê. “Julle gaan nie die polisie dreig en dink hulle gaan met gevoude arms sit nie. Die polisie se werk word duidelik in die Grondwet omskryf, naamlik die bekamping, bestryding en ondersoek van misdaad. Die polisie is ook daar om wet en orde te handhaaf en die wet toe te pas en niemand het die reg om hulle te dreig wanneer hulle hul werk doen nie,” het Cele gesê.
#PoliceMinistry The Police Minister, General #BhekiCele has noted with disgust, the reckless, irresponsible and dangerous statements calling for the attack on police officers by EFF leader, Julius Malema. MLhttps://t.co/kD3Sh0Clgk pic.twitter.com/IKYWe1Jv1c
— SA Police Service 🇿🇦 (@SAPoliceService) November 23, 2020
Ernst Roets, hoof van Beleid en Aksie by AfriForum, sê dit is duidelik dat Malema nog steeds glo dat hy bo die reg verhewe is. “Die rede waarom Malema hierdie opmerkings in die eerste plek maak, is dat daar tot op hede nie gevolge was vir al die vorige insidente waar hy openlik geweld aangehits het nie. Indien die polisie hierdie saak nie met die nodige erns hanteer nie, sal Malema dit as ’n bevestiging sien dat hy inderdaad bo die reg verhewe is,” sê Roets.
Die DA het in hulle reaksie gesê Cele behoort toe te sien dat Malema aangekla word vir die aanstigting van geweld teen lede van die polisie en hulle families. Die party sê in ’n verklaring die ANC is bang om teen Malema op te tree en Cele se woorde behoort nou aan sy optrede gemeet te word.
⚠️| The ANC appears terrified to act against Malema in spite of numerous incidents of threats & violent rhetoric towards citizens, businesses and now the State.
Cele must charge Malema with incitement to commit violence against police and their families! https://t.co/5JzYl1UCfx
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 25, 2020
Die EFF het in ’n verklaring teruggekap en Cele se waarskuwing aan hulle as leë woorde bestempel en gesê dit is niks anders as skynheiligheid nie, omdat hy die EFF se ware motiewe verdraai.
EFF Statement On Utterances By Minister of Police Bheki Cele pic.twitter.com/ugh9G0llfJ
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) November 24, 2020
Solidariteit sê hulle is oorval deur polisielede van regoor die land wat hulle skok, ontsteltenis en totale verontwaardiging uitgespreek het oor Malema se woorde en dreigemente.
“Dis onaanvaarbaar dat ’n politieke leier wat ’n eed afgelê het om die Grondwet en ander wetgewing van die land te eerbiedig en te respekteer, op só ’n gewelddadige manier uitvaar teenoor die polisie,” sê Renate Barnard, Solidariteit se sektorkoördineerder vir die Openbare Sektor, wat ook met die polisie werk.
AfriForum sê hulle privaatvervolgingseenheid sal die saak deurlopend monitor om te verseker dat geregtigheid geskied. Indien Malema nie deur die Nasionale Vervolgingsgesag vervolg word nie, sal die privaatvervolgingseenheid hom privaat vervolg, het AfriForum gesê.