Osama se wraak

  • 0

......

‟Meningspeilings wys dat ’n ongemaklik groot aantal Amerikaners vatbaar is vir nuwe paranoïese sprokieswêrelde, nuwe kruistogte, en nie sal wegskram van nuwe weergawes van Trump nie. Wat met die volgende bestorming van die Capitol van sy rolmodel sal geleer het, en meer doeltreffend te werk sal gaan.”

......

Klop-klop-klop. Werda? Osama. Osama wie?

Verder hoef die skoolgrappie nie te gaan nie, want wie onthou nog die leier van Al-Qaeda? Net Isis het oorgebly, versprei oor die aarde soos die Egiptiese god destyds, en hulle is maar stil. Maar dis sy naam wat in my mymeringe oor die Trump-malles se aanval op die Capitol opduik. Osama bin Laden, sien, sou dit beskou het as ’n baanbrekende stap om sy voorspelling te laat bewaarheid dat die 9/11-invalle Amerika gaan laat ineenstort.

Hy het ’n hele saamsweersprokie daaroor gehad, met die opbreek van die Sowjetunie na die Russies-Afgaanse oorlog in die 1980’s as model. Die ding is nou, ek kan dit nie opspoor nie, nie op die internet nie, nie op my boekrakke nie; ek staan vuis teen die voorkop onder die peerboom, maar ek kan net nie onthou waar ek daaraan kom nie.

Ek soek dalk nie op die regte plekke nie, maar dis ook ’n aanduiding van hoe mallerig dit destyds gesien is, nie die moeite werd om selfs êrens in ’n internethoekie te vergeet nie. Ek praat nie van ’n saamsweersprokie om ’n nuwe woord te skep nie; dit verwys na die basiese elemente: ’n totale fantasie, ja, wat draai om gesamentlike obsessies wat jare, dekades lank tot ’n allemintige sweer groei. Maar wat is ’n saamsweersprokie as jy dit nie kan oproep met ’n druk van ’n knoppie nie?

Die sprokie het so geklink: Soos sy wolkekrabbers staan Amerika maar op wankelrige bene, ’n fragiele eenheid wat vernietig kan word met die regte gebeurtenis om al die natuurlike foutlyne te laat oopskeur.

En wat is hierdie foutlyne? Dis waar Osama die draad ’n bietjie verloor het. Dat Amerika Islam nie ingebou het in sy regeringsvorme nie, staan voorop. Sy ander motiverings vir 9/11, soos uitgedruk in sy Brief aan Amerika in 2002, sluit in Bill Clinton se manewales met Monica Lewinsky in die Withuis, die Jode wat alles sou beheer, dobbelary, “loan sharks”, en dat vrouens gedwing word om vreemde mans in restaurante te bedien. Dit klink soos ’n kruis tussen QAnon en radikale feminisme.

Die val van Amerika, het Osama geskryf, sal kom weens die uitmergelende oorloë waarin Al-Qaeda en andere hom sal intrek in die Midde-Ooste. Later het hy ’n “war of the thousand cuts” verkondig, waardeur selfs gerugte oor terreur Amerika se ekonomie sal laat doodbloei. Nou ja, die teenoorgestelde het gebeur: Die ekonomie, en veral die industrieel-militêre kompleks, het ’n groot stuwing gekry met die invalle in Afganistan en Irak.

Osama het wel een foutlyn uitgewys wat iets werklik is: die geweldige ongelykheid in Amerika, wat al lank besig is om groot armoede te skep. Volgens die deel van die teorie wat ek nou nêrens kan vind nie, is die wortels daarvan steeds die kultuur van slawerny wat tot die Amerikaanse burgeroorlog gelei het. Die 9/11-aanvalle sal ’n kettingreaksie aan die gang sit wat uiteindelik die burgeroorlog weer sal laat ontvlam en Amerika in Noord en Suid sal laat skeur, in twee verarmde en gebroke dele.

Soos ek gesê het, ek kry geen verwysing meer na hierdie teorie van Osama nie. En dis waar, dis wensdenkery wat net te groot gelyk het.

Maar in die jare daarna het sy malligheid ’n spieëlbeeld onder ewe godsdienstige Amerikaners gevind, net in die tyd toe die ideale mediums vir die verspreiding van saamsweersprokies, Facebook en Twitter, hulle begin vestig het met ’n etos van absolute spraakvryheid. Die dinge wat Osama en sy mense laat sweer het, is dieselfde dinge wat Christelike fundamentaliste ook dwars in die krop steek, en die toonaard van die sentimente en rasionalisasies verskil ook nie veel nie. 

Hulle het almal begin vergader in die Tea Party, wat aanvanklik verwys het na ’n beweging in die Republikeinse Party om belasting te beveg, maar gou ’n spotnaam geword het vir tipiese oningeligte, goedgelowige, godsdienstige dwepers wat blindelings enige regse “saak” steun. Een van die beste demonstrasies van hul tipiese gebrek aan kontak met die werklikheid was lede wat trots na hulself as “teabaggers” verwys het, wat in Amerikaanse sleng eintlik ’n gevaarlike seksuele praktyk is. 

......

‟Die sprokie het so geklink: Soos sy wolkekrabbers staan Amerika maar op wankelrige bene, ’n fragiele eenheid wat vernietig kan word met die regte gebeurtenis om al die natuurlike foutlyne te laat oopskeur. En wat is hierdie foutlyne?”

......

Die hoof-teabagger was natuurlik Donald Trump, en die eerste groot daad wat hy vir Osama verrig het, was om die geloof onder ’n groot deel van die VSA te laat posvat dat Barack Obama eintlik ’n Moslem met ’n vals geboortesertifikaat is. Hierdie “psychedelic conspiracism”, soos Eric Levitz van die Intelligencer dit beskryf, het ’n bykomende agenda verskuil, van wit supremasiste wat hulself nie kon versoen met ’n niewitte in die Withuis nie. 

Met die 9/11-aanvalle het Bin Laden ’n blywende bogeyman in hierdie paranoia geskep: die fanatiese Moslem met bomme onder sy kopdoek. ’n Muur op die grens van Mexiko sal hulle en ander niewittes help uithou. Levitz skryf: “The nativist right that powered the tea-party challenge ... has understood center-left immigration policies as an existential threat to America’s national survival for decades now. The bulk of the congressional GOP is bound to resist Biden’s agenda as though the salvation of the Republic – and realization of God’s will – depend on it.”

Soos George Bush net na 9/11 gesê het in sy amplifikasie van Osama se retoriek, dis ’n nuwe kruistog.

Aan die ander kant het BlackLivesMatter gewys hoe siek en sat ’n groot deel van die Amerikaanse bevolking vir die wit supremasiste is, en dat al meer mense bereid is om die onhoudbare rassebestel in die land met geweld te beveg. Die twee breë strominge - die drang na groter gelykheid onder alle Amerikaners teenoor die behoud van ’n wit Amerika met al sy bygelowe – verskil nie so baie van die opset tydens die burgeroorlog van die 1860’s nie.

Eric Levitz som die Republikeinse Nasionale Konvensie se sentrale boodskap wat hy in Augustus 2020 wou uitstuur, so op: “America has never been greater than it is today – or at greater risk of collapsing tomorrow.” Dis ’n diep paranoia wat peilings laat wys dat heelwat Amerikaners nie sal wegskram van ’n diktatuur nie.

Dit sou te ver gaan om te beweer dat Bin Laden die teks vir die sirkusteater in die Capitol geskryf het, maar Trump en kie speel lekker saam om sy sprokie ’n realistiese oorlogsroman te maak. Joe Biden se inhuldiging wag nou vir die opvolgepisodes en het die hele land op hete kole. Die klomp QAnon-sjamane, Annie-get-your-guns en “accelerationists” – mense wat glo die liberale sosialisme is gedoem tot mislukking, maar dit moet aangehelp word – is so ’n hutspot van verdwaaldes dat hulle waarskynlik nie veel meer gaan vermag as om hulself nog meer hartaanvalle te gee of meer van hul makkers doodgeskiet te kry nie.

Maar meningspeilings wys dat ’n ongemaklik groot aantal Amerikaners vatbaar is vir nuwe paranoïese sprokieswêrelde, nuwe kruistogte, en nie sal wegskram van nuwe weergawes van Trump nie. Wat met die volgende bestorming van die Capitol van sy rolmodel sal geleer het, en meer doeltreffend te werk sal gaan.

Dat Amerika gaan ineenstort in ’n burgeroorlog bly darem onwaarskynlik. En wat waar bly, is dat Bin Laden dood is – deur die Amerikaners gedood.

Of is hy? As Elvis Presley nog leef, hoekom nie hy nie? As dit so is, kan ons darem ons grappie klaarmaak: Klop-klop. Wie’s daar? Osama. Osama wie? Osama moet sien wat gebeur op 20 Januarie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top