Oscar Pistorius stil-stil op parool vrygelaat

  • 0

Oscar Pistorius (Foto: Kaston, WikiMedia CC BY-SA 3.0)

Die voormalige Paralimpiese atleet Oscar Pistorius is vanoggend (Vrydag) op parool vrygelaat sonder dat die media toegelaat is om sy vrylating te verfilm.

Die Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) sê in ’n verklaring Suid-Afrika het gekies vir ’n slagoffergesentreerde strafregstelsel. Gevolglik word gevangenes en paroolgangers nooit “geparadeer” nie.

“Daarom mag media wat kies om buite enige korrektiewe fasiliteit uit te kamp, nie verhinder word om hul werk uit te voer, volgens hul plig, nie, maar dit sal nie vir hulle moontlik wees om kameraskote of bewegende beeldmateriaal van Pistorius te kry nie.”

Die DKD het gesê die bekendmaking van Pistorius se vervoerbesonderhede en die tyd van vrylating sou ’n sekuriteitsbedreiging vir ander gevangenes en betrokkenes inhou.

’n Verhoogde openbare profiel wat aan Pistorius gekoppel word, maak hom volgens die departement nie anders as ander gevangenes nie en regverdig ook nie teenstrydige behandeling nie.

“Gevolglik sal die besonderhede in terme van vervoerplanne en tyd van vrystelling nie openbaar gemaak word nie. Die bekendmaking van sulke besonderhede kan ’n sekuriteitsbedreiging vir die gevangene en ander betrokke belanghebbendes tot gevolg hê. Daarom moet DKD daardie spesifieke risiko noukeurig bestuur.”

Dit sal Pistorius se eerste naweek saam met sy familie buite die tronk in byna elf jaar wees. Hy het sy meisie, Reeva Steenkamp, in 2013 op Valentynsdag doodgeskiet.

Pistorius is op streng paroolvoorwaardes vrygelaat.

Die DKD het bevestig dat ’n besluit wat op 24 November 2023 deur die Korrektiewe Toesig- en Paroolraad geneem is om “gevangene Oscar Leonard Carl Pistorius op parool te plaas, effektief vanaf 5 Januarie 2024, geldig bly en afgedwing moet word”.

Dit beteken dat Pistorius in die stelsel van “gemeenskapskorreksies” opgeneem sal word en gemonitor sal word tot die vervaldatum van sy vonnis in 2029.

Die gevangenisowerheid sê die algemene paroolvoorwaardes sal op Pistorius van toepassing wees. Daar sal byvoorbeeld van hom verwag word om op bepaalde ure van die dag tuis te wees. Hy mag nie alkohol en ander verbode middels inneem nie. Deelname aan ander programme wat deur die departement geïdentifiseer sal word, sal ook vir hom verpligtend wees. Net soos ander paroolgevangenes word Pistorius nie toegelaat om media-onderhoude te voer nie.

Hy sal die res van sy vonnis onder korrektiewe toesig uitdien en sal woedebestuursklasse moet bywoon asook ’n program oor geslagsgebaseerde geweld.

Gevangenes wat nuut op parool is, kan volgens die DKD kwesbaar wees en vereis ’n ondersteuningstelsel om by die normale lewenswyse aan te pas. Die versorger (gesin) is verantwoordelik vir sodanige ondersteuning en werk saam met DKD-moniteringsbeamptes.

Volgens mediaberigte sal Pistorius tydens die uitdiening van sy parool by ’n oom van hom, Arnold Pistorius, in Waterkloof woon. Sy familie het dit duidelik gemaak dat hulle geen media-aandag verlang nie en die hoop uitgespreek dat sy vrylating so stil en ongesiens as moontlik geskied.  

Op sosiale media het dit die afgelope week gegons oor Pistorius se paroolvrylating. Suid-Afrikaners is in twee groepe daaroor verdeel. Sommige meen die Suid-Afrikaanse  regstelsel het hulle in die steek gelaat en “hierdie gewetenlose moordenaar” hoort nog agter tralies.

Ander het sy vrylating verwelkom en glo steeds dat dit nie sy bedoeling was om Steenkamp dood te skiet nie en dat hy werklik gedink het dit was ’n inbreker wat agter die toe badkamerdeur skuil.

Die organisasie Women for Change het op X gesê Pistorius is ’n moordenaar en hy hoort agter tralies om sy volle vonnis uit te dien. “Geregtigheid het nooit geskied nie! Hy het nooit verantwoordelikheid aanvaar en die waarheid gepraat nie!” sê die organisasie.

Buitelandse mediaberigte deur onder andere FoxNews in die VSA dat Pistorius die teiken van sluipmoordenaars in die onderwêreld kan wees wat Reeva Steenkamp se familie goedgesind is, is deur die polisie sowel as Steenkamp se familie as ongegrond afgemaak en sonder enige stawing hoegenaamd.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top