Oud-ANC-lid wil die land van ANC help red

  • 0

Die leier van die land se nuutste politieke party, Change Starts Now, wat die afgelope naweek in Johannesburg gestig is, Roger Jardine, beloof om politieke verandering in Suid-Afrika teweeg te bring deur die ANC met ’n nuwe, breë koalisie te ontsetel.

Die anti-apartheidsaktivis, wat uit die ANC se dampkring kom, sê hy wil Suid-Afrika se politieke landskap deur middel van Change Starts Now hervorm.

Die ANC is volgens hom nie meer die beweging waarby hy, sy ouers en grootouers tydens die apartheidsera aangesluit het nie. Hy sê hy herken nie meer die ANC nie.

Jardine se naam, wat ’n betreklik onbekende naam vir die meeste Suid-Afrikaners is, het onlangs die eerste keer in die huidige politieke gesprek opgeduik toe die Sunday Times vroeër berig het dat hy met DA-leiers vergader het om te praat oor die moontlikheid om die gesig van die Veelpartyhandves te word as Suid-Afrika se volgende presidentskandidaat.

Die gedagte het egter ’n vroeë dood gesterf toe dit blyk dat die ander partye van die Veelpartyhandves nie daaroor ingelig was nie en dat daar blykbaar slegs informele gesprekke tussen hom en die DA-leiers was.

Of Jardine, die aktivis wat bankier geword het, se nuwe politieke beweging genoegsame steun sal kan trek om die ANC ’n knou te gee, is egter ’n ope vraag.

Die Grondwetkenner Pierre de Vos beskryf hom as gemoedelik en saggeaard. Hy sê Jardine is egter vir min mense ’n huishoudelike naam, en dat daar tot dusver min duidelike verskil in siening tussen sy politieke beginsels en dié van verskeie bestaande opposisiepartye is.

Twee prominente figure in die burgerlike samelewing, Mark Heywood en Nicole Fritz, het reeds bevestig dat hulle saam met Jardine gaan werk.

Murphy Morobe, ’n ANC-staatmaker en een van die studenteleiers wat by die 1976-jeugopstande betrokke was, gaan glo ook by die nuwe party aansluit.

Dit is nog nie duidelik presies waar die nuwe party hom in die Suid-Afrikaanse politiek gaan posisioneer nie, maar Jardine het dit reeds duidelik gemaak dat hy met ander liggame, soos die Veelpartyhandves, sal saamwerk om die ANC uit die kussings te lig en dat hy nie belangstel in samewerking met die ANC nie.

Tydens Sondag se bekendstelling van sy party het hy ook flikkers gegooi na die burgerlike samelewing. Hy sê sy party sal pogings om die burgerlike samelewing in Suid-Afrika te beperk, teenstaan. Sy party sal maatskaplike toelaes ondersteun, maar meen dat dit tans onvoldoende is. Hy wil universele gesondheidsorg hê, maar is gekant teen die huidige NGV-wetsontwerp. Hy beoog ’n kabinet van tegnokrate, met vaardighede uit allerlei Suid-Afrikaanse sektore en die vermoë om probleme soos Eskom s’n op te los.

Die party word na bewering gedeeltelik gefinansier deur Michiel le Roux, die stigter van Capitec, Anthony Ball en Lauritz Dippenaar, die stigter van First Rand.

Nierassigheid sal ook een van die party se mees toegewyde ideologiese beginsels wees. “Ons moet ná mekaar draai, nie teen mekaar nie.” Die ANC ignoreer “die grondwetlike vereiste om ’n nierassige samelewing te bou”.

Politieke waarnemers is dit eens dat om verkiesings in Suid-Afrika te wen, ’n party op groot skaal steun van die ANC sal moet afrokkel of duisende kiesers wat nie wil stem nie, motiveer om te gaan stem. Of ’n nuwe party sonder ’n swart leier aan die stuur daarin sal slaag, is ’n ope vraag, veral so kort voor ’n verkiesing.

Die EFF was die laaste groot party wat so naby ’n verkiesing aan die gang gekom het toe dit in Julie 2013 voor die Mei 2014-peilings van stapel gestuur is. Hulle het 6,35% van die nasionale stemme gekry.

Van Congress of the People (Cope) wat in 2008 op die vooraand van die 2009-verkiesing ook deur oud-ANC-lede gesig is, het daar min oorgebly. Die party het goed gevaar in hulle eerste verkiesing en 1 311 027 stemme en ’n 7,42%-aandeel van die stemme gekry, maar interne gevegte het die party ten gronde gedryf.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top