Oud-DA-lid sê Steenhuisen lieg vermoedelik oor redes vir Shell se onttrekking uit Suid-Afrika

  • 0

’n Voormalige senior lid van die DA, Phumzile van Damme, sê die DA-leier, John Steenhuisen, lieg vermoedelik wanneer hy sê die oliemaatskappy Shell vlug uit Suid-Afrika omdat die land onbelêbaar geword het.

Shell het die afgelope week in naweekmediaberigte bevestig dat hy beplan om van Suid-Afrika te onttrek. Dit sal die verkoop van sy stroomafwaartse bates behels, naamlik die meer as 500 diensstasies wat in die land bedryf word.

“Shell het besluit om die stroomafportefeulje te hervorm en beoog om ons aandeelhouding in Shell Downstream SA (SDSA) te verkoop,” het die oliereus in ’n verklaring gesê.

Die DA het by monde van sy leier, John Steenhuisen, en ook die party se skaduminister van finansies, Dion George, die skuld vir Shell se voorgenome onttrekking uit die land op die ANC se skouers gepak.

Steenhuisen het op X gesê beleggers vlug reeds uit Suid-Afrika met die vooruitsig van ’n ANC-EFF-oordeelsdagkoalisie. Hy sê die land sal tot as verbrand word onder so ’n koalisie van korrupsie.

Van Damme het egter kaalvuis onder haar voormalige partygenote ingeklim.

Sy sê Shell het geen melding gemaak van die vooruitsig van ’n ANC-EFF-koalisie as rede vir hulle disinvestering nie. Sy sê die berigte was duidelik dat Shell beplan om in 2024 en 2025 van 1 000 diensstasies te onttrek, aangesien die mark al hoe meer na laai-opsies vir elektriese voertuie neig. “Hou op lieg,” het Van Damme met verwysing na die DA se reaksie op X gesê.

Van Damme is die voormalige hoof van parlementêre navorsing en kommunikasie vir die DA. Sy is in 2014 tot die parlement verkies en het gedurende hierdie tyd as skaduminister van kommunikasie gedien. Sy het op 20 Mei 2021 as lid van die Nasionale Vergadering bedank en op 26 Junie 2021 ook uit die DA bedank.

Shell bedryf tans sowat 600 diensstasies regoor die land. Dion George sê in ’n verklaring duisende werksgeleenthede is op die spel terwyl die ANC en sy voornemende koalisievennoot, die EFF, nie omgee nie. Hy sê albei partye is vasbeslote om rasgemotiveerde statistiese beleide wat geen plek in ’n moderne demokratiese Suid-Afrika het nie, verder te verskans.

“Die maatskappy het plaaslike BBSEB-vereistes as die primêre faktor vir sy uittrede genoem. Die rasgebaseerde ontmagtigingsbeleid het ook die steun van die EFF. Met die ANC wat waarskynlik sy nasionale meerderheid sal verloor, lyk dit of die EFF hom by die regerende party skaar met die hoop om winsgewende kabinetsposte te verseker in ’n potensiële naverkiesingskoalisie wat dit wat nog oor is van ons ekonomie en ons geldeenheid, sal vernietig.”

George sê plaaslike en internasionale sentiment is op ’n algehele laagtepunt. “Beleggers, wat reeds ontnugter is deur die ANC se nielewensvatbare benadering tot die bestuur van ’n ekonomie, vlug uit Suid-Afrika met die vooruitsig van ’n ANC-EFF-oordeelsdagkoalisie. Daarvan getuig die meer as ’n triljoen rand wat reeds oor die afgelope 10 jaar ons land verlaat het. Die neiging sal waarskynlik voortduur, aangesien BNP Paribas, die grootste bank in die Eurosone, ook sy vertrek uit Suid-Afrika kort ná Shell se vertrek aangekondig het.”

Heelwat ekonome stem skynbaar met Van Damme saam en meen ook daar is kragte aan die werk wat veel sterker is as enigiets wat Luthulihuis met Shell se besluit te doen het.

Moneyweb berig dat Shell se disinvestering oor meer as die ANC se beleid gaan. Die publikasie sê dit is nie die eerste soortgelyke transaksie wat Shell wêreldwyd gedoen het nie, en dit sal ook nie die laaste wees nie.

Die maatskappy verkoop al meer as ’n dekade lank geleidelik en doelbewus stroomafbates. In 2011 het hy sy voorneme aangekondig om die meeste van sy aandeelhouding in sy stroomafbesigheid in Afrika (Suid-Afrika uitgesluit) te verkoop. Dit het Botswana, Burkina Faso, Ivoorkus, Guinee, Kenia en Namibië ingesluit. In 2014 het hy sy Australiese stroomafoliebates (insluitend 900 vulstasies) aan Vitol en die Abu Dhabi Investment Council verkoop.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top