Oud-Maties se twis aanstaande week op spits gedryf

  • 0

Die onverkwiklike twis tussen oudstudente van die Universiteit Stellenbosch (US) se konvokasie word volgende Donderdag verder op die spits gedryf tydens ’n spesiale vergadering van die konvokasie.

’n Buitengewone vergadering van die konvokasie is deur ’n groep oud-Maties aangevra om ’n mosie van wantroue in te stel teen die president van die konvokasie, Jan Heunis, en sekere lede van sy dagbestuur.

Die konvokasie is ’n statutêre liggaam waarvan alle US-gegradueerdes, alle voltydse en afgetrede akademiese personeel, en alle gediplomeerdes ​lede is. Huidige nagraadse studente wat hul voorgraadse kwalifikasie aan die US verwerf het, is ook lede van die konvokasie. Volgens wetgewing het alle Suid-Afrikaanse universiteite ’n konvokasie wat die insette van alumni in sake wat hulle universiteit raak, verseker. Dit verskaf ook statutêre skakeling met universiteite se voormalige studente. 

Die twis tussen die oud-Maties woed reeds jare lank.

Dit spruit veral uit die US se taalbeleid, maar het intussen verder geëskaleer en wentel nou ook om die posisie van die rektor en visekanselier, Wim de Villiers, nadat hy van nepotisme beskuldig is.

Een groep lede van die konvokasie is ten gunste van die universiteit se taalbeleid en steun De Villiers se hantering daarvan en hoe hy die universiteit bestuur.

Sommige lede van die konvokasie glo egter dat die universiteit besig is om Afrikaans as hoëronderwystaal stelselmatig uit te faseer. Hulle glo De Villiers speel ’n aktiewe rol daarin om Afrikaans aan die US te marginaliseer en dring reeds geruime tyd daarop aan dat hy moet bedank.

Onlangse bewerings van nepotisme teen De Villiers het nuwe olie op sy opponente se vuur gegooi in hulle pogings om van hom ontslae te raak.

’n Eis deur die konvokasie se dagbestuur onder leiding van Heunis dat hy weens die beweerde nepotisme moet bedank, het De Villiers se ondersteuners warm onder die kraag gehad. Hulle eis nou Heunis se kop en sê hy en die dagbestuurlede wat hom steun, praat nie namens die konvokasie nie.

Volgens die groep van sowat 250 konvokasielede wat volgende week se vergadering aangevra het, het die konvokasie se bestuur “ondemokraties” opgetree toe hulle verlede maand die rektor se bedanking geëis het.

Intussen is ’n komitee van drie tans besig om die bewerings van nepotisme en ’n moontlike oortreding van reëls teen De Villiers te ondersoek. Hulle is veronderstel om voor Donderdag se vergadering hulle verslag aan die US-raad se voorsitter voor te lê.

Heunis en sy ondersteuner meen die uitslag van die ondersoek kan ’n deurslaggewende rol speel in die uitkoms van Donderdag se vergadering, terwyl hulle opponente sê dit is nie waaroor dit  gaan nie.

Die eerste mosie wat tydens Donderdag se vergadering sal dien, is ’n mosie van wantroue in Heunis as president van die konvokasie en drie lede van die konvokasie se uitvoerende komitee. Die ander is ’n mosie van wantroue in Rudi Buys, die visepresident van die konvokasie.

Buys skaar hom by die groep wat gekant is teen die eis dat De Villiers moet bedank.

Donderdag se vergadering vind plaas by Bloemhof Dameskool op Stellenbosch. Alumni wat nie teenwoordig kan wees nie, kan aanlyn deelneem en tussen 19h00 op 1 Junie en 19h00 op 2 Junie stem. Hulle moet die universiteit se alumnikantoor by 021 808 9266 kontak of ’n e-pos stuur na konvokasie@sun.ac.za of alumni@sun.ac.za indien hulle nog nie ’n persoonlike uitnodiging van die US ontvang het nie.

Heunis het in ’n e-pos aan die alumni geskryf hy neem graag vrymoedigheid om hulle te versoek om hulle steun vir hom en die ander twee lede te kenne te gee en om alle alumni te vra om dieselfde te doen.

Ondersteuners van Heunis het die afgelope week video’s per WhatsApp versprei om steun vir hom te probeer wen vir volgende week se vergadering. Sy teenstanders beskuldig hom en sy groep daarvan dat die bewerings van nepotisme teen die rektor net as rookskerm gebruik word om ’n konserwatiewe agenda wat teen transformasie gekant is te dryf en dat die video’s daarvan getuig.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top