Oud-onderwyser skoonveld ná bewerings van kindermolestering

  • 0

’n Oud-onderwyser wat na bewering verskeie skoolseuns gemolesteer het, het skynbaar op die vlug geslaan toe die wêreld om hom te warm word.

Foto: Unsplash.com

Een van sy beweerde slagoffers, Deon Wiggett, probeer om die beweerde molesteerder in samewerking met News24 aan die pen te laat ry vir sy dade. Volgens Wiggett wil hy keer dat nog jong seuns hierdie Desembervakansie deur die man verkrag of gemolesteer word.

News24 se hoofredakteur, Adriaan Basson, beskryf Wiggett se verhaal as die dapperste stuk joernalistiek van die jaar.

Wiggett, ’n kopieskrywer van Johannesburg, het selfs sy werk gelos om die man op te spoor wat hom na bewering 22 jaar gelede verkrag het.

Die man wat daarvan verdink word, se naam is aan die media bekend maar word op regsadvies voorlopig weerhou.

Wiggett het sy verhaal twee weke gelede met die wêreld begin deel met potsendings op die internet. Hy nooi ook ander moontlike slagoffers uit om na vore te kom en hulle verhale met hom te deel sodat die beweerde kindermolesteerder toegesluit kan word.

Die potsendings staan bekend as My only story en is deel van ’n reeks van vier potsendings wat sedert die begin van die maand elke week op die internet uitgesaai word.

Rapport het Sondag berig dat die man wat Wiggett glo 22 jaar gelede verkrag het, oornag sy onderneming gesluit het. Dit was kort nadat Wigget twee weke gelede met sy weeklikse potsendings begin het. Die man na wie daar slegs as Jimmy verwys word omdat sy ware identiteit nog verswyg word, was glo ’n onderwyser by onder andere die spogskool Grey Kollege in Bloemfontein. Hy is egter jare gelede stil-stil daar weg na ’n “obskure” klein dorpie waar hy verder skoolgehou het voordat hy ’n paar jaar later sy eie besigheid begin het.

Wiggett se paaie met “Jimmy” het glo gekruis terwyl hy in Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch op skool was nadat “Jimmy” reeds die onderwys verlaat het.

Wiggett se potsendings waarin hy sy verhaal met die luisteraars deel en ook hoe hy met sy ondersoek vorder, is tans die gewildste Suid-Afrikaanse dokumentêre potsending op iTunes en nommer agt in die Verenigde Koninkryk in dieselfde kategorie.

Al die potsendings kan op sy webwerf My Only Story gevind word. Die potsendings word ook elke Donderdag op News24 gepubliseer.

Daarin vertel Wiggett hoe hy en ander jongs seuns na bewering deur die oud-onderwyser verkrag of gemolesteer is. Hy sê die man moet aangekeer word voordat die somervakansie volgende maand begin, om te keer dat hy nóg seuns molesteer.

“Ek is op 17-jarige ouderdom verkrag en ek was nie sy enigste teiken nie,” vertel Wiggett in sy potsending. Volgens hom het daar reeds vyf mans na vore gekom wat na bewering as kinders deur dieselfde man gemolesteer is.

Volgens Rapport het die oud-onderwyser sy onderneming oornag gesluit nadat Wiggett sy potsendings daaroor begin uitsaai het. Al sy werknemers sit nou glo sonder werk nadat hulle almal uit die bloute ontslaan is en die besigheid glo weens “omstandighede en finansiële redes” moes sluit.

Grey Kollege se hoof, Deon Scheepers, het volgens Rapport gesê die Grey Kollege-gemeenskap is geskok oor die gebeure. Hy het gesê hy hoop die saak word behoorlik deur die wetstoepassers ondersoek en het die skool se volle samewerking beloof.

Die oud-onderwyser wat van die dade met die skoolseuns verdink word, het volgens Wiggett al sy sosialemediarekeninge gesluit kort nadat die eerste potsending uitgesaai is en sy foon is glo ook af.

Volgens Rapport woon hy tans tydelik by sy ma in ’n gewilde kusdorp.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top