Paleontoloë in Suid-Afrika sê hulle het die oudste bekende begraafplaas ter wêreld gevind wat oorblyfsels bevat van ’n verre familielid van die mens met ’n klein brein. Voorheen het hulle gedink dié spesie was nie in staat tot komplekse gedrag nie.
Die wêreldbekende paleontoloog Lee Berger en sy span navorsers sê hulle het verskeie liggame van Homo naledi ontdek wat ongeveer 30 m ondergronds begrawe is in ’n grot binne die Wieg van die Mensdom, ’n Unesco-wêrelderfenisgebied naby Johannesburg. Homo naledi is ’n hominied uit die Steentydperk wat nog boomlewend was.
Koerante en webwerwe van regoor die wêreld berig die afgelope week oor die ontdekking wat wetenskaplikes se tonge behoorlik los het.
“Dit is die oudste teraardebestellings wat nog in die hominienrekord aangeteken is. Minstens 100 000 jaar vroeër as bewyse van Homo sapiens-begrafnisse,” het die wetenskaplikes geskryf in ’n reeks wat nog ewekniebeoordeel moet word en voordrukartikels wat in eLife gepubliseer sal word.
“Dis ’n merkwaardige ding. My gedagtes is oorweldig,” het Berger aan die National Geographic Society in Washington, DC, wat die navorsing gelei het, gesê. “Baie van wat ons gedink het oor die oorsprong van intelligensie en die kognitiewe kragte van ’n groot brein het duidelik net gesneuwel,” sê hy, hoewel ander navorsers wat met New Scientist gepraat het, hierdie siening bevraagteken.
Remarkable new discoveries about the small-brained hominin Homo naledi are prompting a rethink about why we evolved big brains.https://t.co/4rsU1WMuOM
— New Scientist (@newscientist) June 6, 2023
Die bevindinge daag die huidige opvatting van menslike evolusie uit, aangesien dit normaalweg geglo word dat die ontwikkeling van groter breine die uitvoering van komplekse, “betekenismakende” aktiwiteite soos die begrawe van die dooies moontlik gemaak het, berig Alzeera.
Berger het bewyse in verskeie wetenskaplike artikels aangekondig dat Homo naledi – een van ons Steentydperk-neefs wat hy voorheen onthul het – hulle dooies begrawe en gekerfde simbole op die grafmure aangebring het.
Dit sou die oudste teraardebestellings wees wat ooit gevind is.
Die nuwe bevindings bevraagteken dus die huidige begrip van menslike evolusie, wat impliseer dat ons kleinbrein-, boomlewende familielede wat meer as 200 000 jaar gelede op aarde rondgeloop het, kognitiewe vermoëns gehad het wat gewoonlik met moderne mense geassosieer word.
Homo naledi sê vir ons ons is nie so spesiaal nie, het Berger aan Agence France-Presse gesê.
Volgens die webwerf Phys.org sal die onthulling waarskynlik ’n storm veroorsaak in die klein maar mededingende wêreld van die paleontologie, waar Berger voorheen beskuldigings van ’n gebrek aan wetenskaplike presisie in die gesig gestaar het. Hy is onder meer daarvan beskuldig dat hy hom tot gevolgtrekkings haas.
Sommige van sy kollegas neem dekades om hipoteses in gepubliseerde bevindings te omskep.
“Lee Berger is ’n baie spesiale persoon,” het die Franse paleoantropoloog Bruno Maureille gesê.
“Hy beweeg dalk ’n bietjie te vinnig in verhouding tot die lang tyd wat dit neem om hierdie tipe ontdekkings te verstaan,” berig Phys.org.
Berger se vroeëre ontdekkings het die belangstelling van National Geographic gelok, wat hom tot “Explorer in residence” benoem het en sy werk in televisieprogramme en dokumentêre programme vertoon het.
“Ek word uitgebeeld as ’n maverick, as ’n cowboy-wetenskaplike," het Berger vroeër in ʼn onderhoud aan New Scientist gesê. “Wat so snaaks is, is dat ek die een is wat die reëls volg.”
In July 2022 paleoanthropologist Lee Berger squeezed into the caves, through passages just 18cm wide. One of his discoveries from that trip was announced yesterday: H naledi engraved symbols on cave walls such as crosses, triangles and crosshatches.https://t.co/PsPuQYdBzM pic.twitter.com/MBliMmOvPW
— New Scientist (@newscientist) June 6, 2023
Die oudste begraafplase wat voorheen opgegrawe is, wat in die Midde-Ooste en Afrika gevind is, het die oorblyfsels van Homo sapiens bevat en was ongeveer 100 000 jaar oud.
Dié wat in Suid-Afrika deur Berger gevind is, dateer terug na ten minstens 200 000 vC.
Van kritieke belang is dat hulle ook tot Homo naledi behoort, ’n primitiewe spesie by die kruispad tussen ape en moderne mense, wat ongeveer 1,5 m lank was en breine omtrent so groot soos lemoene gehad het.
Met geboë vingers en tone, hande met gereedskap en voete wat gemaak is om te loop, het die spesie wat Berger ontdek het, die idee dat ons evolusionêre pad ’n reguit lyn is, omvergegooi.