Bekommerde ouers het op sosiale media uitgevaar oor die standaard en beheer van medisyne nadat die farmaseutiese maatskappy Adcock Ingram Beperk van hulle babastroop tydelik aan die mark onttrek en van die rakke verwyder het.
Die herroeping van sekere van Panado Pediatric alkoholvrye, druiwegegeurde stroop is glo weens ’n kwaliteitskwessie wat sy aktiewe bestanddeel, parasetamol, behels, onttrek.
Die maatskappy het bevestig dat daar gevind is dat die stroop, wat in beide 50 ml- en 100 ml-bottels verkoop word, neerslag in die parasetamol bevat wat die produk se visuele voorkoms beïnvloed. As gevolg hiervan het die stroop nie aan die finale spesifikasies voldoen wat vir sy visuele beskrywing vereis word nie, wat die onttrekking daarvan tot gevolg het.
Die geaffekteerde produkte het vervaldatums in Julie 2025 sowel as Februarie 2026 en April 2026. Ten spyte van die probleem het Adcock Ingram beklemtoon dat die herroeping as klas III geklassifiseer word, wat beteken dat die potensiële gesondheidsrisiko vir pasiënte minimaal is.
Van die ouers het egter op sosialemediaforums soos Facebook en X gekla hulle kon nie maklik inligting vind oor die Panado-stroop se herroeping nie.
Van diegene wat die aanvanklike berigte gesien het, het die internet besoek om meer inligting te bekom, maar kon geen bykomende inligting vind nie.
Hoofstroommedia soos Netwerk24 het Dinsdag berig dat miljoene rand se Panado-stroop vir babas aan die mark onttrek is.
Die eerste berig oor die herroeping daarvan was op Vrydagaand 6 Desember 2024.
The company confirmed that the syrup, sold in both 50ml and 100ml bottles. https://t.co/P69SS55dQP
— Cape {town} Etc (@CapeTownEtc) December 7, 2024
Dit het baie vrae laat ontstaan waarom die herroeping nie wyer gepubliseer is soos dit moes gewees het nie en waarom daar nie meer besonderhede verskaf is nie.
Van die ouers het gekla dat hulle paniekerig geraak het toe hulle die nuus op die internet lees pas nadat hulle van die stroop vir hul kinders gegee het.
@02Bester het geskryf: “Ek het so pas vir my kind van die druiwe Panado gegee toe ek hierdie ’nuusartikel’ sien, nodeloos om te sê dat ek paniekerig was, kon geen ander nuuskanaal kry sonder ’n betaalmuur om uit te vind of ek nou net my kind vergiftig het nie.”
Die Suid-Afrikaanse Regulerende Owerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) sê op hulle webwerf hulle glo daarin om die publiek (verbruikers), die bedryf en gesondheidswerkers ingelig te hou oor noodsaaklike opkomende medisyne-aangeleenthede deur veiligheidswaarskuwings, herroepings, mediavrystellings en ander advies wat met medisyne in die mark verband hou, te publiseer.
Sahpra dwing ’n herroeping af wanneer ’n produk wat in Suid-Afrika verskaf word, ’n probleem of potensiële probleem het. Die afdwinging van ’n herroeping is volgens hulle die doeltreffendste manier om die publiek te beskerm teen ’n potensieel skadelike medisyne of mediese produk.
Herroeping van medisyne is gewoonlik vrywillig en word gelei deur die vervaardiger wat die probleem erken en regstellende stappe doen in plaas daarvan om te wag dat Sahpra sy regulatoriese gesag afdwing.
Herroepingsaksies kan volgens Sahpra verskil na gelang van die tipe mediese produk en die omvang van wat die probleem vir openbare gesondheid en veiligheid inhou. Daar kan besluit word dat daar onmiddellik opgehou moet word om ’n spesifieke medikasie te gebruik, of dat die medikasie steeds veilig is om verder te gebruik. Gesondheidsorgpersoneel en pasiënte word behoorlik gewaarsku oor die probleem.
Daarbenewens publiseer Sahpra na beoordeling van die risiko vir die publiek ’n waarskuwing op hulle digitale platforms (via webwerwe en sosialemediakanale), insluitend uitsendings deur TV- en radio-onderhoude.