Taal was ’n bepalende tema in die afgelope week se Erfenisdagvieringe in Suid-Afrika: taal se plek, se krag, in die samelewing en ook die diversiteit, die verskillende tongvalle, van taal.
Dit het onder meer ter sprake gekom in die toesprake van politieke leiers van oor die politieke spektrum. Pres Cyril Ramaphosa het daaroor gepraat by die regering se amptelike vieringe in Upington in die Noord-Kaap en die amptelike opposisieleier, Mmusi Maimane van die DA, het dit voor oudpres Nelson Mandela se huis in Soweto gedoen.
Ook was daar die Erfenisdag-mediaverklarings van die linkse EFF, derde grootste party in die land, en die behoudende minderheidsgerigte Vryheidsfront Plus.
Maar die fokus van die toesprake en verklarings kon nie verder van mekaar verskil nie.
Ramaphosa het in die Mxolisi Jacobs-stadion op Upington teen die agtergrond van die VN se verklaring van 2019 as “die jaar van inheemse tale” die belangrikheid van plaaslike inheemse tale soos N|uu van die Khoisan-gemeenskappe beklemtoon.
Hiermee saam het hy die ou wanindruk nek omgedraai dat sogenaamde Afrikatale – sy dit Xhosa, Zoeloe, Pedi of enige van die ander nege wat vandag as deel van die land se elf amptelike tale erken word – minderwaardig teenoor Afrikaans en Engels is.
Geen taal behoort meer getipeer te word, beskou te word, as ’n taal uit die verlede wat daarom nie respek en erkenning en beoefening verdien nie, was die staatshoof se onomwonde boodskap; álle tale moet omhels word, álle tale dra by tot die diversiteit van die Suid-Afrikaanse nasie.
“Dit help ons om te verstaan waar ons vandaan kom en dit anker ons en ons kinders in die hede,” het Ramaphosa gesê. “Ons probeer nou om die kollektiewe trots van ons mense te herstel.”
Maar Ramaphosa het nie gepraat oor taal se rol in die benaming van onder meer plekke, besienswaardighede, strate en geboue nie. Dié vakuum is – indien op ’n plofbare wyse – deur die EFF van Julius Malema gevul.
Die party het in sy Erfenisdag-verklaring opnuut aangedring daarop dat die deel van “Die Stem”, Suid-Afrika se voor-demokrasie-volkslied, wat ingesluit is in die nuwe nasionale lied, “Nkosi Sikelel’ iAfrika”, verwyder moet word.
Maar in dieselfde asem het dié eis bygekom: dat die Kruger-wildtuin, vernoem na oudpres Paul Kruger, verander moet word, soos ook enige ander name van strate of openbare plekke wat terugstrek na kolonialisme en apartheid.
Solank as wat die EFF nog eers met die verlede wil afreken, is dit moeilik om te sien hoe Maimane en die DA se Erfenisdag-droom van ’n toekoms “waarin al die mense in die land verenig is” bereik sal word.
Maimane het gesê dit behoort nie nodig te wees dat Suid-Afrikaners hulle diversiteit opsy stoot ten einde volgehoue versoening ’n werklikheid te maak nie. In sy eie woorde: “Dit beteken nie ons moet ons identiteit prysgee of om verskoning vra vir die ras, taal of kultuur waartoe ons behoort nie.”
Die president se woorde het ook in die opposisieleier se toespraak neerslag gevind. “Elke Suid-Afrikaanse taal het die reg om te bestaan en voort te leef,” het Maimane gesê – as ’n teregwysing van die Gautengse Onderwys-LUR Panyaza Lesufi se veronderstelde “openlike haat vir Afrikaans”.
“Openlike haat vir Afrikaans” is in die mediaverklaring van Pieter Groenewald van die VF+ vervang met wat hy noem “’n groot aanslag op Afrikaans” onder ’n ANC-regering. Dié politiekery word egter goed uitgebalanseer met ’n baie sinvolle staatsmanagtige stelling deur Groenewald, naamlik dat gemeenskappe mekaar se kultuurverskille saam met die land se ryk erfenis moet aanvaar en respekteer en dat die regering daaraan erkenning moet gee.
’n Mens sou dink dit is wat Ramaphosa gedemonstreer het toe hy in Upington in sy Erfenisdagtoespraak deurentyd na Afrikaans oorgeslaan het, maar dalk hoor leiers op sulke dae – in hul wedywering om mediablootstelling – net wat hulleself sê.
Omgekeerd kan dan seker ook gevra word of Maimane, Malema en Groenewald op soortgelyke wyse as Ramaphosa in hulle Erfenisdagboodskappe na “ander” kultuurgemeenskappe uitgereik het? Of is dit net die regering en President se verantwoordelikheid? Die antwoord behoort vanselfsprekend te wees: dit is álle leiers se plig, maar in dié geval ontbreek die pligsbesef.
Die politici kan gerus ag slaan op die voorbeeld wat deur ouma Katrina Esau gestel word: met haar karige maandelikse ouderdomspensioen en skenkings bedryf sy ’n skooltjie waar sy kinders die N|uu taal en Nama-kultuur aanleer. Nou pleit sy vir hulp om ook CD’s en DVD’s te maak om die opvoedingstaak te verbreed; en ’n “lorrietjie” kan help met vervoer, het sy aan Ramaphosa gesê.
Die regering sal haar help waar moontlik om haar taal te bevorder, het die president onderneem, want N|uu “is ’n mooi taal, dis nie ’n lelike taal (soos dit in die verlede uitgemaak is) nie”.
’n Boek oor ouma Katrina in die N|uu taal wat Ramaphosa as geskenk van haar ontvang het, is nou op pad na sy kantoor by die Uniegebou in Pretoria, waar dit hopelik sal verseker dat sy belofte nie ’n stille dood sal sterf, soos wat ouma Katrina vrees met N|uu sal gebeur nie.
Buro: MvH