Outa kla oor kultuur van geheimhouding by openbare entiteite

  • 0

Die organisasie teen belastingmisbruik (Outa) het klagtes ingedien by die Inligtingsreguleerder oor die geheimhouding ten opsigte van twee openbare entiteite se kontrakte met omstrede maatskappye.

Die klagtes teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Bpk (Sanral) en die Konstruksie-Onderwys en Opleiding-Owerheid (CETA) is ingedien oor dié entiteite se weiering om Outa te voorsien van inligting wat aangevra is oor kontrakte wat glo met twyfelagtige aktiwiteite verband hou.

Die inligting is ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aangevra. Sanral het ’n deel van die inligting wat aangevra is, verskaf, maar die res geweier, terwyl CETA die versoek geïgnoreer het.

Ingevolge PAIA is openbaarmaking die reël en nie die uitsondering nie, sê Outa se regsprojekbestuurder, Asavela Kakaza, op die organisasie se webwerf.

“Daar is geen twyfel nie dat artikel 11 van PAIA ’n plig op ’n openbare liggaam plaas om toegang tot inligting te gee wanneer dit versoek word. Hierdie benadering word verder ondersteun deur artikel 32 van die Grondwet wat die reg verseker om nie toegang tot inligting te weier nie. Verder maak artikel 11 van PAIA dit duidelik dat openbaarmaking van inligting die reël is en vrystelling van openbaarmaking die uitsondering,” sê Outa in die klagte aan die Inligtingsreguleerder.

Sanral se weiering om die inligting bekend te maak, gaan oor ’n kontrak van R4,7 miljard met AquaEXR. Outa het reeds op 23 Junie 2023 ’n versoek ingevolge PAIA by Sanral ingedien oor inligting rakende ’n tender vir opgraderings op die N3 in KZN vanaf Westville na die Paradise Valley-wisselaar.

Outa wil die wettigheid daarvan evalueer omdat dit volgens hulle in openbare belang is. Outa sê as openbare liggaam het Sanral ’n verpligting om deursigtigheid en aanspreeklikheid te bevorder.

In September 2022 is die direkteure van Aqua Transport en Plant Hire, wat met die tender verbind word, gearresteer op aanklagte van bedrog, diefstal en korrupsie. Dit hou verband met ’n 2012-tender by die Departement van Paaie en Vervoer van KZN.

Outa meen die strafregtelike aanklagte teen die Aqua-direkteure moes verhoed het dat die maatskappye vir die kontrak oorweeg word. Selfs al word die kontrak gekanselleer indien die direkteure skuldig bevind word, kan dit volgens Outa te laat wees om die verlies aan betalings op die kontrak te stop.

In die ander geval wil Outa die wettigheid evalueer van ’n ooreenkoms tussen CETA en Grayson Reed wat verband hou met ’n tender van R24 miljoen wat CETA op 22 Junie 2018 aan Grayson Reed toegeken het vir die verskaffing van ’n biometriese stelsel vir leerderbywoningsadministrasie.

Volgens Outa was daar ernstige wanadministrasie en korrupsie by die toekenning van ’n soortgelyke tender wat uiteindelik gekanselleer is, hoewel Grayson Reed betaal is.

Outa sê daar bestaan ’n regeringskultuur van geheimhouding. “Dit wys nie net dat openbare entiteite gereeld weier om inligting wat versoek word, bekend te maak nie, maar ook dat die meeste van hulle, naamlik 75%, nie voldoen aan die vereiste om die Inligtingsreguleerder van statistieke oor hierdie versoeke te voorsien nie.”

Outa sê hulle neem kennis dat die Pretoriase Hooggeregshof verlede week Transnet se toekenning van ’n tender aan Aqua Transport gekanselleer het. In daardie saak het die hof verwys na die negatiewe bevindings teen Aqua en gesê dat die aanstelling van Aqua so onredelik was dat geen redelike persoon so ’n besluit kon geneem het nie.

“Dit is een van die redes waarom Outa toegang wil hê tot die inligting rakende die tender wat Sanral aan Aqua Transport toegeken het. Ons wil die rasionaliteit en redes agter daardie besluit nagaan,” sê Kakaza.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top