OVK sit wiele aan die rol vir volgende jaar se verkiesing

  • 0

Suid-Afrika se Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) se veldtog vir volgende jaar se algemene nasionale en provinsiale verkiesings het Dinsdag amptelik afgeskop.

Aanstaande jaar se verkiesing sal die eerste algemene verkiesing sedert 1994 wees waarin onafhanklike kandidate se name ook op die stembrief ingesluit sal word.

Die OVK se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, het gesê: “Elke vyf jaar val ’n burgerlike plig op die skouers van volwasse Suid-Afrikaners. Dit is ’n plig waarvan die belangrikheid alle ander te bowe gaan.”

Groot moeite gaan van volgende maand af gedoen word om soveel as moontlik stemgeregtigde Suid-Afrikaners vir die verkiesing te registreer. Daar gaan veral groot moeite gedoen word om jongmense ouer as 18 jaar te laat registreer.

Die 2024-verkiesing word allerweë as die belangrikste verskiesing sedert 1994 beskou toe Suid-Afrika ’n demokrasie geword het.

Dit sal die heel eerste keer die afgelope 30 jaar wees dat die ANC ’n wesenlike gevaar loop om by die stembus verslaan te word.

Hoewel die ANC steeds ’n goeie kans het om op nasionale vlak aan bewind te bly, is die kanse groot dat hulle die mag in Gauteng en KZN (KwaZulu-Natal) aan die opposisie kan afstaan. 

Die ANC beheer tans agt van die land se nege provinsies. Die enigste uitsondering is die  Wes-Kaap, wat deur die DA regeer word.

Volgende jaar se verkiesingstema wat ook Dinsdag bekendgestel is, is: “Dis jou demokrasie, neem eienaarskap.”

 

Die datum waarop die verkiesing sal plaasvind, is nog nie vasgestel nie en sal  ingevolge die Grondwet deur president Cyril Ramaphosa geproklameer word. Daar word bespiegel dat dit waarskynlik vroeg in Mei sal wees. Die eerste registrasies sal die naweek van 18 en 19 November plaasvind, terwyl ’n datum vir ’n tweede registrasienaweek nog vasgestel moet word.

Suid-Afrika is meer geneig as ooit om ’n koalisieregering ná volgende jaar se verkiesing te hê, het ’n opname namens The Brenthurst Foundation bevind. Die ANC se steun het volgens die opname gedaal van die 48% wat in November 2022 gemeet is tot net 41% in Oktober vanjaar, met kiesers wat werkloosheid, korrupsie, beurtkrag en misdaad as die land se grootste probleme noem.

Volgens die meningspeiling deur die Brenthurst-groep kan die ANC hom in Gauteng nek aan nek bevind met die Veelpartyhandves, wat in dié stadium uit agt politieke partye bestaan.

Die opname wat tussen September en Oktober vanjaar  onder 1 500 geregistreerde kiesers gedoen is, voorspel dat die ANC se aandeel van die stemme in 2024 selfs tot 37% kan daal.

Dit het ook bevind dat die ANC selfs swakker in KZN kan vaar en tot net 32% van die kiesersaandeel kan daal.

Die opname het bevind dat die Veelpartyhandves, wat die stemme van onder andere die DA, IVP, ActionSA, VF+ en die United Independent Movement kombineer, 36% van die stemme sal kry, wat ’n era van hewige politieke mededinging sal inlui. Sowat 24% van die kiesers het gesê die bekendstelling van die veelpartykoalisie maak hulle meer geneig om vir ’n opposisieparty te stem. Dit dui daarop dat daar beduidende kiesersteun opwaarts kan wees in groter naamherkenning vir die Veelpartyhandves en groter duidelikheid oor sy beleidsfokus en -raamwerk.

Dit is een van verskeie peilings wat voorspel hoe die verkiesings sal verloop, met baie wat daarop dui dat ’n hoë stempersentasie voordelig vir die regerende party kan wees.

Politieke waarnemers is dit egter eens dat die 2024-verkiesing ’n uiters belangrike gebeurtenis is wat ’n keerpunt in die Suid-Afrikaanse politiek kan meebring.

Enige iets kan nog die volgende sewe maand gebeur, en hoewel die meningsopnames en politieke kommentators se voorspellings verskil, is dit in dié stadium duidelik dat die ANC se steun daal. Die party se steun wisse tans tussen 38% en 50% afhangend van na watter opname daar gekyk word. Die steun wat die ANC op hom verenig, sal deurslaggewend wees in volgende jaar se verkiesing.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top