OVK slaggereed vir kiesersregistrasie van miljoene Suid-Afrikaners

  • 0

Die aftelling na Suid-Afrika se 2024 nasionale en provinsiale verkiesing het in alle erns begin. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hulle is meer as gereed vir die komende naweek se kiesersregistrasie.

Die kommissie het Dinsdag die Nasionale Vergadering se portefeuljekomitee oor binnelandse sake ingelig oor sy gereedheid vir die registrasienaweek. Miljoene Suid-Afrikaners sal na verwagting hierdie naweek vir volgende jaar se verkiesings registreer.

Volgens Statistiek Suid-Afrika is daar 14 miljoen ongeregistreerde jeugdiges tussen die ouderdom van 18 en 35 in Suid-Afrika.

Politieke partye is ook fluks aan die werk om stemgeregtigde Suid-Afrikaners aan te moedig om hulle vir die verkiesing te laat registreer, of seker te maak hulle is op die regte plek geregistreer.

Suid-Afrika se 2024-verkiesings moet tussen Mei en Augustus 2024 gehou word. Die presiese datum sal vroeg in 2024 deur die president bekend gemaak word.

Vir die 2024-verkiesing moet kiesers registreer by die stemlokaal vir die stemdistrik waar hulle woon, en stem waar hulle geregistreer is. Kiesers sal nie soos in sommige vorige nasionale verkiesings enige plek kan stem vir die nasionale verkiesing nie.

Die OVK sê daar was sekere uitdagings tydens hulle proeflopie vir die naweek se kiesersregistrasie, onder andere ’n databasis wat nie die verkeer kon hanteer nie. Die meeste probleme is glo nou uitgestryk.

Alle stelsels vir Saterdag en Sondag se kiesersregistrasie behoort volgens die OVK gereed te wees.

Aanstaande jaar se verkiesing word allerweë as ’n waterskeidingsverkiesing beskou. Dit sal die eerste keer sedert die koms van demokrasie 30 jaar gelede wees dat die ANC werklik hard sal moet veg om aan bewind te bly. Die party staar die moontlikheid in die gesig om die mag in minstens twee provinsies te verloor, indien nie ook op nasionale vlak nie.

Dit is veral die provinsiale verkiesings in Gauteng en KwaZulu-Natal waar daar ’n sterk moontlikheid bestaan dat die ANC, wat tans beide provinsies regeer, deur ’n koalisieregering vervang kan word.

Onlangse meningspeilings het getoon dat die ANC se steun sedert die vorige verkiesing landwyd skerp gedaal het. Die party sal hard sal moet werk om selfs op nasionale vlak meer as 50 persent van die stemme op hulle te verenig.

Die OVK se adjunk- uitvoerende hoof, Masego Sheburi, het Dinsdag aan parlementslede gesê dat toetse op alle stelsels uitgevoer is en personeellede geëvalueer is.

Hy sê daar was veral drie breë uitdagings wat hulle in die oefenlopie ervaar het. Een daarvan was dat die databasisse nie die las kon hanteer toe die registrasiestasies oopgemaak het nie, maar die Android-ondersteunde kiesersbestuurstelsel is nou op dreef.

“Ons het al ons kiesersbestuurtoestelle opgegradeer na Android 11, wat die mees onlangse bedryfstelsel is. Daarmee is ons ook in staat om ons toepassings, wat ons self ontwikkel het, te verbeter.”

Die kommissie sê hy sal ’n tweede registrasienaweek aankondig eers nadat die president die datum van die verkiesing afgekondig het.

Alle Suid-Afrikaanse burgers van 16 jaar of ouer kan registreer om te stem, maar om te stem moet jy 18 jaar of ouer wees.

Om te registreer word ’n Suid-Afrikaanse identiteitsdokument, o​óf ’n groen strepieskode-ID-boek, ’n ID-slimkaart, of ’n geldige tydelike ID-sertifikaat benodig

Voornemende kiesers moet die adres verskaf waar hulle woon sodat die OVK hulle in die regte wyk en stemdistrik kan plaas. Geen bewys van adres is nodig nie.

Daar is drie maniere om te registreer of te kontroleer of jou registrasieadres op datum is vir die verkiesing:

As voornemende kiesers nie ’n ID het nie, moet hulle so gou moontlik by Binnelandse Sake om een aansoek doen.

Benewens hul normale werksure sal kantore van Binnelandse Sake op 18 en 19 November van 8 vm tot 5 nm oop wees om met die kiesersregistrasienaweek saam te val.

Om die korrekte stemlokaal te vind, gebruik die OVK-stemlokaalsoek-toepassing by https://maps.elections.org.za/vsfinder.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top