Foto’s: YouTube
Suid-Afrikaanse Twitter-gebruikers was Dinsdag uit die veld geslaan toe die p-woord uit die bloute die gewildste hutsmerk op Twitter was. Dit het behoorlik gegons onder Suid-Afrikaners oor die gebruik van dié woord wat in Nederlands geen wenkbrou sou laat lig nie.
Die hutsmerk #p..s het op Suid-Afrikaanse Twitter “getrend” nadat ’n senior joernalis van Eye Witness News (EWN), Barry Bateman, die EFF-leier, Julius Malema, glo ’n p@*$ genoem het.
Dit was direk nadat die joernalis saam met ander joernaliste ’n impromptu-nuuskonferensie van Malema bygewoon het. Malema het vrae van die joernaliste beantwoord ná ’n gesprek wat hy met die Valke gehad het oor ’n ondersoek waarby hy betrek word.
Tydens die nuuskonferensie het Malema onder andere uitgevaar teen ’n Afrikaanse polisieman wat hom glo wou verhinder het om Winnie Mandela se begrafnis by te woon. Die gesprek het gegaan oor ’n opmerking van Malema dat hy nooit die polisieman (“’n groot wit Afrikanerman”) wat hom na bewering toegang tot die begrafnis wou weier, om verskoning sal vra nie.
Bateman wou by Malema weet of hy die man aangeval het, waarop Malema hom duidelik vererg het. Malema het Bateman kwaai aangegluur en gesê: “As dit ’n aanval was, vat dit. Dit is. Vat dit. Vir Winnie sal ek alles doen. Ek hét toe sy nog geleef het, en sal dit selfs nou nog doen.”
Bateman het Malema daarna uitgevra oor die egtheid van ’n opname wat vermoedelik toon dat Malema die man aanval. Malema het geantwoord hy wens hy hét die man aangeval. “Noudat dit ’n regte kwessie is, wens ek dat ek die regte ding gedoen het, behóórlik. Ek is spyt ek het nie ... ek is nie bang nie, Boet, uniform of geen uniform nie. Afrikaner of geen Afrikaner. Wit of pienk, ek sal beslissend met jou handel.”
Malema het hom daarna van die joernaliste weggedraai en weggestap toe Bateman die gewraakte p-woord binnensmonds mompel. ’n Video van die voorval is daarna op Twitter gedeel en het soos ’n veldbrand versprei.
— Lutendo (@Lutendo88891060) September 10, 2019
EyeWitness News het onvoorwaardelik om verskoning gevra op Twitter vir die taalgebruik van hulle joernalis, Barry Bateman. Die nuusagentskap het in ’n verklaring gesê hulle vereis van hulle verslaggewers dieselfde hoë standaarde as wat hulle van ander verwag. Bateman is dadelik verbied om verder uit te saai hangende ’n ondersoek na die voorval.
Eyewitness News unreservedly apologises to the @EFFSouthAfrica's leader, @Julius_S_Malema, for the foul language used by its reporter, Barry Bateman. https://t.co/UqO0Yq4AvM pic.twitter.com/x6yDj0qO4m
— Eyewitness News (@ewnupdates) September 10, 2019
Die EFF het gesê hulle verwerp EyeWitness News se “louwarm” verskoning en eis dat daar opgetree word teen die joernalis.
EFF Rejects EWN Apology And Demands Concomitant Action. pic.twitter.com/sO7y6NT5dP
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) September 10, 2019
Die voorval het ’n storm op sosiale media ontketen wat daartoe gelei het dat die p-woord die hutsmerk geword het wat die meeste gegons het op Suid-Afrikaanse Twitter. Sommige van die reaksies was baie komies terwyl ander kommentators gemeen het daar is rassisme by die saak betrokke.
Rapport se redakteur, Waldimar Pelser, het op Twitter gesê diegene wat oor hulle voete val om Bateman te veroordeel moet hulleself afvra wie die werklike bedreiging vir vryheid, fundamentele regte en verantwoordbaarheid is. Hy sê Malema het aansien en mag en trek te min vuur op hom, nie te veel nie. “Om Bateman te kruisig sal nooit die tiran tevrede stel nie. Stop dit.” het Pelser getwiet.
Those falling over their feet to condemn @barrybateman should ask themselves who is the real threat to freedom, fundamental rights and accountability. Malema has rank and power and draws too little fire, not too much. Sacrificing Bateman will never appease the tyrant. Stop it.
— Waldimar Pelser (@waldimar) September 11, 2019
Ander deelnemers aan die gesprek op sosiale media het videomateriaal en berigte gedeel waar Malema by vorige geleenthede joernaliste gevloek of beledig het, en was van mening dat hy nie moet kla as hy in eie munt terugbetaal word nie.
Buro: MvH