Die Patriotiese Alliansie (PA) dreig om uit alle koalisies met die ANC te onttrek en selfs uit die RNE te bedank indien die party se omstrede adjunkpresident nie heraangestel word as lid van die uitvoerende komitee vir vervoer in Johannesburg se stadsraad nie.
Die PA het die politieke landskap in Suid-Afrika gister (Woensdag) in beroering gebring met hul dreigement oor Kenny Kunene.
PA-leier Gayton McKenzie het ’n ultimatum van sewe dae gestel vir Kunene se heraanstelling.
[BREAKING NEWS] Patriotic Alliance confirms intention to withdraw from GNU. Leader Gayton Mckenzie to withdraw his party from all coalitions. More details on #eNCA #DStv403 #QuestionThinkAct pic.twitter.com/21isxoL5Wn
— eNCA (@eNCA) September 24, 2025
As die ANC nie daaraan voldoen nie, sal die PA onmiddellik onttrek uit alle samewerkings, insluitend plaaslike munisipaliteite soos Johannesburg, het die party gedreig.
Hierdie stap kan ook McKenzie se posisie in gedrang bring as minister van sport, kuns en kultuur indien sy party uit alle koalisies met die ANC onttrek.
Die krisis het sy oorsprong in Julie 2025, toe Kunene se PA-lidmaatskap opgeskort is ná sy teenwoordigheid by die huis van die omstrede sakeman Katiso “KT” Molefe in Sandton.
Molefe, wat beskuldig word van die orkestrasie van die moord op die DJ Sumbody (Oupa Sefoka) in 2022, asook ander ernstige misdade, was op borgtog vir ’n vorige moordsaak. Kunene was teenwoordig by Molefe se woning om, volgens hom, ’n joernalis van sy eie mediaplatform, Africa News Global, te help met ’n eksklusiewe onderhoud toe die polisie daar opdaag.
Hy het enige persoonlike bande met Molefe ontken en beweer hy het bloot ’n adres gevolg wat aan hom verskaf is.
McKenzie beskou Kunene as ’n “broer” en hy is ook peetpa van sy kinders. Nadat hy Kunene geskors het, het hy gesê dit was die moeilikste besluit van sy lewe. Kunene het daarna bedank as LUR en as raadslid, hangende ’n interne ondersoek deur die prokureursfirma Cliffe Dekker Hofmeyr.
Die verslag wat Maandag vrygestel is, het Kunene vrygespreek. Geen bewyse kon glo sy weergawe weerspreek nie, en die PA sê getuies het dit bevestig. Die ondersoek kon volgens die PA ook geen bande tussen hom en ander omstrede figure soos Vusimuzi “Cat” Matlala vind nie. Met hierdie vryspraak het McKenzie op Facebook aangekondig dat Kunene gereed is om terug te keer.
PA WELCOMES INDEPENDENT INVESTIGATION’S EXONERATION OF DEPUTY PRESIDENT KUNENE #OnsBaizaNie pic.twitter.com/aaWpxmDKNz
— Patriotic Alliance (@OnsBaizaNie) September 24, 2025
Hy sê as Kunene nie binne sewe dae terug in sy posisie is nie, sal elke PA-lid in Johannesburg se munisipaliteit en uit elke PA-koalisie met die ANC onttrek met onmiddellike ingang.
Almal is egter nie beïndruk omdat Kunene, bekend as die “Sushi King”, se party hom vrygespreek het nie. ActionSA het gesê ’n “donker wolk” hang steeds oor hom, terwyl EFF-leier Julius Malema sy storie as “pure leuens” afgemaak het.
Die PA se dreigement strek verder as plaaslike politiek. McKenzie se ministeriële pos gee die party nasionale blootstelling. Bronne binne die party sê volgens mediaberigte is die stap ’n strategie om mag te konsolideer, veral met die 2026- plaaslike verkiesings in sig. Kunene is reeds aangewys as die PA se burgemeesterskandidaat vir Johannesburg, ondanks sy opskorting.
Die publiek is in twee kampe hieroor. Sommige ondersteun die PA se hardkoppigheid en sê dit wys die ANC is nie alleen baas nie, terwyl ander glo McKenzie is besig met magspeletjies om aandag te trek met die oog op volgende jaar se verkiesing.
I highly doubt the leader of the PA , Minidter Gayton McKenzie would take a chance and name Deputy President of the party @Kenny_T_Kunene as mayoral candidate for City of Johannesburg if he was not 100% sure of an independent report done by one of the top law firms in the… pic.twitter.com/MYZrJmj6xJ
— Goolam (@goolammv) September 24, 2025
Die DA het ook Kunene se onskuld bevraagteken, terwyl die ANC nog nie amptelik gereageer het nie.
Ontleders waarsku dat dit die RNE kan destabiliseer as die PA onttrek, omdat koalisies broos is en die PA se stemme in munisipaliteite soos Johannesburg deurslaggewend kan wees as die ANC die mag wil behou.
Die PA se strategie beklemtoon die broosheid van Suid-Afrika se koalisiepolitiek ná 2024, waar kleiner partye soos die PA mag gebruik om toegewings af te dwing.
