Paaie en grensposte fyn dopgehou gedurende Paasnaweek

  • 0

Verkeersowerhede staal hulle vir ’n massiewe toestroming van reisigers op die land se paaie gedurende die Paasnaweek wat môre (Vrydag) begin. Motoriste is gewaarsku teen die oortreding van verkeerswette. Wetstoepassers is aangesê om hul bedrywighede te verskerp om te verseker dat die land se paaie veilig is.

Die regering het ’n beroep op motoriste en voetgangers gedoen om padveiligheid te prioritiseer, aangesien hierdie tydperk geassosieer word met ’n toename in motorongelukke en verwante sterftes.

“Padblokkades sal op alle hoofroetes en binne woongebiede opgestel word om afwykende gedrag aan te spreek deur diegene wat dink dat langnaweke ’n lisensie is om die padreëls te oortree en die nasionale poging om ons paaie veilig te maak te ondermyn,” het die minister van Vervoer, Sindisiwe Chikunga, in ’n verklaring gewaarsku. “Alle hoofroetes sal na verwagting uiters besig wees en ons doen ’n beroep op motoriste om hul reis sorgvuldig te beplan,” het Chikunga gesê.

Die regering het ’n teiken gestel om padsterftes hierdie Paasfees met 15% te verminder.

Verkeersvolumes sal na verwagting reeds vandag (Donderdag) begin toeneem en sal hoog bly tot ongeveer middernag en weer Maandag skerp toeneem.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sê hulle werk ook nou saam met die grensbestuursowerheid om die beskerming van kinders te verseker terwyl hulle gedurende die Paasnaweek oor die grens tussen Suid-Afrika en Zimbabwe beweeg.

Die departement sê hulle is verplig om seker te maak dat alle kinders binne die land se grense die nodige sorg en beskerming kry.

Daar word saam met internasionale organisasies soos Save the Children en Unicef gewerk om seker te maak dat die regte van kinders wat reis, beskerm word.

Die departement sal ook amptenare wat in die direktoraat van mensehandel en slagofferbemagtigingsprogramme werk, na die grense stuur om sake te monitor en te verhoed dat enige persoon verhandel word.

Die N1 na Polokwane, veral die pad na Moria City in Limpopo en na Beitbrug, sal swaar gepolisieer word. Die N3 na Durban en N1 na die Vrystaat, Wes-Kaap, veral Kaapstad na Oos-Kaap, sal na verwagting ook baie besig wees.

In Mpumalanga, op die N4, word daar swaar verkeer verwag, veral in gebiede wat na grenshekke en rondom tolhekke lei.

Chikunga het ’n beroep gedoen op die godsdiensgemeenskap, veral diegene wat na verskillende pelgrimsplekke gaan reis, om te verseker dat die busse en taxi’s wat hulle huur, padwaardig is en geskik is om op die paaie te wees.

“Aandag moet daaraan gegee word om te verseker dat die busse twee bestuurders het wat mekaar tydens die ritte sal aflos om moegheid te voorkom. Openbare voertuie moet ook die nodige permitte hê wat hulle toelaat om buite hul normale roetes te reis. Dit sal help om konflik met ander operateurs en ongerief vir passasiers te vermy wanneer die voertuie deur wetstoepassingsowerhede voorgekeer word,” het die minister gesê.

Sy het gesê die regering is daartoe verbind om prestasie ten opsigte van padveiligheid te verbeter.

Die minister sê hierdie strewe kan net bereik word deur wetstoepassingspogings te integreer en fragmentasie te vermy, gemeenskapsbegrip te verbeter ten opsigte van die faktore wat padslagtings veroorsaak, en die rol van die gemeenskap om dit te verminder.

“Ons waarsku diegene wat die wet in eie hande neem om verkeersreëls te gehoorsaam, anders sal hulle met die volle mag van die wet te doen kry. Die boodskap is eenvoudig dat as jy roekeloos en onverantwoordelik is, jy in die tronk toegesluit sal word. Na ons mening is jy ’n gevaar vir die samelewing as jy dronk bestuur, as jy teen te hoë spoed ry, of ’n voertuig sonder nommerplate of rybewys bestuur,” het die minister gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top