Die Padongelukkefonds (POF), wat verpligte dekking bied aan alle gebruikers van Suid-Afrikaanse paaie teen beserings of dood as gevolg van ongelukke, is glo is in wanorde en laat die slagoffers van padongelukke aan hulleself oor.
Die Prokureursorde van Suid-Afrika (LSSA) sê regspraktisyns moet toustaan by die Sammy Marks-plein in Pretoria om skikkings vir ongelukslagoffers te probeer beding.
Regsliggame soos die Black Lawyers Association en ander blameer die chaos van die Padongelukkefonds op slegte besluite wat deur die direksie geneem is.
Die Prokureursorde sê in ’n verklaring toegang tot geregtigheid vir ongelukslagoffers word vertraag omdat die slagoffers op hul vergoeding moet wag. In die verlede het die POF blokskikkings gefasiliteer, waar regspraktisyns hul lêers kon neem en ’n skikking kon beding. Dit is op ’n gestruktureerde wyse gedoen, met vergaderings wat vir ’n spesifieke datum en tyd geskeduleer is.
Swaargewigte in die regsberoep het nou kragte saamgesnoer om die ministers van vervoer en justisie en korrektiewe dienste te versoek om dringend stappe te doen om wat volgens hulle ’n “noodtoestand” binne die Padongelukkefonds is, op te los. Hulle pleit vir dringende ingryping om die fonds se wiele weer aan die rol te kry.
Die POF se dekking is in die vorm van skadeloosstellingsversekering aan persone wat die ongeluk veroorsaak, sowel as persoonlike besering- en doodsversekering aan slagoffers van motorvoertuigongelukke, en hul gesinne.
Die fonds is verantwoordelik vir die verskaffing van toepaslike dekking aan alle padgebruikers binne die grense van Suid-Afrika, asook rehabilitasie en vergoeding van persone wat as gevolg van motorvoertuie beseer is.
Die DA se skaduminister van vervoer, Chris Hunsinger, sê die DA gaan ’n beroep op die parlementêre portefeuljekomitee oor vervoer se voorsitter, Regina Mina Mpontseng Lesoma, doen om in te gryp.
Hulle wil hê ’n gesamentlike memorandum van verskeie regspersone oor die wanbestuur van die POF moet breedvoerig deur die komitee bespreek word. Die komitee moet uitvoerbare stappe ontwikkel om die kwessies wat uiteengesit is, aan te spreek.
Volgens Hunsinger is die POF tot in die grond in wanbestuur, en dit word bevestig deur die gesamentlike memorandum wat aan die parlement gerig is.
Hy sê die kern van hierdie griewe is die aanstelling van Collins Letsoalo as uitvoerende hoof van die POF, ’n pos wat aansienlike kennis van litigasieprosesse en die Suid-Afrikaanse regsraamwerk vereis. “Tog het Letsoalo, volgens sy eie erkenning, slegs ’n basiese begrip van hierdie kritieke areas.”
Die memorandum wat aan die portefeuljekomitee gestuur is, kritiseer ook die ontbinding van die POF se paneel van prokureurs, wat die POF vir ongeveer ’n jaar sonder regsverteenwoordiging gelaat het.
Die DA sê in ’n verklaring hulle neem kennis van die punte wat geopper is oor die onvoldoende aantal staatsprokureurs en eishanteerders wat tans in diens is.
“Ons deel ook kommer oor die skorsing van ervare eisehanteerders, die ondoeltreffendheid van blokskikkings, die gebrek aan reaksie op korrespondensie en die niefunksionele hulplyn. Hierdie bekommernisse dui na ons mening op ’n groter probleem, naamlik die POF se bestuur.”
Die POF is ook nie in staat om sy finansiële verpligtinge na te kom nie. Regslui word vir die POF se probleme blameer, maar die DA sê dit is ’n ongegronde narratief wat geskep word. “Ons verwerp hierdie ongegronde narratief, wat ons glo openbare vertroue in die regstelsel ondermyn en slagoffers van padongelukke verhinder om die vergoeding te kry wat hulle verdien.”
Die DA sê sy primêre bekommernis bly die welstand en geregtigheid vir die slagoffers van padongelukke.
“Die oplossing van hierdie krisisse verg dringende aandag en daadwerklike optrede. Die DA sal nie toegee totdat die POF in ’n entiteit omskep is wat die belange van Suid-Afrikaanse padongelukslagoffers doeltreffend dien nie.”