Paleisrevolusie tussen Zuma en sy dogter in MK-party

  • 0

Die berig is bygewerk ná plasing, sien onder.

***

’n Paleisrevolusie het in oudpresident Jacob Zuma se MK-party uitgebreek, met sy omstrede dogter Duduzile Zuma-Sambudla wat waarskynlik deur haar pa uit die party geskop gaan word as sy nie haar deuntjie verander nie.

Die jongste twis in Zuma se party volg nadat sy dogter, wat bekend is vir haar omstrede uitlatings op X, uitgevaar het teen die MK-party se sekretaris-generaal, Floyd Shivambu.

Shivambu, wat onderleier van die EFF was, het in Augustus verlede jaar uit die EFF bedank om by die MK-party aan te sluit. Hy is kort daarna, in November, aangestel as sekretaris-generaal van die MK-party. Sy aanstelling is beskou as een wat tot die party se groei sou bydra om meer steun te kry.

Zuma se dogter, wat geen ooghare vir Shivambu het nie, het verskeie skerp twiets oor hom op X geplaas. Sy meen hy is nutteloos en die ergste ding wat met die party gebeur het.

In van haar twiets op X het Zuma-Sambudla vir Shivambu gesê sy is nie bang vir hom nie en hy moet vir sy volgelinge, wat “bloody mafikizolos” is (laatkommers of Johnny-come-latelies), sê om te “f-off”.

In nog ’n twiet sê sy “F you Floyd”.

Dit kom nadat ’n brief, gedateer 8 Februarie, uit die KwaZulu-Natal-streek op sosiale media aan Zuma-Sambudla gesirkuleer is waarin gekla word oor Shivambu se leierskap.

Shivambu het volgens die brief na bewering ’n gebrek aan begrip en bevoegdheid op sekere sleutelgebiede getoon. Volgens sy teenstanders in die party was hy na bewering betrokke by onprofessionele optrede, insluitend die niebetaling van die kiesafdelingpersoneel en huur vir geboue wat as kantore in die provinsie gebruik word.

Zuma-Sambudla sê in een van haar reeks twiets waarin sy teen Shivambu uitvaar dat sy die regte medestigter van die MK-party is.

Indien sy egter gedink het sy het haar pa, wat sy so verafgod, se steun, het sy haar skynbaar misgis. In ’n mediaverklaring wat Dinsdag uitgereik is, het Zuma dit duidelik gemaak dat sy dogter se gedrag nie aanvaarbaar is nie.

In die verklaring, onder Zuma se naam, lees Zuma haar behoorlik die Leviete voor. Hy beveel haar om onvoorwaardelik en in die openbaar vir Shivambu verskoning te vra.

“Die MK-party neem kennis van die onlangse openbare plasings op X wat MK-lid, bevelvoerder Duduzile Zuma, gemaak het. Hierdie plasings is beledigend teenoor die sekretaris-generaal van die MK-party, wat ’n direkte oortreding van die MK-party se dissiplinêre gedragskode uitmaak.”

“Sulke optrede is onaanvaarbaar, verdelend, afbrekend en aanstootlik. Dit ondermyn die beginsels van eenheid, respek en dissipline wat fundamenteel tot die waardes van die MK-party is,” lui die verklaring verder.

Zuma het sy dogter, wat ook ’n MK-parlementslid is, ’n ultimatum gegee om óf om verskoning te vra óf uit die party geskop te word.

“Kommandant Duduzile Zuma moet ’n onvoorwaardelike openbare verskoning aan die sekretaris-generaal, die president, lede, ondersteuners van die MK-party en al die mense van Suid-Afrika rig,” lui die MK-verklaring.

“Versuim om aan hierdie opdrag te voldoen, sal onmiddellike gevolge hê, insluitend die summiere beëindiging van bevelvoerder Duduzile Zuma se lidmaatskap in die MK-party en haar herroeping van alle partyverantwoordelikhede.”

Shivambu het die partyverklaring hertwiet, maar in sy persoonlike hoedanigheid geen reaksie uitgereik nie.

Dit lyk egter nie of Zuma-Sambudla geneë is om gehoor te gee aan die eis dat sy verskoning moet vra nie. Sy het Dinsdag in reaksie hierop op X gesê: “Hulle sal my môre uitskop ... Dit Is Goed Met My Siel. OKSALAYO FLOYD IS NUTTELOOS!!!”

Benewens ’n moontlike dissiplinêre verhoor in haar eie party staar Zuma-Sambudla ook strafregtelike aanklagte in die gesig wat verband hou met die 2021-onrus in KwaZulu-Natal.

Sy moet volgende maand weer in die hof verskyn op aanklagte van terrorisme wat verband hou met die 2021-onrus wat gelei het tot die plundering van besighede en die dood van meer as 300 mense.

Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) was haar plasings op X destyds in reaksie op Jacob Zuma se arrestasie vir die verontagsaming van ’n Konstitusionele Hof-bevel om voor die Zondo-kommissie te verskyn, daarop gemik om die publiek aan te spoor om by gewelddadige betogings betrokke te raak.

Talle MK Party-ondersteuners het verlede maand by die Durbanse landdroshof saamgetrek om steun aan haar te verleen tydens haar eerste hofverskyning.

***

Bygewerk om 10:00: Duduzile Zuma-Sambudla het sedertdien om verskoning gevra dat sy vloekwoorde in haar twiets gebruik het, maar versuim om spesifiek verskoning te vra aan Shivambu vir haar opmerkings wat aan hom gerig was. Haar toekoms in die MK-party is steeds onseker.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top