
Naledi Pandor: (U.S. Department of State, from United States, 14 December 2022, via WikiMedia)
Die voormalige minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Naledi Pandor, het skerp kritiek gelewer op die bou van ’n Afrikaansmedium universiteit deur Akademia.
Sy beskryf die projek as onaanvaarbaar en ’n simptoom van “konserwatiewe liberalisme” wat die ideaal van ’n verenigde, nierassige Suid-Afrika bedreig.
Pandor het haar standpunt bekendgemaak tydens ’n onderhoud met die African Renaissance Podcast, wat Maandag 10 Augustus uitgesaai is. Die gesprek, gelei deur Mbuyiseni Ndlozi, het gefokus op leierskap, onderwys en Suid-Afrika se toekoms. In die gedeelte wat handel oor die bedreiging van “enklaves en liberale konserwatisme” het sy die nuwe Akademia-kampus in Pretoria spesifiek uitgesonder.
Die feit dat ’n universiteit wat beoog om Afrikaansmedium te wees teen honderde miljoene rand gebou word, is iets waaroor omtrent net Jonathan Jansen kommentaar lewer terwyl die res stilbly en maar tevrede is met hulle vryheid, het Pandor gesê.
Pandor het die universiteitsprojek binne ’n groter argument oor “konserwatiewe liberale” geplaas. Volgens haar het hierdie groepe ’n negatiewe siening van swart mense se vermoë om demokrasie te bestuur.
Hulle skep voortdurend bangmaakpraatjies oor stamverdeeldheid, onvermoë en mislukking. Dis praatjies wat bedoel is om mense bang te maak en die oortuiging te versterk dat swart mense nie ’n suksesvolle demokrasie kan bestuur nie, het sy gesê.
Sy het verwys na die verswakking van die ANC wat die vraag laat ontstaan of Suid-Afrika as ’n unie kan bly bestaan.
Ndlozi het aangevoer dat daar slegs twee entiteite is wat Suid-Afrika as ’n unie bymekaar kon hou: apartheid en die ANC. Die verswakking van die ANC het hierdie vraag laat herleef of Suid-Afrika uitmekaar kan val in enklaves, sommige arm en armoedig en ander wat in Eerste Wêreld-rykdom leef.
Pandor sien die bou van ’n Afrikaansmedium universiteit wat deur die gemeenskap gefinansier word, as deel van hierdie enklavedenke. Dit is volgens haar ’n poging om beheer te behou deur parallelle strukture te skep eerder as om ten volle in ’n gedeelde, nierassige samelewing te integreer.
Pandor het ook die sogenaamde laks reaksie van die breër samelewing veroordeel. “Ons neem net dinge as vanselfsprekend aan. Ek is soms bang vir die nonchalante reaksie wat ons op konserwatiewe liberalisme het.”
Voorstanders van Akademia en Afrikaanse organisasies soos Solidariteit verwerp Pandor se kritiek skerp. Hulle argumenteer dat die universiteit met private geld gebou word en nie staatsbefondsing ontvang nie. Volgens hulle beskerm die Grondwet die reg van gemeenskappe om hul eie taal- en kultuurinstellings te stig (artikels 29, 30 en 31).
Hulle wys daarop dat Afrikaans aan die meeste openbare universiteite stelselmatig gemarginaliseer of uitgefaseer is, en dat selfhelp dus noodsaaklik geword het. Die projek word nie as ’n “enklave” of terugkeer na apartheid gesien nie, maar as ’n legitieme poging om gehalte-onderwys in Afrikaans te verseker en ’n kultuurgemeenskap se voortbestaan te beskerm. Kritici van Pandor beskryf haar uitsprake as skynheilig en as ’n aanval op minderheidsregte, veral omdat ander taalgroepe of private instellings nie dieselfde veroordeling ontvang nie.
Akademia is ’n private hoëronderwysinstelling wat deur die vakbond Solidariteit gesteun word. Die nuwe kampus in Pretoria, ongeveer agt kilometer van Solomon Mahlangu-rylaan af op die Boschkop-pad, is in Augustus 2024 aangekondig. Fase een van die projek, ter waarde van sowat R1,8 miljard, moet teen 1 Januarie 2028 voltooi wees. Dit sal ruimte bied vir 5 000 voltydse voorgraadse studente en 1 500 nagraadse studente, met fasiliteite soos ’n studentesentrum, biblioteek, koshuise, personeelhuisvesting, sportfasiliteite en ’n proefplaas vir die Fakulteit Natuurwetenskappe en Landbou.
Pandor se kommentaar kom te midde van voortgesette debatte oor taalregte, transformasie in hoër onderwys en die rol van private instellings in ’n verdeelde samelewing.
Later in die gesprek het sy die ernstige probleme in die openbare onderwysstelsel aangesny – historiese infrastruktuuragterstande, die negatiewe gevolge van die sluiting van onderwyskolleges, probleme met uitkomsgebaseerdeonderwys, lae standaarde in wiskunde en die uitdaging van tienerswangerskap in skole.
Haar opmerkings oor Akademia vorm dus deel van ’n groter waarskuwing dat die projek van 1994 – ’n verenigde, demokratiese en nierassige Suid-Afrika – onder toenemende druk is.
Terwyl sy dit as ’n terugwaartse stap beskou, beklemtoon sy dat die oplossing nie in die oortuiging van ander lê nie, maar in eie rekonstruksie en ontwikkeling. “Ons taak as swart mense is nie om voortdurend wit mense te probeer oortuig dat ons breine het nie. Ons taak is rekonstruksie en ontwikkeling. Dit is waarop ons moet fokus.”
