Paneel kry 13 dae uitstel om Phala Phala-verslag in te dien

  • 0

Opposisiepartye gaan vra dat die parlement vanjaar later as beplan verdaag sodat parlementslede die geleentheid kry om eers die Phala Phala kwessie af te handel.

Dit volg nadat daar uitstel verleen is vir die indiening van die onafhanklike komitee se verslag oor president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-debakel waartydens miljoene rand na bewering op sy wildsplaas geroof is.

Die verslag was veronderstel om vandag (Donderdag 17 November) by die speaker ingedien te word. Die voorsitter van die paneel, oudregter Sandile Ngcobo, het die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, egter vir uitstel gevra.

Volgens Ngcobo het die paneel meer tyd nodig om die verslag te voltooi, gegewe die belangrikheid van die ondersoek en die kompleksiteit daarvan.

Die paneel moet besluit of daar prima facie-bewyse is dat Ramaphosa die wet oortree het in die aangeleentheid rondom die diefstal op sy plaas en of die Nasionale Vergadering ’n mosie van wantroue in hom behoort in te stel.

Die speaker het die versoek toegestaan en die paneel 13 dae uitstel gegee om die verslag in te dien.

Die speaker sê sy stem saam met die paneelvoorsitter oor die belangrikheid van hulle taak vir parlementslede, maar ook vir die mense van Suid-Afrika.

Die speaker het die hoofswepe van politieke partye Woensdag in kennis gestel van haar besluit.

Die DA sê in ’n verklaring hulle sal vandag (Donderdag) tydens die nasionale programmeringskomitee se vergadering vra dat die parlement se program uitgebrei moet word om die verslag te hanteer voordat die parlement verdaag.

Die paneel sal nou op 30 November aan die speaker verslag doen, terwyl die parlement veronderstel was om op 1 Desember te verdaag.

Volgens die DA se hoofsweep, Siviwe Gwarube, kan die saak nie uitgestel word tot volgende jaar nie. Sy sê dit is dringend en daar behoort geen vraagteken oor enige sittende president se kop te hang of hy die wet of sy ampseed oortree het nie.

“Boonop verplig die Nasionale Vergadering se reëls die speaker om die verslag dringend aan die parlement voor te lê.” Die DA sê dit maak bloot sin dat dit dan in die eerste week van Desember gedoen word.

Die DA sê hulle sal ook met ander opposisiepartye in gesprek tree sodat die parlement se program uitgebrei kan word om die kwessie nog vanjaar te bespreek.

“Terwyl die parlement die reëls oor hierdie proses deeglik gevolg het, kan ons nie nou vertragings toelaat wat polities gemotiveer kan wees nie. Ons is ’n aparte arm van die staat; een wat die uitvoerende gesag aanspreeklik hou. Ons moet dit doen, ongeag wie ’n saak het om op te antwoord,” het Gwarube gesê.

Sy sê parlementslede se belang lê in die handhawing van hul grondwetlike verpligting om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep, en hulle sal voortgaan om dit te doen.

Die ANC se integriteitskomitee het hom vroeër gedistansieer van ’n uitgelekte interne verslag oor die Phala Phala-skandaal, terwyl Ramaphosa steeds volhou dat hy niks verkeerd gedoen het nie.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top