Opposisiepartye in die parlement hoop om volgende week die parlement se wiele aan die rol te kry om president Cyril Ramaphosa tot verantwoording te roep om in die openbaar te verduidelik presies wat gebeur het tydens die omstrede diefstal by sy Phala Phala-wildsplaas.
Dit volg nadat die ANC daarin geslaag het om ’n stokkie daarvoor te steek dat die saak reeds dié week bespreek word.
Die President weier sedert die diefstal van miljoene doller op sy wildsplaas enige versoek om die omstandighede daaroor in die openbaar te verduidelik en om enige vrae daaroor te beantwoord.
Die debat waarin die DA vra vir die aanstelling van ’n ad hoc-komitee om die kwessie te ondersoek was oorspronklik vir Donderdag in die parlement geskeduleer. Die ANC het Woensdag ter elfder ure aangedui dat die DA se mosie uit Donderdag se ordelys weggelaat word. Hulle beweer daar is te min tyd aan ander politieke partye gegee om daarvoor voor te berei.
Die DA het die ondersteuning van die EFF, die ACDP (African Christian Democratic Party), IVP (Inkatha Vryheidsparty) en ATM (African Transformation Movement) gehad dat die mosie wel Donderdag ter tafel gelê sou word. Die ANC het egter die parlementêre reëls gebruik om te verhoed dat dit nog dié week bespreek word.
Die DA kon wel Donderdag met die steun van ander opposisiepartye daarin slaag om weer volgende week ’n geleentheid te kry om die mosie ter tafel te lê.
Die DA het Donderdag in ’n verklaring gesê die jongste gebeure is nog ’n voorbeeld van die ANC se blatante pogings om die parlement se grondwetlike verantwoordelikhede te omseil om die regering en president Ramaphosa aanspreeklik te hou.
Volgens die DA het die ANC se poging om die mosie te kelder en heeltemal van die ordelys te probeer verwyder nie die Nasionale Vergadering se reëls in ag geneem nie.
Tydens Donderdag se vergadering van die Nasionale Vergadering se programkomitee het die speaker, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, opdrag gegee dat die mosie nou volgende week op die ordelys geplaas word.
Die DA sê hulle beskou dit as ’n oorwinning vir aanspreeklikheid in soverre dit die rol van die parlement is om die President en verskeie staatsinstellings aanspreeklik te hou vir die beweerde diefstal en misbruik van staatshulpbronne by Ramaphosa se wildsplaas.
“Ons is gereed vir volgende week se debat, en sal alle politieke partye wat in die parlement verteenwoordig word, se steun probeer wen om ons oproep te ondersteun dat hierdie ad hoc-komitee aangestel word.”
Indien die debat wel volgende week plaasvind, sal die Nasionale Vergadering moet stem oor die aanstelling van die ad hoc-komitee en kan die ANC steeds ’n stok in die wiel steek.
Die DA sê daar moet onthou word dat daar nie net besluit moet word of die President in ’n staat van beskuldiging geplaas moet word nie. Die parlement kan ook ander staatsinstellings wat by hierdie sage betrek word, ondersoek.
Die amptelike opposisie se hoofsweep, Siviwe Gwarube, sê daar is ministers en staatsinstellings wat heelwat het om in die parlement te verduidelik.
“Dit is ’n ernstige grondwetlike verpligting wat die parlement nie kan nalaat soos tydens staatskaping nie. Behalwe partybelange gaan dit oor aanspreeklikheid en die versterking van die rol van die parlement in sake van nasionale belang,” het Gwarube gesê.
Die parlement is in die verlede dikwels gekritiseer omdat hy nie sy grondwetlike verpligtinge nagekom het nie. Gwarube sê hulle sal nie toelaat dat dit weer gebeur nie.