Parlement hou minister verantwoordelik vir gesloer met COVID-19-entstof

  • 0

Terwyl die aantal COVID-19-gevalle in Suid-Afrika die hoogte inskiet en die regering aanhou sloer om ’n entstof beskikbaar te stel, waarsku kenners duisende mense in die land kan onnodig sterf as gevolg daarvan.

Opposisiepartye het hulle ernstige besorgdheid uitgespreek met die regering se hantering van die pandemie.

Die Vryheidsfront Plus het die parlement se portefeuljekomitee vir gesondheid vroeër die week in ’n verklaring versoek om dringend met die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, te vergader oor probleme rondom entstowwe en hospitale. Die party sê daar kan nie gewag word tot die middel van hierdie maand om hieroor te praat nie.

Die DA het ook in ’n verklaring duidelikheid geëis oor die proses wat die regering volg om ’n entstof beskikbaar te stel. Volgens die DA laat die huidige proses wat die regering volg, ernstige vrae ontstaan.

’n Dringende sitting van die gesondheidskomitee is Donderdag byeengeroep na aanleiding van die kritiek oor die regering se metodes om die virus te beveg

Mkhize het die publiek Donderdag die versekering gegee dat die regering op koers is met sy planne om ’n entstof beskikbaar te stel en gesê dit sal in fases geskied. Hy sê die regering fokus op die bes moontlike manier om die situasie te hanteer.

Mkhize sê sy departement beraadslaag met verskeie vennote wêreldwyd om die beskikbaarstelling van ’n entstof teen die middel van die jaar moontlik te maak. Hy sê daar is op twee benaderings ooreengekom, naamlik om saam met ander lande veilige en bekostigbare entstowwe te bekom en om bilaterale ooreenkomste te sluit waar lande tot die fondse bygedra het.

Die VF Plus sê hulle is bekommerd oor die breekspul wat volgens mediaberigte in mediese geledere dreig oor Suid-Afrika se inentingsplanne. “Dit kan allermins in hierdie stadium bekostig word en moet ten alle koste vermy word ter wille van menselewens en die toekoms van Suid-Afrika.”

Kommunikasiegapings is volgens die VF Plus tans aan die orde van die dag van ministerie-kant. Hulle sê die portefeuljekomitee vir gesondheid sal dringend met die ministerie moet vergader om hierdie probleem op te los.

“Dit sal daartoe bydra dat korrekte inligting rakende die verkryging van die entstof asook die huidige stand van hospitale en gesondheidswerkers in die land aan Suid-Afrikaners deurgegee kan word.”

Vir die portefeuljekomitee om te wag tot middel-Januarie 2021 vir die parlement se program om af te skop vir die jaar, gaan te laat wees, aangesien daar reeds ’n krisis is wat dringend beheer en bestuur moet word, sê die VF Plus se hoofwoordvoerder van gesondheid, Philip van Staden.

Van Staden sê die portefeuljekomitee vir gesondheid moet te alle tye ingelig word van die stand van sake sodat lede van die parlement hul oorsigrol kan vervul en doeltreffend met kiesers kan kommunikeer.

Parlementslede wat op hierdie komitee dien, is tans self in die duister oor verskeie aspekte en die vergadering moet volgens hulle daarom dringend plaasvind.

Suid-Afrika het die afgelope week rekordgetalle nuwe COVID-19-gevalle aangemeld.

Tydens Donderdag se vergadering het die Minister aangekondig dat Suid-Afrika nog dié maand een miljoen dosisse entstof uit Indië gaan kry.

Gesondheidswerkers sal voor in die tou wees om die entstof te ontvang wanneer dit toegedien word, het Mkhize gesê. Daar is ongeveer 1,25 miljoen gesondheidswerkers in Suid-Afrika.

Die Minister het in ’n verklaring verduidelik hoe die regering te werk sal gaan om die entstof onder Suid-Afrikaners te versprei. Hy het die publiek gemaan om kalm te bly en sê die regering bly daartoe verbind om lewens te beskerm.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top