Die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa) het vir die vierde agtereenvolgende jaar bevind dat Suid-Afrika se parlement ’n mislukte instelling is.
Outa het hulle jaarverslag oor parlementêre toesig Maandag vrygestel.
Elkeen van die organisasie se vorige verslae was sterk krities oor die versuim deur LP’s om die regering, naamlik die ministers in die kabinet, en die President tot verantwoording te roep.
Ten spyte van die regering se beweerde teenkanting teen die erosie van staatsinstellings as gevolg van staatskaping was daar volgens die verslag geen noemenswaardige verbetering in aanspreeklikheid deur die parlement nie.
Outa se omvattende verslag, Kicking the can down the road: OUTA 2022 Report on Parliamentary Oversight in South Africa, wat handel oor parlementêre toesig in Suid-Afrika, is saamgestel deur Outa se parlementêre-betrokkenheid-kantoor en dek die tydperk Julie 2021 tot Junie 2022. Dit is die vierde verslag in Outa se jaarlikse reeks verslae oor parlementêre toesig.
READ: #OUTA's 4th annual report on #ParliamentaryOversight AGAIN finds that our MPs fail to watch over the ministers and our money properly.
Parliament is still a failed institution, finds OUTA report. https://t.co/8r25abXQj3— OUTA (@OUTASA) October 17, 2022
Die verslag fokus op die Nasionale Vergadering in die parlement en die portefeuljekomitees wat deur parlementslede bedryf word en wat verantwoordelik is vir toesig oor die uitvoerende gesag en die regering.
Outa het die werk van 10 van hierdie komitees beoordeel. Die organisasie sê in hulle verslag daar was plek-plek tekens van goeie werk, maar in die geheel was daar te veel teleurstellings.
“Ons het gevind dat die parlement vasgevang is in die nasleep van staatskaping en nie in staat is nie, of onwillig is, om die uitvoerende gesag tot verantwoording te roep wanneer daar gereeld begrotings goedgekeur word, ten spyte van flagrante finansiële wanbestuur.”
Hulle sê in ’n verklaring die parlement gaan eenvoudig voort om die hele proses van openbare deelname voordat daar belangrike besluite geneem word, slegs as ’n “regmerkie-oefening” te beskou.
Die verantwoordelikheid om die nodige veranderings aan te beveel en te implementeer, word nie nagekom nie, omdat partybelange gedien word.
Outa sê daar word meer verwag van die land se parlementariërs, wat in hul ampseed belowe om “die Grondwet en alle ander wette van die Republiek te gehoorsaam, te respekteer en te handhaaf”, en wie se taak in die Grondwet uiteengesit word as een van “ondersoek en toesig oor uitvoerende optrede”.
In 2019 wou Outa in hulle verslag weet waarom niepresterende parlementslede steeds op partylyste vir verkiesing verskyn.
In 2020 het hulle opgemerk dat die huidige politieke stelsel blykbaar onetiese gedrag beloon, met voormalige ministers wat na bewering betrokke is by staatskaping en ministeriële posisies verloor, maar deur mede-LP’s tot magtige posisies as komiteevoorsitters bevorder word.
In verlede jaar se verslag het hulle gesê dit is moeilik om die persepsie te vermy dat die parlement uitgekalwe is en vol onetiese mense is. Alvorens hierdie kwessie aangespreek word, kan die land volgens Outa geen werklike aanspreeklikheid verwag nie.
Hierdie jaar waarsku hulle dat indien die land se demokrasie wil voortbestaan, daar etiese, hardwerkende parlementslede nodig is wat sal opstaan teen korrupsie en in die openbare belang sal optree.
“Ons het nie genoeg van hulle nie. Ons moedig ook die publiek aan om meer aktief te wees, om betrokke te raak by die parlementêre prosedures en daarop aan te dring dat hulle stemme gehoor word. Ons het aktiewe burgers nodig om ons demokrasie te verdedig.”
Die verslag bevat aanbevelings om die parlement se oorsigrol oor die uitvoerende gesag en die regering te versterk.
Outa sê hulle sien hierdie verslag as deel van die versterking van die land se parlementêre demokrasie om aan die regte wat in die Grondwet verskans is, reg te laat geskied.
Die organisasie sê hulle sien daarna uit om verder met die parlement te skakel. Die parlement is ’n noodsaaklike hoeksteen van ’n demokrasie. Dit is slegs deur konstruktiewe betrokkenheid dat die burgerlike samelewing verantwoordbaarheid van die regering kan eis en daarop kan aandring.