Die parlement het aangekondig dat hy sy werk hierdie week sal afsluit met die oog op 29 Mei se verkiesing, met albei huise wat nog verskeie stukke wetgewing, komiteeverslae en afskeidstoesprake van lede moet oorweeg.
Luidens ’n verklaring wat deur die parlement vrygestel is, sal die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) Dinsdag om 09:00 die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (Bela) oorweeg.
Dit beteken dat daar slegs twee dae oor is vir die Nasionale Vergadering om die wet goed te keur voordat die parlement ontbind indien die NRP dit vandag (Dinsdag) finaal sou goedkeur.
HAPPENING IN PARLIAMENT THIS WEEK#ThisWeekInParliament pic.twitter.com/yRbxNpGmn1
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) May 13, 2024
Verskeie politieke partye en burgerlike organisasies het reeds aangedui dat hulle die wet in die howe sal betwis indien dit goedgekeur word.
AfriForum sê die feit dat agt van die land se nege provinsiale wetgewers die groen lig gegee het vir Bela, verbaas hulle nie, aangesien dit volgens hulle in ooreenstemming is met die ANC se meedoënlose poging om die wetsontwerp deurgevoer te kry.
Die gewysigde weergawe wat vroeër die maand goedgekeur is, word steeds deur AfriForum as ’n poging tot kulturele etniese suiwering beskou, aangesien dit volgens dié organisasie die “vernietiging van ’n linguistiese en kulturele gemeenskap se skole moontlik sal maak” en sodoende die groep se toekomstige kulturele bestaan in gevaar stel.
“Solank provinsiale onderwyshoofde finale besluite oor skole se taal- en toelatingsbeleide kan neem, is die deur oop om enkelmedium- Afrikaanse skole na dubbel- of parallelmediumskole te verander. Dat konsultasie oor sulke veranderings met skole se beheerliggame moet plaasvind, is niksseggend. Konsultasie oor Bela vind reeds sedert 2017 plaas en die publiek het herhaaldelik hul teenkanting teen aspekte daarvan duidelik gemaak. Nietemin is die omstrede kwessies steeds deel van die wetsontwerp, wat bewys dat konsultasie dikwels net ’n kosmetiese stap is wat gedoen moet word voordat die ANC-regering in elk geval doen wat hy wil,” sê Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake.
Wanneer die wet deur die NRP goedgekeur is, moet dit eers deur die Nasionale Vergadering goedgekeur word voordat president Cyril Ramaphosa dit kan onderteken om dit amptelik wet te maak.
Daar kan verwag word dat opposisiepartye wat teen die wet gekant is, alles in hulle vermoë sal doen om te probeer keer dat die wet hierdie week deur albei huise van die parlement goedgekeur word.
Beide huise sal Donderdag afsluit met lede se afskeidstoesprake voor die nasionale en provinsiale verkiesings op 29 Mei.
Sowat sewe komiteevergaderings word vir vandeesweek beplan om onder meer die verslag van die Wysigingswetsontwerp op Pensioenfondse en die Wysigingswetsontwerp op Algemene Intelligensiewette te oorweeg.
Intussen sal daar binnekort aan die werk gespring word om te begin met die herstel van die parlement wat in 2022 in ’n brand verwoes is.
Verlede week het die parlement se amptenare dele van die Nasionale Vergadering en die ou Volksraad se geboue wat in 2022 in ’n brand verwoes is, aan slopingskontrakteurs oorhandig om met die projek te begin om die historiese gebou te herbou.
Die aanvanklike fase van die projek sal die sloping van struktureel onveilige dele van die gebou behels, wat as die “rooi sone” aangewys is weens hul onstabiliteit en gekompromitteerde veiligheid.
Die sloping van hierdie strukture vereis gespesialiseerde kundigheid en masjinerie, veral gegewe die historiese en erfenisbelang van die gebou.
Die beskadigde dele van die geboue sal vandeesmaand skoongemaak word sodat daar teen Augustus met rehabilitasiewerk begin kan word, het die parlement gesê.
Die koste van die reuse herbouingsprojek kan na raming soveel as R3 miljard beloop. Die sekretaris van die parlement, Xolile George, het gesê die finale prysetiket sal bekend wees eers wanneer die hoofkontrakteur die ontwerpwerk oorweeg het.
“Dit kan dalk R2 miljard wees, dit kan R2,1 miljard wees – wat die koste ook al is, ek wil dit nie begin vooruitloop nie.”
Die nuwe geboue sal na verwagting teen Februarie 2026 gereed wees vir gebruik.