Parlement se veiligheid onder die loep

  • 0

Die veiligheid van Suid-Afrika se parlement is volgens die vakbond Nehawu onder beheer van ’n veiligheidshoof wat voortgaan om die een veiligheidsblabs na die ander te maak.

Die parlementêre beskermingsdienste se versoeke vir doeltreffender veiligheidstelsels en toerusting in die parlement word volgens die vakbond geïgnoreer.

Nehawu se skerp kritiek op die veiligheidsituasie in die parlement volg op die insident verlede Vrydag toe ’n parlementêre beampte homself in die parlementsgebou doodgeskiet het.

Verskeie ander mense het ook ernstige vrae gehad oor die toegangsprosedures by die parlement, wat ’n nasionale sleutelpunt is.

Die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, Francois Beukman, het gesê die voorval beklemtoon die gebrek aan voldoende veiligheidsbeheer wat by die parlement toegepas word.

Die skietvoorval het plaasgevind terwyl die minister van Landbou, Bosbou en Seevisserye, Senzeni Zokwana, besig was om ’n toespraak in die aangrensende Marksgebou te hou.

Nehawu sê in ’n verklaring hulle is bekommerd oor die veiligheid van hulle lede wat by die parlement werksaam is. Die vakbond verteenwoordig meer as 1 000 parlementêre werkers.

Volgens een van Nehawu se takvoorsitters, Sthembiso Tembe, word die werkers wat by die parlement diens doen se veiligheid in die hande geplaas van iemand wat niks van veiligheid af weet nie.

Hy sê Nehawu se lede by die parlement dring reeds geruime tyd aan op die verbetering van veiligheidstelsels en ander toerusting in die parlement, maar dat hul versoeke telkens op dowe ore val omdat die parlement sy veiligheid toevertrou aan iemand “wat niks van veiligheid weet nie”.

Die waarnemende veiligheidshoof is meer as twee jaar gelede aangestel na die skorsing van die vorige veiligheidshoof.

Daar het glo reeds vier inbrake by die parlement voorgekom in die waarnemende veiligheidshoof se termyn. Een daarvan was in die Marksgebou, twee in die gebou wat die Nasionale Raad van Provinsies huisves, en een in die gebou bekend as Pleinstraat 90.

’n Vergadering gaan deur die voorsitter van die portefeuljekomitee oor polisie, Francois Beukman, aangevra word om die kommer oor die parlementêre veiligheid te bespreek.

Die ANC het ook sy skok uitgespreek oor verlede week se skietvoorval by die parlement waartydens die 57-jarige middelvlakbestuurder homself geskiet het.

Die organisasie sê in ’n verklaring die voorval wek ernstige kommer oor die parlement se veiligheidsmaatreëls en in besonder hoe dit moontlik was vir iemand om ’n vuurwapen in die parlementêre terrein in te bring sonder dat dit deur die sekuriteitsbeamptes opgemerk is. Die ANC sê die saak sal ondersoek word om seker te maak dat so iets nie weer gebeur nie.   

Die DA se hoofsweep, John Steenhuisen, en die SAKP het ook hulle skok uitgespreek oor die voorval verlede Vrydag.

Die bestuurder wat sy eie lewe geneem het, is na verneem word enkele dae voordat sy vyfjaarkontrak verstryk het, ingelig dat dit nie hernu gaan word nie, berig Netwerk24.

Nehawu het voorgestel dat amptenare die kans kry om vertoë tot ’n paneel senior bestuurders te rig oor waarom hulle kontrakte hernu behoort te word, in plaas daarvan om die besluit aan ’n toesighouer oor te laat wat volgens die vakbond dalk wil afreken met ’n persoon of slegs hulle mag wil misbruik.

Die prosedure behoort volgens die vakbond minstens ses maande voordat die kontraktermyn ten einde loop, gevolg te word. Hulle sê dit sal die bestuurder genoeg tyd gee om ander werk te soek indien nodig.

Die Burger berig dat die parlementêre woordvoerder, Moloto Mothapo, se selfoon afgeskakel was toe die koerant hom vir kommentaar genader het en dat hy ook nie op e-pos-boodskappe reageer het nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top